Kuba: SA se grootste kameraad

(Foto: Yamil LAGE/AFP)

Onlangs in die nuus het die ANC-regime se besonderse liefde vir die kommunistiese staat Kuba weer opgeval. Dis nie net oor die Kubaanse personeel wat in Suid-Afrika “ontplooi” is nie, maar ook oor die vermorsing van miljoene rande deur die SA Nasionale Weermag op ongeregistreerde Kubaanse medisyne, asook President Cyril Ramaphosa wat glo dat die Kubaanse Mediese Brigade die Nobelprys vir Vrede verdien.

Ideologiese vriende

Om die waarheid te sê, indien Suid-Afrika se buitelandse beleid en samewerking sedert die ANC-oorname in 1994 bestudeer word, kan ons onomwonde verklaar dat twee lande seker SA se grootste vriende in hierdie tyd geword het: Kuba en China.

In hierdie tydperk, het letterlik honderde afvaardigings van omtrent al Suid-Afrika se departemente, provinsiale regerings en selfs etlike munisipaliteite Kuba besoek om ooreenkomste te sluit en beloftes te maak oor samewerking met Kuba. Natuurlik ook om te “leer” by die Kubane – honderde amptenare word jaarliks deur Kuba opgelei. Dis natuurlik dieselfde Kubane wat al vir meer as 60 jaar deur ’n oneffektiewe kommunistiese eenparty-diktatuur beheer word. Die koste van hierdie besoeke en opleiding sal ons seker nooit weet nie, maar dit beloop minstens miljarde rande.

Mislukte kommunisme

(Foto: Yamil LAGE/AFP)

Daar word gereeld deur Kubaanse apologete opgedis dat Kuba se mense baie goeie onderrig ontvang en dat die land ongekende hoeveelhede dokters en ingenieurs lewer, van wie baie dan ook die wêreld ingestuur word om hul kamerade te ondersteun wat weens Westerse imperialisme ly. Die verval van die Kubaanse ekonomie weens hul kommunistiese beleid word toegeskryf aan Amerikaanse sanksies. Kuba het wel ’n klompie maatreëls sedert 2011 ingestel om die ekonomie effens “oop” te maak en te probeer om buitelandse investering te kry, maar behalwe vir die toerismebedryf in Kuba wat gegroei het, werk dit nie juis nie.

Van ekonomiese groei is daar nie veel sprake nie. Kuba word oordonder deur staatsbeheerde ondernemings wat maar ’n mislukking is, soos dit gewoonlik met staatsbeheerde ekonomieë gaan. Ná die dood van die Kubaanse diktator, Fidel Castro (wat vir jare lank regeer het), in 2016, het daar wel verdere hervormings plaasgevind en hul Grondwet van 2019 laat selfs beperkte privaat grondbesit toe. Nietemin is die meeste burgers afhanklik van die staat vir behuising, kostoelaes, onderwys en mediese dienste.

Dus, ’n treurige spul wat uiteraard die groot vriende van die ANC-regering is. Die vriendskap met Kuba is natuurlik gebore uit ondersteuning deur die Kubaanse regering van die ANC in sy stryd teen die voormalige wit Suid-Afrikaanse regering en ook deur Kuba se jare lange betrokkenheid in die Angolese Burgeroorlog, wat eintlik maar ’n Koue Oorlog-konflik was waarin Kuba die Sowjetunie se handperd was en Suid-Afrika die Weste se belange beskerm het.

Die Grensoorlog

Kuba se opofferinge tydens die Grensoorlog kan nie gering geskat word nie. Die Kubane het die Angolese MPLA-regering staande gehou en die oorlog teen die Suid-Afrikaans-gesteunde Unita-rebelle aan die gang gehou. Teen 1988 was daar ongeveer 60 000 Kubaanse troepe in Angola asook 1 000 Kubaanse tenks en ’n klomp MiG-vegvliegtuie wat Suid-Afrika se ouer Mirage-vegvliegtuie tegnologies oorskadu het en die SA Lugmag se vlerke in Angola geknip het.

Wat ook al u siening is oor die Kubane se gevegte teen die SA Weermag in Angola, hulle het ’n groot rol gespeel om die kommuniste in Angola aan bewind te hou en Namibië se onafhanklikheid onder ’n Swapo-bewind te verseker.

Nieteenstaande die ideologiese ooreenkomste, het die ANC nie juis ’n rol gespeel in die Grensoorlog nie, maar uiteraard het Kuba nog altyd ’n groot rol gespeel om die ANC te ondersteun. Met Nelson Mandela se inhuldiging as president in Mei 1994, het Kuba vinnig gespeel om diplomatieke betrekkinge met SA aan te knoop, en sedertdien kan Kuba sekerlik as een van Suid-Afrika se primêre bondgenote beskou word.

Castro het soveel vir Suid-Afrika beteken, dat hy in 2009 die hoogste orde ontvang het wat aan staatshoofde deur die SA regering gegee word, naamlik die Orde van die Metgeselle van O.R. Tambo, terwyl presidente Mandela, Thabo Mbeki en Jacob Zuma almal die hoogste Kubaanse orde, die Orde van José Martí, ontvang het.

Suid-Afrika heg verder soveel waarde aan die Kubane se stryd teen apartheid en kolonialisme, dat 2 300 Kubane wat in Afrika gesneuwel het, se name by die herinneringsmuur by die Vryheidspark in Pretoria aangebring is. Terloops, geen gesneuwelde SAW-troepe se name is daar aangebring nie.

Mediese samewerking

Medici van Kuba kom in Suid-Afrika aan (27 April 2020) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Kuba het in 1997 begin om gesondheidswerkers na Suid-Afrika se stuur as ’n gebaar van die strategiese samewerking tussen die twee lande. Later is SA studente ook na Kuba gestuur vir opleiding as dokters – daar word jaarliks minstens 100 nuwe dokters in Kuba opgelei. Die program staan bekend as die Nelson Mandela/Fidel Castro-mediese opleidingsprogram. Dit is egter nie duidelik wat die finansiële implikasies vir die opleiding is en hoeveel aan die Kubaanse gesondheidswerkers in SA betaal word nie.

Wat ons wel weet, is dat met die jongste groep van 217 Kubaanse gesondheidswerkers wat in April 2020 in SA aangekom het om te help in die stryd teen Covid-19, die media berig het dat hulle Suid-Afrika tussen R240 en R450 miljoen uit die sak jaag. Die groep bestaan uit, onder andere, dokters, epidemioloë, ingenieurs in gesondheidsorgtegnologie, biotegnologiese kundiges en ander kundiges. Na bewering word slegs ’n fraksie (10-25%) daarvan aan die medici as salarisse betaal en die res word direk aan die Kubaanse regering oorbetaal.

Die SA studente wat in Kuba opgelei word, kla gereeld oor swak kos, swak blyplekke, ensovoorts en dring aan op groter toelae van die SA regering. Ander probleme wat ondervind word, is dat die Kubaanse dokters nie Engels magtig is nie, terwyl die SA studente eers ’n Spaanse kursus moet voltooi voordat hulle opleiding kan ontvang.

Kamerade

Medici van Kuba kom in Suid-Afrika aan (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die sosialistiese kameraadskap is egter nie net tot die mediese veld beperk nie. Daar is meer as 30 bilaterale ooreenkomste tussen SA en Kuba, onder meer wetenskap en tegnologie, landbou, behuising, openbare werke, infrastruktuur, waterhulpbronbestuur, sanitasie en onderwys. Wat presies hieruit voortvloei, is nie duidelik nie, maar wat wel duidelik is, is dat dit die SA belastingbetaler reeds jare lank ’n allemintige klomp geld kos om die kameraadskap met Kuba lewend te hou.

In 2015 is daar twee keer dosyne Kubaanse ingenieurs (sonder die nodige internasionale akkreditasie) ingevoer, om te help om die water- en sanitasieprobleme van die SA regering te probeer oplos. Dit, terwyl tientalle hoogs opgeleide en bekwame gekwalifiseerde Suid-Afrikaners sonder werk sit. Die meeste Kubaanse ingenieurs is in die Vrystaat ontplooi en is blykbaar steeds daar werksaam. Niemand weet presies wat hul taak behels nie, maar ernstige water- en sanitasieprobleme is steeds onopgelos. Terselfdertyd het Genl. Solly Shoke, die weermaghoof, in 2015 altesaam 150 tegnici van Kuba na SA gebring om ’n klomp geroeste, onpadwaardige ou weermagvoertuie te probeer herstel; weer eens sonder sukses, maar teen hoë koste.

As kersie op die koek het Ace Magashule in 2017, toe nog die premier van die Vrystaat, ’n enorme standbeeld van Castro voor die provinsiale regeringsgebou in Bloemfontein laat oprig.

Die grootste bewys van Suid-Afrika se Kubaanse manie, is toe Suid-Afrika se belastingbetalers in 2014 ’n hulppakket (deur die regering) van R350 miljoen aan Kuba beskikbaar gestel het, oënskynlik veral om die diktatuur se landbousektor by te staan en handelsbande te versterk. In daardie stadium was Kuba geweldig onder druk en “ons” het dus net skuld afbetaal vir die jare lange vriendskap.

Verdere onlangse tasbare bewyse van die goeie betrekkinge is die aanstuur van persoonlike beskermende toerusting (PBT) na Kuba in April 2020, toe daar ’n algemene tekort aan sulke toerusting in SA was; die aankoop in Augustus 2020 van ’n middel, Heberon Alfa R-2B (ook bekend as interferon alfa 2b), uit Kuba deur die SA Nasionale Weermag. Sowat 840 000 dosisse van die middel, wat kwansuis proteïene produseer wat die liggaam teen Covid-19 virusse beskerm, is aangekoop teen ongeveer R215 miljoen sonder die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra).

Les bes, president Ramaphosa het in Februarie 2021 aangekondig dat Suid-Afrika die Kubaanse Mediese Brigade vir die Nobelprys vir Vrede gaan benoem vir hul werk tydens die Covid-19 uitbreking. Dit het verskeie plaaslike gesondheidswerkers aan hul koffie laat stik, want die Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers se bydrae word dus as minderwaardig teenoor die Kubane se hulp beskou.

Belastinggeld

Argieffoto

Dit is duidelik dat Suid-Afrika, ten volle gesteun deur die ANC-regime, Kuba se melkkoei geword het. Uit bogenoemde bilaterale samewerking kan ’n paar afleidings gemaak word:

Eerstens, dat Suid-Afrika se grootste ideologiese vriend ongetwyfeld die Kubaanse kommunistiese diktatuur is, tans onder die beheer van die Kubaanse president Miguel Díaz-Canel.

Tweedens, dat die ANC-regering Kuba as ’n model beskou vir hoe ’n land moet funksioneer. Die gevolge hiervan is reeds jare duidelik weens SA se toenemende verval.

Derdens kan daar wel meriete wees in die opleiding van SA mediese studente in Kuba, maar dit wil voorkom of dit eerder ’n manier is om Kuba van finansiële hulp te voorsien. Ditto met die verskaffing van Kubaanse dokters en ingenieurs aan SA.

Vierdens is die SA regering lustig besig om belastinggeld aan die Kubane te bied deur finansiële hulp, direkte hulpverlening, opleiding deur die Kubane of die aankoop van substandaard produkte soos gedoen deur die weermag.

Met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sias

Wat ‘n grap!

annie

Hoeveel geld word in Kuba weggesteek sodat geen haan daarna sal kraai nie… maar dit kos en dis nie mieliegruis nie…

Snowball

So gaan ons huppel-huppel, hand aan hand met die kommuniste in die paadjie af, totdat ons, soos hulle net ‘n mishoop is.
Is dit rassisties om te sê ek verlang met my hele hart na die ou SA en ek mis die Oranje Blanje Blou – hierdie nuwe SA is net een groot walglike mislukking.

MakersMark

Die ANC het maar ‘n manier om met die muishond lande van die wêreld te heul. Soort soek maar soort.

Elize

En intussen sit die Kubane en lag vir hierdie onnoselle kaders wat net hulle melkkoeie geword het. ‘n Kommunis verander nooit in denke nie en word net erger.