Lesse van Afrikaner- ekonomiese bemagtiging

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Die wydverspreide armoede en staatsverval ná ’n kwarteeu van ANC-bewind laat vrae ontstaan oor hoe Afrikaners die armblankevraagstuk van die 1930’s bykans binne een geslag opgelos het. Baie van hierdie oplossings kan nou weer toegepas word om die huidige ekonomiese krisis te oorkom.

Afrikaners se destydse wegspringplek word treffend deur die Britse prof. David Welsh in sy boek, The Rise and Fall of Apartheid beskryf: “After 1902 the Afrikaners of the defeated republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”

Die Marxistiese historikus, Dan O’Meara skryf oor die uitdagings wat Afrikaners te bowe moes kom in sy boek, Volkskapitalisme: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. The economy was dominated by ‘imperialist’ interests. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of a conqueror – and virtual total acceptance of the structure of values dominant in the economy.”

Die Afrikaner se herrysenis uit die Britse verskroeideaardebeleid na die Anglo-Boereoorlog tot 1902, kan deur die volgende 10 kort lesse beskryf word:

Les 1: Vryheid en dekolonisasie

Die dryfkrag agter die ekonomiese bemagtiging van Afrikaners was hul strewe na vryheid ná die vernedering, vernietiging en verarming van die Anglo Boere-oorlog. Dekolonisasie was gesien as die politieke, ekonomiese en kulturele bevryding van die Britse juk en hul konsentrasiekampe:

Die eerste doelwit was kulturele vryheid omdat ’n gemeenskap nie met ’n tweede taal kan moderniseer nie. Afrikaans moes eers gemoderniseer word, waarna Afrikaners deur Afrikaans kon ontwikkel. Daarvoor is ’n kulturele infrastruktuur van skole en universiteite gebou. Die slagspreuk van die taalpioniers was: “Kom ons maak ’n taal”.

Die tweede doelwit was ekonomiese bevryding wat Afrikaners uit armoede wou lig deur ’n Afrikaanse ekonomie te bou. Kapitalisme is as die osse wat die Afrikaner-wa uit armoede moes trek, ingespan. Die slagspreuk van die groot ekonomiese volkskongres van 1939 was: “’n Volk red homself”. Afrikaners se teenkanting teen kapitalisme − wat met Britse Imperialisme vereenselwig is − is moeisaam oorkom ná bewyse dat ’n markekonomie die enigste manier was om armoede te oorwin. Kapitaal is deur “skarefinansiering” gemobiliseer. Die spaargeld van die arm massa is in produktiewe besighede met goeie opbrengste belê.

Die derde doelwit was politieke vryheid. Suid-Afrika was in daardie tyd as ’n koloniale skepping met kunsmatige grense gesien wat in 1910 deur die Britte afgedwing is. Afrikaners wou hulle Republiek terugkry deur die koloniale Unie van Suid-Afrika weer in vrye state te dekoloniseer. Die Britte het die Afrikaner-republieke en die swart koninkryke onderwerp, en ’n subkontinent in een land ingedwing om koloniale administrasie te vergemaklik.

Les 2: Die privaat sektor as lokomotief; die staat die treinspoor

Afrikaners het die staat as die huishoudster, eerder as die broodwinner gesien. Staatsondernemings het die infrastruktuur vir ’n nywerheidsrewolusie, soos elektrisiteit, spoorweë en staalvervaardiging geskep. Die ekonomie is deur die privaat sektor op hierdie infrastruktuur gebou. Die staat het die omgewing geskep waarin Afrikaners vir hulself kon sorg. State kan nie welvaart skep nie, maar kan dit vernietig as regerings in die ekonomie inmeng of die land swak regeer.

Die regering se hoofrol was om ’n professionele staatsdiens te verskaf, veiligheid te verseker, en die oppergesag van die reg te handhaaf. Die privaat sektor was die dryfkrag agter die ekonomie en Afrikaners het op groot skaal besighede begin. Die pad na ’n middelklaslewe het deur die ekonomie geloop, nie deur die politiek nie.

Selfs nadat politieke mag in 1948 herwin is, is besef dat Afrikaners hul vryheid sélf moes gebruik. Geen staat kan ekonomiese voorspoed aan mense bied nie. Werk, eerder as welsyn, is as die oplossing vir armoede gesien.

Les 3: ’n Groep se aandeel in die ekonomie word deur sy bydrae bepaal

Afrikaners se aandeel in die ekonomie was baie kleiner as hul getalle, en die ongelykheid met die Engelse bevolkingsdeel het spanning geskep. Ekonomiese leiers het Afrikaners oortuig dat hul aandeel in die ekonomie deur hul bydrae bepaal word. Daarom het hulle ’n groot aantal maatskappye van die grond af opgebou om hul bydrae en so hul aandeel in die ekonomie te vergroot. Voorbeelde hiervan was Sanlam, Santam, Rembrandt, Volkskas, Naspers, Avbob en Federale Mynbou. Hierdie maatskappye het noodsaaklike produkte en dienste voorsien, werk verskaf, opbrengste vir aandeelhouers gelewer, en met hul belasting die staatskas aangevul. Die Engelse is net vir neutraliteit gevra, nie vir hulp nie. Afrikanerbemagtiging was in wese selfbemagtiging.

Les 4: Gemeenskapskrag

Daar is besef dat Afrikaners nie elkeen op sy eie die mas gaan opkom nie. Gemeenskapskrag is grootskaals gemobiliseer deur selfhelp- en helpmekaar-organisasies op elke gebied te stig. Die uitgangspunt was dat ’n gemeenskap deur sy instellings leef. ’n Hele kulturele infrastruktuur van organisasies is geskep, van ekonomiese organisasies tot opvoedkundige instellings. Die spreekwoord was “’n Boer maak ’n plan”. Die belangrikste instellings waardeur kultuur aan die volgende geslagte oorgedra word, is skole, kolleges, universiteite en kultuurbewegings. Onderwysers was die vaandeldraers van die opheffingsprojek. Gesonde gesinne was die fondament van die samelewing. Welvaart het toegeneem toe Afrikaners net soveel kinders gekry het as waarvoor hulle self kon sorg.

Les 5: Ekonomiese ontwikkeling is ’n proses, nie ’n gebeurtenis nie

Afrikaners se klem was om armoede deur ekonomiese groei te verlig, nie om ongelykheid deur staatsgedrewe herverdeling te bestry nie. Daar was nie kortpaaie en kitsresepte soos werkkwotas of staatshulp vir die privaat sektor nie. Daardie geslag het groot opofferings gemaak om die volgende geslag ’n beter kans te gee, omdat ontwikkeling minstens ’n geslag neem.

Les 6: Fokus was op oorsake van voorspoed

Bitterheid jeens Britse Imperialisme het nie verhoed dat Afrikaners op die redes vir voorspoed gefokus het, en nie op die redes vir hul armoede nie. Eerder as om die Britte te blameer, het Afrikaners self verantwoordelikheid vir hul opheffing gevat. Die beginpunt hiervan was gesonde gesinne, Christelike waardes, goeie Afrikaanse skole, en ’n groeiende ekonomie wat deur ’n lewenskragtige privaat sektor aangedryf is. Die ekonomiese model was eerder die Europese breër gebaseerde belanghebberkapitalisme as die individualistiese Anglo-aandeelhouerkapitalisme wat net op wins ingestel was.

Les 7: Mededinging i.p.v. oornames

Afrikaners was ná die oorlog vasbeslote om die vrede te wen. Nuwe sakeondernemings, universiteite, skole en ander instellings is begin, eerder as om die Engelse s’n met staatsmag oor te neem. Die leuse was “compete”, eerder as “complain”. As gevolg hiervan het die ekonomie vinnig vergroot omdat ’n netwerk van Afrikaanse ondernemings ontstaan het, en Afrikaners nie net as werknemers in Engelse ondernemings opgeneem is nie. Die neerbuigende koloniale rassisme het Afrikaners aangespoor om op eie stoom sukses te behaal.

Les 8: Kyk deur voorruit, nie truspieël

Die verwoede stryd tussen Afrikaner-nasionaliste en Britse Imperialisme het tot ná Republiekwording in 1961 gewoed, onder die vaandel van “Vergewe, maar nie vergete”. Hoewel Afrikaners wel in die “truspieël” gekyk het vir inspirasie tydens hierdie moderniseringsprojek, was hulle hooffokus om deur die “voorruit” te kyk. Hulle visie vir die toekoms was sterker as hulle geheue oor die verlede.

Les 9: Staatsbestuur in plaas van staatsbeheer

Daar is groot klem gelê op gesonde staatsbestuur, die ontwikkeling van infrastruktuur soos damme, spoorweë, hawens en lughawens, skole, universiteite en hospitale, en die handhawing van die reg. Korrupsie was raar, en daar is teen skuldiges opgetree.

Les 10: Stede i.p.v. plase

Baie Afrikaners het vir eeue ’n arm bestaan op die platteland gevoer. Die besef dat stede die grootste skeppers van rykdom en die ekonomiese enjins van ’n land is, het tot ’n grootskaalse groei in welvaart gelei.

Toekoms

Teen 1975, 27 jaar ná die Nasionale Party se oorname in 1948, is die meeste doelwitte van die moderniseringsprojek bereik. Die tragedie is dat die sakereuse waarmee dit verwesenlik is, vir Afrikaners verlore gegaan het.

Die vraag bestaan wat die toekoms vir Afrikaners inhou, gesien in die lig van die ANC se beroerde staatsbestuur. Professor Hermann Giliomee sê dat die verlies van die ideologie wat Afrikaners laat opstaan het, veel erger is as die verlies van die staat wat hulle beheer het.

Dis nodig om te besef dat die toekoms wat ons gaan hê, die toekoms is wat ons self sal moet skep. Izak de Villiers het gesê dat Afrikaners uit armoede opgestaan het met min geld maar baie idealisme. Die vraag is of ons nou met meer geld, nog genoeg idealisme het om weer ʼn volhoubare toekoms te skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frannie ·

In 1975 is meeste doelwitte bereik. 20 jaar later gee ons dit weg op ‘n skinkbord! Wat ‘n tragiese einde.

Kokerboom ·

Dankie vir ‘n insiggewende skrywe Flip. Tyd vir aksie is NOU!

Andre ·

Mnr Buys; ten spyte van wat u hier noem wat definitief sal bydra tot ‘n volhoubare toekoms mis ons een kritiese punt naamlik dat dit slegs moontlik is indien selfbeskikking moontlik is. Ek se dit nie om enige rassistiese redes nie; inteendeel sou dit eerder verkies het as ons iets kon uitgewerk het onder een sambreel maar dit gaan 26 jaar na ‘n demokratiese verkiesing nie gebeur nie Dit gaan altyd ek en jy wees

annie ·

Eintlik is ons posisie nog meer haaglik, want deur die jare is daar soveel leuens en wanvoorstellings oor die Afrikaners vertel dat min mense/lande ons sou wou help, wat nog verblyf bied al is daar diegene wat soos ‘n kind in ‘n weeshuis hoop op nuwe goeie ouers. Regoor die wèreld hol mense rond na elders in die hoop op uitredding. Om ‘n honger leeu te smeek om van sy prooi af te sien na ure se jag, is wat sommiges nou voorstel. Probeer. Ons weet wat ons ons bereik het en word dit nou oor en oor ingevryf. Ons het hulp en raad nodig: Bomenslike hulp. Miskien is 16 weer ons wennommer.

Henk ·

Baie waar wat jy sê Flip. Maar onthou net een ding. Die Afrikaners in die Kaap het nie destyds die ‘verskroeide aarde beleid’ ervaar en so baie verloor soos die Afrikaners in die Vrystaat en Transvaal nie.
Hulle families en gesinne het oorleef en die vroue het nie nodig gehad om na die oorlog ploeë met die hand deur die grond te sleep omdat daar nie osse was nie. ens.ens.
Miskien was dit die Afrikaner se redding dat daar darem nog “onbeskadigde’ Afrikaner intellektuele eiendom en kundigheid in die Kaap oorgebly het na die oorlog en waarop die Afrikaner sy fondasie kon vestig om op te staan en vorentoe te gaan. Daarom dat daar so baie Afrikaanse besighede hulle wortels in die Kaap gehad het. Rembrand, KWV, Santam, Sanlam, Federale Volksbeleggings, ens ens.
Wat die taal betref was daar CJ Langenhoven en ook seker die rede hoekom die Taalmonument in die Kaap is. Daarom is dit so jammer dat die US met sy taalbeleid uiteindelik oorgegee het aan die Anglo-Sakse. Net my 2c bydrae.

annie ·

‘n Mens glo in die Bybel of jy glo nie. G’n woord word deesdae gerep oor of ons enige skuld dra tov die verlies van dit wat ons glo self opgebou het nie en g’n Christelike leraar is sigbaar selfs nou in die tyd van ‘n groot pes nie. Volgens die Bybel gebeur niks sonder die Vader se toestemming nie. Hoekom gaan dit so sleg met Afrikaners? Miskien is dit tyd dat ons ernstig bid om vergifnis vir die afskeep van ons ware Christelike Geloof en van ons naaste en smeek om genade, want sonder Sy hulp is ons kaput.

Jaco ·

Iets wat flip vergeet is hoe top Engelse staatsamptenare en ook top Afrikaanse staatsamptenare wat nie die regerende Nasionale Party gesteun het nie, na 1948 almal met aanstellings vir Broederbonders vervang is. Dit was die Nasionale Party se weergawe van regstellende aksie en kaderontplooiing. Meriete het seker ‘n groter rol gespeel, maar die beginsel van lekker jobs vir jou politieke pêlle kom al van daar af. Dis nie ‘n ANC/kommunistiese uitvindsel nie.

Japie ·

Flip die wereld het baie verander van die tye waarvan jy praat. Sonder territoriale selfbeskikking gaan ons nerens kom nie en dit raak tyd dat Solidariteit en Afriforum hulleself moet afvra oor die rol wat julle speel. Die Afrikaner het nie tyd aan ons kant om met eksperimente tyd te mors nie. Julle lede waarvan ek en my kinders deel is en finansieel bydra gaan aan julle se om terrotoriale selfbeskikking meer as n doel daar te stel en as n buite parlementere druk groep op te tree. Die Afrikaner is vinnig besig om sy identiteit te verloor en as dit gebeur het sal julle ook tot niet gaan omdat julle fondse gaan opdroog. Julle hou julle met hofsake besig terwyl die volk vergaan. Ek het nooit gedink ek sou die dag beleef waar my hoogs gekwalifiseerde kinders vir my sou se hier is nie n toekoms nie en hulle is besig om die land te verlaat. Sit “billboards” op langs die paaie en in stede wat die werklikheid van grondbesit daarstel en bemark selfbeskiking openlik. open buitelandse kantore

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.