Liberalisering van onderwys noodsaaklik vir ekonomiese groei

Deur Martin van Staden

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Onderwys word voortdurend uitgelig as een van die belangrikste bestanddele om die grootste gros Suid-Afrikaanse burgers se armoedesiklus te beëindig.

Nogtans verseker die wurggreep waarin die regering onderwys het – en juis in die naam van “maatskaplike geregtigheid” nie laat los nie – dat die gehalte van algemene onderwys swak bly en net tot die armoedesiklus bydra. Suid-Afrika behoort ʼn wêreldleier in die liberalisering van onderwys te wees.

Só sê die skrywers van Laws Affecting Small Business: Schooling, deel van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Dit is suiwer as gevolg van wetgewing en ander vorms van staatsingryping dat private ondernemers in Suid-Afrika dit so moeilik vind om die onderwysveld binne te dring.

Die regering se aandrang op standaardisering verseker onder meer dat ouers en hul kinders nie voordeel kan trek uit die beste onderrigmetodes wat wêreldwyd beskikbaar is vir geletterdheid, gesyferdheid, kommunikasievaardighede, en spesifieke vaardighede om ʼn inkomste te verdien nie.

As die onderwys wawyd oop was vir mededinging, sou onderwysvoorsieners groter dissipline aan die dag moes lê om hul gehalte te verbeter namate hulle ouers se guns probeer wen. Die regering sou selfs onderwys-koopbewyse (“education vouchers”) kon instel om sy enorme burokrasie vir basiese onderwys te vervang. Dit sou arm ouers in staat stel om ook te kan kies waar hulle hul onderriggeld bestee.

Onder die skrywers van LASB: Schooling se radikale maar nodige aanbevelings is om alle skoolpligwette te herroep, die vereiste af te skaf dat die staat se toestemming benodig word om private skole te bedryf, onderwys-koopbewyse uit te reik sodat ouers vrylik kan kies waar hul kinders onderrig moet ontvang (hetsy in ʼn staatskool of private skool), met gestandaardiseerde leerplanne weg te doen, en tuisskolers in vrede te laat.

Wette wat skoolbywoning verpligtend maak, lyk op die oog af onskadelik, maar vorm juis die grondslag van die een-grootte-pas-almal-benadering wat soveel skoolkinders laat uitsak. Die staat moet noodwendig definieer wat “skoolopleiding” beteken en gevolglik word ander onderwysvorms buite rekening gelaat. Selfs private skole word onvermydelik ingedwing in die regering se standaardisering van iets wat juis dinamies behoort te wees en elke kind ideaal moet pas.

Soos die skrywers aandui, in die afwesigheid van dwang sal leerinstellings – veral dié wat bedryf word deur kleinondernemings wat verpersoonlikte ervarings aan individuele kinders probeer bied – uit hul pad uit gaan om aan ouers ʼn keur van hoëgehalte- en mededingend geprysde leeromgewings vir hul kinders te bied.

Daar is boonop geen rede tot kommer dat kinders eenvoudig onopgevoed sal bly nie. Die historikus, EG West, merk byvoorbeeld op dat die meeste kinders in Brittanje en Amerika buitendien skool toe gegaan het nog voordat verpligte skoolonderrig daar ingestel is. Vir almal wat begryp dat die oorgrote meerderheid ouers net die beste vir hul kinders wil hê, moet dit voor die hand liggend wees en hulle het sekerlik nie die regering se ingryping hiervoor nodig nie.

Onderwys-koopbewyse vir behoeftige leerders se onderrig kan egter in ʼn arm samelewing, soos dié in Suid-Afrika, ʼn doeltreffende metode wees om te verseker dat die onderwysbegroting goed aangewend word. Die nasionale onderwysbegroting behoort eweredig toegedeel te word aan alle ouers van skoolgaande kinders. Die ouers kan daardie geld dan gebruik om hul kinders ʼn staatskool of private skool van hul keuse te laat bywoon, op enige plek in die land.

In so ʼn bestel moet ook staatskole die nodige outonomie gegun word om met ander staatskole asook private skole om die ouers se geld mee te ding (aangesien hulle nie langer regstreeks van die staat sal geld ontvang nie). ʼn Wedloop om die eerste plek in hoëgehalteonderwys, is wat ʼn mens jou kan voorstel die gevolg van sodanige hervorming sal wees.

Die skrywers van LASB: Schooling besef maar alte goed hoe radikaal dié voorstelle is. Die land bevind hom egter in ʼn radikaal onsekere tyd, met ʼn bemoeisieke en baasspelerige regering wat die ekonomie reeds leeg gesuig het.

Om beleidsgewys te probeer veilig speel, is roekeloos. Radikale transformasie van ons denkwyse is noodsaaklik as ons uit die benarde ekonomiese situasie, waarin ons is, wil ontsnap. As ʼn ontploffing van ekonomiese bedrywighede op onderwysgebied bewerkstellig kan word, kan dit ʼn waardevolle rol speel om ons ontsnapping moontlik te maak.

Die LASB-boekies maak ʼn derde uit van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat floreer.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom’. Besoek www.martinvanstaden.com.

Die volledige boekie oor onderwys kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakkie ·

Sjoe…..Waar begin ek? Hierdie dekwyse is outyds en het vreeslik aanhang geniet in laat 20’ste eeu oor teorie in die 19’de eeu. Hierdie neo liberlisme werk eenvoudig nie in ontwikkelende lande nie, veral nie in Suid-Afrika waar bykans 80% skole disfunksioneel is( Bevestig gerus syfers met FEDSAS, NDO).

Die staat wil juis met nuwe BELA wetgewing dinge nog meer sentraliseer en hoe gesentraliseerd gaan onderwys moet wees met ‘n koepon stelsel.

Mens kan gewoon nie onderwys in ontwikkelde lande met ontwikkelende lande vergelyk nie.

SADOU(engels SADTU) het gewoon te veel mag in die onderwysstelsel om sinvolle veranderinge aan te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.