Mag: Hoe om die ANC te dekodeer, te beveg

Ernst van Zyl.

Soms kom mens nog mense teë wat sê hulle is in die war oor die ANC se beleidsvoorstelle. Hulle kan eenvoudig nie kop of stert uitmaak van hoekom die ANC so sterk aandring op beleide wat teen basiese ekonomiese beginsels, gesonde verstand en die werklikheid indruis nie. Ek het ’n eenvoudige praktiese reël gekry wat enigiemand sal help om sin te maak uit wat werklik die ANC se besluitneming rig en motiveer: Jy moet eerstens verstaan wat die ANC aandryf – ’n onbevredigbare aptyt vir toenemend gesentraliseerde regeringsmag.

As jy dus weer voor die uitdaging te staan kom om ’n ANC-beleidsvoorstel te evalueer, om sinvolheid in hul waansin te soek, stel dan net een eenvoudige vraag: Gaan hierdie beleid die mag en beheer van die regering vergroot of verklein?

Jy sal gou besef dat feitlik elke ANC-beleid die belangrike kenmerk toon dat dit meer mag en beheer in die hande van die regering sal sentraliseer – enigiets anders sal verraad wees teenoor hulle fundamentele Nasionale Demokrasie Revolusie (NDR)-evangelie.

Albert Camus het bondig opgemerk: “Die welsyn van die mense in die besonder was nog altyd die alibi van tiranne, en dit bied die verdere voordeel dat dit vir die dienaars van tirannie ’n goeie gewete gee.” Gevolglik is dit glad nie verrassend nie wanneer ANC-kamerade en hul skoothondjies hul selfbeheersing verloor wanneer hul oëverblindery aan die lig gebring word.

Toe AfriForum en Solidariteit byvoorbeeld onlangs die regering se rassistiese en diskriminerende Toerismefonds beveg het, het die ANC op hiperboliese wyse dit as ’n “oorlogsverklaring” bestempel. Die ANC verskerp op slinkse wyse sy vaardigheid om sy magsplanne te versluier onder die morele masker van “opheffing van die armes” en “regstelling van die onregte van die verlede”. Sy vasbeslote en soms selfs desperate aandrang op onteiening sonder vergoeding, die oprigting van ’n onbekostigbare nasionale gesondheidsversekering, die verdediging van sy reg om ’n monopolie op die verkryging van Covid-19-entstowwe te hê, en sy aandrang om privatisering ver weg van insolvente staatsbeheerde ondernemings soos Eskom en die SAL te hou, getuig alles van hierdie feit.

Die afgelope jare is heelwat ontledings van faksionalisme in die ANC gedoen. Die interne gevegte in die party word voorgehou as ’n titaniese stryd tussen die “ekstreme” Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-faksie en die “gematigde” Nuwe Daeraad Ramaphosa-faksie. As mens egter fyner deur die rook en spieëls van ANC-beleid kyk, is daar baie meer dinge waaroor hierdie twee faksies saamstem as waaroor hulle verskil.

Die vernaamste gemeenskaplike punt wat hulle deel, is hulle toegewydheid aan genoemde magsgebaseerde aksioom: hulle is by die heupe verbind met hul gedeelde missie om steeds meer mag vir die regering in te palm as hul einddoel. Waar elke faksie egter sy eie paadjie volg, is hoe om hierdie einddoel te bereik. Die RET-faksie verkies blykbaar ’n breek-en-gryp-taktiek, terwyl die Nuwe Daeraad-faksie voorkeur gee aan ’n bedrieglike sakkerollery.

Om die kern van hierdie argument te begryp, hoef jy niks verder te kyk nie as na die sogenaamde “goeie kader” Tito Mboweni, wat as ’n stem van rede en verstandigheid in die alliansie voorgehou word. Dié huidige minister van finansies het al te veel kere hierdie masker laat afglip. Mboweni se verklaarde voorneme om ’n staatsbank op die been te bring, sy toenadering tot sy maatjie Julius Malema, sy bereidheid om nog miljarde in die bodemlose SAL-put te gooi, sy voorkeur vir ’n beleid van skuldgebaseerde openbare besteding en sy onlangse uitlatings om die wit minderheid as sondebokke en skobbejakke voor te hou en te stereotipeer wanneer hy onder druk verkeer, bewys dat hy eintlik maar net die rol van die “goeie ou” vertolk in die ANC se afspeling van goeie ouens teenoor slegte ouens. Ons moet altyd in gedagte hou dat hierdie “goeie” en “slegte” ouens almal vir dieselfde baas werk.

So lank die ANC toegewyd bly aan sy filosofie van onversetlike staatsuitbreiding, soos in die NDR vervat, maak dit op die ou einde nie saak watter faksie die oorhand kry of hoeveel kabinetskommelings die president aankondig nie. Dit is blote syspore en sal net so nutteloos bly soos om ’n pak kaarte wat uit identiese kaarte bestaan, te skommel. Steun vir die ANC-faksie wat die minste van twee euwels is, beteken dat die onvermydelike net uitgestel word in die hoop dat jy nie deur die krokodil opgevreet sal word nie … altans nie nou al nie.

Die oplossing vir ons verknorsing is nie om ’n ander bende magsentraliseerders te kies om oor ons te heers nie, maar eerder om onsself beter toe te rus om die rooftaktiek van die ANC-regering betreffende ons vryhede te weerstaan deur self meer mag op te bou. As mag die enigste taal is wat die ANC verstaan, is dit vir ons vermoë om weerstand te bied, noodsaaklik om vaardig daarin te raak. Die mag om doeltreffend weerstand te bied teen die dreigende tirannie van die regering, moet gekonsentreer word in die burgerlike samelewing, nieregeringsorganisasies en gemeenskappe. Pleks van tevergeefs te probeer om beheer oor die steeds groeiende staatsleviatan te verkry, moet ons begin om ons niestaat-teenwigte te bou en te versterk. As jy deur ’n honger roofdier gejaag en in ’n hoek vasgekeer word, is dit baie beter om ’n groot stok op te tel as om met die gedierte te redeneer om jou nie op te vreet nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baardman ·

Seker nie die regte plek om kommentaar te lewer. Maar nou sien ek hier regs van my screen ‘n peiling rekende munisipale verkiesing. 23% van die deelnemers, blyk dit volgens die peiling op hierdie stadium, gaan nie stem nie. Dan is hulle seker ook die wat na die tyd die hardste skree teen die ANC en kla oor hulle dorpe wat ten gronde gaan.

Fritz ·

Daai nie-stemmers is hoofsaaklik anti ANC mense. Selfs al stem elke liewe DA of VF “ondersteuner”, sal dit nog steeds geen verskil maak nie. As jy n verskil wil sien, oorreed al die nie-stemmende ANC ondersteuners (en daar is baie van hulle) om vir iemand anders te stem. So dis die rede hoekom party mense stem as n mors van tyd beskou.

Hendrik ·

Nee wat ons kla nie. Veilig, goeie water, elektrisiteit en rioolering. O ja ons werk te hard om ons gemeenskap te bou dat daar nie tyd om te mors met stemmery.

Jaco ·

Het die ANC dan NIKS tydens hulle ballingskap in kommunistiese lande geleer nie? Meeste van daardie was 100 tot 1000 maal beter as SA onder die ANC. Hulle rewolusies het so 5 tot 10 jaar geduur nie soos die ANC se 27 jaar nie. Daardie lande, veral Oos-Duitsland, die Sowjetunie, Pole en Tsjeggo-Slowakye, was ook SONDER die volgende goed:
Beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Swak onderwys waar leerders onderwysers amper so min of meer mag aanrand
Regstellende aksie
Kaderontplooiing SONDER enige kennis van die werk
Plakkerskampe
50% werkloosheid
Swak of geen munisipale dienslewering
Em so kan my lys aan en aangaan. Daardie kommunistiese lande was dus nie net sleg nie. Daar was nou wel nie godsdiensvryheid nie, maar daar was maniere om dit te omseil. Eerlikwaar, ek word dan maar eerder ‘n geheime Christen en leef dan darem andersins heel gerieflik in ‘n samelewing sonder al die verval in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.