Man wees in ʼn ontmande wêreld

Deur ds. Schalk Strauss

 Die bekende Amerikaanse YouTube-sensasie verbonde aan die Daily Wire, Matt Walsh, het onlangs ʼn baie interessante dokumentêr vervaardig met die titel: What is a woman?

Die Daily Wire se Matt Walsh het onlangs ʼn dokumentêr vervaardig met die titel: What is a woman? (Foto: Daily Wire)

In ʼn wêreld waarin daar weens al die genderpolitiek groot verwarring heers oor wat nou regtig “vrou” is, is dit ʼn baie relevante vraag. Die oomblik as jy egter hierdie vraag vra, dwing dit jou ook om te vra: Wat is ʼn man? Hoe sal ons in ons dag ʼn ware man definieer?

Wanneer ons om ons kyk en sien hoe die wêreld besig is om mans as’t ware te “ontman”, raak dit ʼn baie dringende vraag waarop ons blykbaar nie altyd die antwoord ken nie. Aan “man wees” kleef daar deesdae net soveel melaatsheid as aan wit wees. Terminologie soos “toksiese manlikheid” word gebruik om tradisionele sienings van man wees te beskryf.

Natuurlik is daar sekere uitdrukkings van manlikheid wat met reg as toksies of dalk eerder “sondig” beskryf kan word. Die probleem is dat ook sekere goeie aspekte van die tradisionele verstaan van man wees, deesdae as “toksies” beskryf word. Dit sluit in homofobiese of anti-feministiese gedrag, wat oënskynlik uit sekere optrede van mans af te lei is. Selfs iets soos ʼn sterk persoonlikheid en die natuurlike geneigdheid om leiding te neem, word onder hierdie gemene deler geplaas.

Een van die redes waarom ons hierdie skeefgetrekte idees oor manlikheid kry, is omdat ons in ʼn wêreld leef waarin ʼn sekere strook van feministe toegelaat word om, vanuit ʼn posisie van absolute weersin en vyandigheid, te bepaal wie en wat ʼn man behoort te wees. Patriargale sisteme en manlike hoofskap word só gekritiseer, dat ware manlikheid deesdae ʼn baie vroulike, onderdanige en swak gestalte aangeneem het.

Dit skep natuurlik spanning, want daar is ʼn natuurlike aanvoeling dat dinge nie reg is nie. In Novembermaand groei mans hul snorre en baarde as deel van ʼn bewusmakingsveldtog vir manlike gesondheidsprobleme. Tog sien ʼn mens deesdae baie meer mans met baarde rondloop. Dit mag dalk deur baie as ʼn modegier beskryf word, maar dalk is dit ʼn manier om weerstand te bied teen ʼn samelewing waarin mans nie meer toegelaat word om mans te wees nie. Dit is ʼn uitdrukking van onderdrukte frustrasie. Dit roep uit: Ek is anders, so laat my toe om anders te wees!

Die probleem is egter dat, buiten vir baarde en snorre, baie van ons nie meer weet wat dit is om waarlik ʼn man te wees nie en sodoende in die hand speel van hulle wat krities is oor man wees.

Ons dink dat om met kakieklere en wys-jou-vleis-broekies rond te loop, van ons manne maak. Ons dink om, daar waar niemand ons kan sien of kan hoor nie, ons vrouens te verneder of te verskreeu asof hulle blote voorwerpe is, van ons mans maak. Ons leer ons seuns dat ware man wees beteken dat jy voor jy uit matriek is, darem al saam met ʼn meisie moes slaap. Hoe meer jy kan drink, hoe harder jy partytjie kan hou en hoe hoër onder die rok in jy kan praat, hoe “manliker” is jy. Partykeer gaan ons darem so ver as om te sê: As jy ʼn goeie werk het of getroud is, dan is jy ʼn man.

Ongelukkig werk die vroulike geslag se optrede hierdie verwarring dikwels in die hand. Die opkoms van feminisme en die gelykheidsbeweging wat eis dat mans en vroue gelykgestel word, lei daartoe dat al hoe meer meisies deesdae nie eintlik mans soek wat sterk leiding neem of standpunt inneem nie. Hulle wil nie “oordonder” word nie, maar in der waarheid wil hulle nie “gelei” word nie. Die wêreld het Adams nodig wat bereid is om vir Eva te sê om nie van die boom in die middel van die tuin se vrugte te eet nie. Helaas! Die wêreld soek Adams wat gedwee die verbode vrugte uit Eva se hand neem, omdat hy nie haar gevoelens wil seermaak nie.

As gelowiges moet ons versigtig wees dat ons nie God se reg om ons te definieer aan die wêreld afstaan nie. Wat ons samelewing nodig het, is ʼn manlikheid wat die heerlikheid van God, ons Vader, weerspieël. In 1 Konings 2:2-3 gee Dawid sy laaste bevele aan Salomo kort voordat hy sterf:

Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word ʼn man; en onderhou die ordening van die Here jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe…

“Word ʼn man,” is Dawid se opdrag. Die eerste afleiding wat ons maak, is dat volwassenheid nie noodwendig dieselfde is as om ʼn man te wees nie. In dié opsig is daar baie seuns wat meer man is as baie volwasse mans. Dawid sit hierdie manlikheid uiteen:

Die eerste karaktereienskap van Bybelse manlikheid, is om sterk te wees. Dit gaan nie oor fisieke krag nie, maar ʼn innerlike krag. Dit het te doen met standvastigheid, om te staan vir die dinge waarin jy glo en integriteit. Dit gaan daaroor om ferm te wees oor beginselsake en om die moed te hê om onder druk op te staan en te doen wat reg is. Dit sluit ook in om sterk te staan en jou nie deur jou vleeslike begeertes te laat oorheers nie.

Ironies genoeg gaan hierdie krag met ʼn sekere soort swakheid gepaard – om swak te wees voor God en deur sy krag in Christus oorweldig te word. Sy krag word immers in ons swakheid volbring. ʼn Ware man is dus swak voor God, maar sterk teenoor die wêreld. ʼn Ware man weet sy krag lê nie in homself of sy eie vermoëns nie. ʼn Ware man weet dat sy manlikheid nie bepaal word deur sy prestasies, sy geld, sy haarstyl of sy kleredrag nie, maar deur sy verbintenis aan Jesus Christus.

Die tweede karaktereienskap wat Dawid hier noem, is gehoorsaamheid aan God se wil soos wat Hy dit in sy Woord aan ons bekendmaak. Dit gaan gepaard daarmee om te staan vir wat reg is volgens God se Woord. Daarom hanteer ware mans vroue met respek en het hul eie vrouens lief, soos Christus die gemeente liefhet. ʼn Ware man neem gehoorsaam sy verantwoordelikheid op om sy kinders in die vrese van die Here groot te maak. ʼn Ware man sorg nie net materieel vir sy gesin nie, maar ook geestelik. ʼn Ware man is self iemand van inbors en ʼn voorbeeld van Godvresendheid, omdat hy hom neerbuig voor die Koning van alle konings.

ʼn Man is nie ʼn man net omdat hy ʼn snor of ʼn baard het nie, maar omdat God hom so gemaak het. ʼn Man is egter eers waarlik man, in die volle sin van die woord, wanneer hy in nederigheid die Here vrees.

  • Hierdie artikel is eerste op die APK se webwerf gepubliseer en kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lourens ·

Fobie = vrees vir iets.
Anti = om gekant te wees teen iets.

Pieter ·

Wel gestel. Respek vir mekaar, maar ken werklik elkeen se plek soos God dit daar stel.

Carel ·

ALLE verval wat ons sien, is gemik daarop om die Tradisionele Gesin te verwoes.

Daar is ontsaglik baie data oor die impak van egskeiding op kinders

Third Wave Radical Feminism verpes mans, maar óók gewone vrouens wat nie saam met hulle rhetoriek stem nie

Alles wat TABOE is om oor te kla & te protesteer, is satan se “Onheilige Koeie” wat hy gebruik om maksimum verwoesting te saai.

Alles ons behoort te VERDEDIG as ’n gemeenskap, word af gemaak as toksies & homofobies

‘n Man wat sy manlikheid laat erodeer deur Feministe, is ’n swakeling. Staan OP & dien jou familie en gemeenskap . . . los die Victim Mentality for Our People.

Openbaring 12:9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en satan, WAT DIE HELE WÊRELD VERLEI, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Kwikkie12 ·

Mooi gestel. As pa’s maar net kan besef hoe hulle seuns na hulle opkyk en hoe lief hulle dogters hulle het. Wanneer die pa die geestelike leier in die huis is neem al die ander dinge outomaties hulle regte plek in.

Antie Sarie ·

Laas keer toe een van my vriende, na n angus kampie besluit het om die “geestelike lyding” te neem, was sy egskeiding viniger afgehandel as die huweliks seremonie. Ek het hom gewaarsku. Maar hy wou so graag die geestelike leier wees.

Johan ·

Groot verskil tussen “geestelike lyding” en “Bybelstryd” kry. Het dit ook al gesien.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die wêreld gaan anders lyk oor 100 jaar. Die mensdom sal oor tegnologie beskik waaroor ons nog nie eers droom nie. En dit sal aanvaarbaar wees vir ons agter-agter kleinkinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.