Meer wapens, minder geweld

Deur Jacques Broodryk

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs sy planne bekendgemaak om ingrypende veranderinge aan die wapenwetgewing aan te bring.

Die voorgestelde wysigings is absurd in baie aspekte, maar die mees verregaande is sekerlik die voorstel dat selfverdediging nie meer ’n aanvaarbare rede sal wees om ’n wapen te besit nie.

Bheki Cele, minister van polisie, voer aan dat om wettige wapeneienaars te ontneem van hul reg om ’n wapen te besit, sal lei tot ’n afname in vuurwapengeweld. Cele kyk baie gerieflik die feit mis dat sy eie departement die afgelope paar jaar sowat 5 000 dienswapens verloor het. In antwoord op ’n vraag deur die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het Cele ook erken dat die polisie sowat 10 miljoen patrone verloor het.

Boonop is die wapens wat die meeste in kontant- en transitorooftogte gebruik word, R4- en R5-aanvalsgewere wat deur die polisie en die weermag uitgereik word. Kenners is ook bekommerd oor ’n toename in die gebruik van AK-47-aanvalsgewere in rooftogte – beslis nie wapens wat by wettige wapeneienaars gebuit is nie, maar eerder wapens wat vermoedelik oor Suid-Afrika se swak bewaakte grense gesmokkel word.

Dan praat ons nie eens van die gevalle waar wapens wat tydelik deur die polisie in veilige bewaring geplaas is, deur polisielede aan misdadigers uitverhuur is om misdade te pleeg nie.

En dan is daar natuurlik die geval van Chris Prinsloo, ’n oudpolisielid wat meer as 2 000 wapens uit polisiewapenstoorplekke gesteel en aan bendes in die Wes-Kaap verkoop het. Dit is maar net een van die min gevalle waarvan ons weet. Tog bly Cele daarop hamer dat wettige wapeneienaars die probleem is.

Die polisie se eie statistieke toon dat die meeste geweldsmisdade met skerp voorwerpe gepleeg word en nie vuurwapens nie. Waarom wil Cele dan nie eerder messe verbied nie?

’n Studie in 2007 deur die Harvard-Universiteit, wat verskeie lande ingesluit het, het bevind dat daar ’n direkte verband is tussen ’n gewapende burgery en ’n afname in geweldsmisdade – dus maak die minister se argument glad nie sin nie.*

Die vraag moet natuurlik ook gevra word: As Cele nie wil hê burgers moet hulself met vuurwapens kan verdedig nie, is hy dan bereid om sy eie lyfwagte ook te laat ontwapen?

As mens in ag neem dat genl. Khehla Sitole, die polisiekommissaris, in 2018 in die parlement erken het dat die polisie nie in staat is om sy mandaat te vervul nie, is die voorgestelde wetgewing so onlogies dat die regering se besluit om dit voor te lê, my net na een afleiding kan neem: die owerhede wil jou ontwapen, want hulle is van plan om iets te doen waarteen jy met geweld sal wil terugbaklei, sou jy in staat wees om dit te doen.

* Die “Harvard-studie” waarna verwys word, is in werklikheid deur navorsers geskryf wat nie aan Harvard verbonde is nie en die artikel het in die Harvard Journal of Law & Public Policy, ‘n tydskrif, verskyn. In die geval is daar nie eweknie-beoordeling soos met die meeste akademiese publikasies nie en is die inligting dus aanvegbaar.

  • Jacques Broodryk is AfriForum se veldtogbestuurder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Afname in vuurwapengeweld regtig? Cele verstaan nie en dis absurd verby. Hy’t hoeveel gewapende wagte waarvoor ons betaal? Droom oor iets anders hoed, maar die wet kan jy van vergeet! Wil jy ons eerlike burgers in kriminele verander? Tsek man dit gaan nie gebeur nie!

5 000 dienswapens verloor, 10 miljoen patrone verloor mmmmm. Verkoop of verloor? Ek verstaan nie hoe verloor mens dit nie regtig!

David ·

Ek vermoed die dryfveer is net dit:
“die owerhede wil jou ontwapen, want hulle is van plan om iets te doen waarteen jy met geweld sal wil terugbaklei, sou jy in staat wees om dit te doen.”

Hoekom ·

“When a nation mistrusts its citizens with guns, it’s sending a clear message… It no longer trusts its citizens because such a government has evil plans.” – George Washington.

Anoniem ·

Korrek, met die dat die polisie beheer verloor het oor misdaad en die toenemende aantal betogings oor swak dienslewering, moet dit nou al baie duidelik wees dat die mense gatvol is vir die regering, maar hulle klou met mag vas en sal dit nie sommer net opgee nie, die trog is al te lekker.

Objektief ·

Wat het van al die ANC se onwettige wapens geword? niemand het dit nog ooit verduidelik nie. Miskien moet Dr Groenewald bietjie vra in die parlement.

pompies ·

Die blou lig brigades moet dan ook ontwapen word wat so lekker jaag op die snelwee en almal dreig.

Gerrie ·

En mnr. Cele loop in die openbaar omring deur swaar gewapende lyfwagte. Hoekom? Voor 1994 het kabinetsministers ‘n enkele persoon gehad wat tegelyk as sy motorbestuurder en BBP Beskermer opgetree het. Dit vertel jou nogal iets van die “Nuwe SA” of hoe?

Sarel ·

Ek hetmy eie idees rondom die
” ontwapening” maar mag dit nie hardop noem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.