Mianmar twee jaar na die staatsgreep

Nasionale vlag van Mianmar (Foto: Artur Widak / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

In Februarie 2021 het die weermag onverwags weer die beheer in die Suid-Oos-Asiatiese staat Mianmar oorgeneem. Dit volg na vyf jaar van ʼn demokratiese regering.

Mianmar het ʼn lang geskiedenis van militêre beheer, maar na ʼn versigtige oorgangsproses met allerhande toegewings aan die weermag het dit gelyk asof die demokratiese bewind gevestig is. Natuurlik kon die demokratiese regering, onder leiding van die ikoniese en dikwels opgehemelde media-liefling me. Aung Sang Suu Kyi, nie aan talle verwagtings voldoen nie. Sy het, eers in die tuig, eerder soos ʼn politikus wat alle belange in ag moet neem en eerste op haar land fokus as soos ʼn internasionale vredesengel opgetree.

Dit het tot ontnugtering in die Westerse media gelei, wat haar soortgelyk aan Nelson Mandela, tot bomenslike status verhef het. Ongeag haar versigtige optrede teenoor die magtige weermag, het die weermaghof generaal Min Aun Hlaing ʼn staatsgreep geloods na die tweede demokratiese verkiesing aan die einde van 2020 waar die weermag-party blykbaar besonder swak gevaar het. Aun Hlaing het verkiesingsbedrog deur die regering as rede vir die staatsgreep gegee, maar blykbaar was die hoofrede gerugte oor sy afdanking na die verkiesing. Suu Kyi is in hegtenis geneem en onlangs tot ʼn lang tronkstraf gevonnis weens korrupsie en verkiesingsbedrog.

Sedert die staatsgreep kom die land nie tot rus nie, alhoewel dit in die lig van talle groter wêreldkrisisse van die voorblaaie verdwyn het. Mianmar, oftewel Burma (die land se naam tot 1989), was sedert onafhanklikheid in 1948 nog altyd ʼn onstuimige land met talle etniese insurgensies, brutale diktators en opstande.

Daar was ʼn dekade van relatiewe stabiliteit, hoop en ekonomiese oplewing van omtrent 2011 tot 2021, vergelykbaar met Suid-Afrika se oorgangsproses en eerste demokratiese bewind onder Mandela. Die land het skielik ʼn toerisme- en beleggingsbestemming geword en was een van die geliefkoosde goeie nuus-projekte van die media, Verenigde Nasies en talle nie-regeringsorganisasies.

Die afgelope twee jaar is daar egter feitlik permanente onrus.

Groot dele van die bevolking, veral die jongmense, aanvaar nie die hernude diktatorskap nie en is in gewelddadige verset. Daar is ook ʼn toenemende spanning binne die opposisie, tussen die ou garde van Suu Kyi wat nog steeds geweldvrye verset bepleit, en die heethoofdige jeug wat die bewind met alle middele wil beveg en soldate uit hinderlae aanval.

ʼn Verdere dimensie is die etniese rebelle in Mianmar se grensdistrikte, wat aandring op outonomie. Hulle is sedert onafhanklikheid in opstand teen die regering, ongeag of dit ʼn demokratiese of diktatoriale een is. Met sommige kon daar wel wapenstilstandsooreenkomste beding word, maar dit hou gewoonlik nie lank nie, en ook vir hulle het oorlog ʼn leefwyse geword wat deur smokkelary met skaars hulpbronne en dwelms aan die lewe gehou word.

Dat die weermag nog steeds, ten spyte van wye internasionale veroordeling, sanksies en binnelandse onrus, aan bewind is het te doen met beheer oor belangrike hulpbronne soos gas en minerale, wat veral in die magtige buurland China gesog is.

Die VSA en ander Westerse lande se aandag is tans volledig op Rusland en Oekraïne gevestig, en ook andersins is daar tans soveel konflikgebiede in die wêreld dat Mianmar vergeet word. Dit moet nog gesien word wie die langer asem het, maar Mianmar se geskiedenis gee min rede tot hoop dat die weermag gou sy mag weer sal opgee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Suu Kyi moes destyds die hele top struktuur van die weermag in die middel van die nag in hegtenis neem, verhoor en voor dagbreek terregstel. Bulldozers moes terselftertyd alle militêre bassise platstoot.

Jakkie ·

Onverwags???Die weermag het vir langer as 50 jaar regeer ten midde van ongelooflike etniese geweld sedert 1948….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.