My deksels, Marelize, jy’s hier om te bly!

‘n Skermskoot uit die video van Marelize Horn se nou beroemde val.

In Februarie vanjaar ry die 19-jarige Marelize Horn met haar fiets by Affiespark in Windhoek teen ’n rugbypaal vas en haar ma sê op video die f-woord. Die video van dié insident word later deur honderde duisende mense op sosiale media gekyk en Marelize word ’n sensasie.

Later in die jaar word drie onbekende manne met regte boere-kortbroeke só gewild dat hulle ’n musiekvideo maak wat binne weke deur meer as een miljoen mense gekyk word. Teen die einde van 2019 sing duisende Afrikaners by musiekfeeste reg oor die land hul sorge vir ’n kort rukkie weg met die Afrikaanse treffer van die jaar: “Boerepompie”.

Wat presies het hier gebeur? Waarom vind ons “my f*k Marelize” so snaaks? Waarom word Boersheid ál meer aantreklik? Waarom spreek ’n Afrikaanse liedjie wat lekker tradisionele musiek met die konsertina kombineer – met lirieke wat party mense laat wonder – tot so ’n groot gehoor? “Boerepompie” is reeds deur byna vyf miljoen mense op YouTube gekyk wat dit een van die grootste Afrikaanse treffers van alle tye maak.

’n Lang lys van interessante tendense kan hierby gevoeg word. Dink maar aan die voortdurende groei in bywoning van Geloftefeeste, die herdruk van ou Afrikaanse kinderboeke, maar ook (op ’n baie meer politieke noot) die groot verskuiwing wat in Mei vanjaar onder Afrikanerkiesers by die stembus plaasgevind het en die voortdurende groei in ledetal van die Solidariteit Beweging se verskillende lede-organisasies. Selfs Maroela Media se konstante groei in lesers spreek van iets groter wat in die Afrikaanse gemeenskap aan die gebeur is.

Dit spreek om nostalgie, maar ook vernuwing. Dit spreek van die behoefte om te ontvlug, maar ook die besef van die krag van eie taal en kultuur en identiteit. Dit spreek van ons liefde vir ons eie boersheid, die grond van ons vaders en ons vermoë om vir ons eie klein foutjies aan te hou lag. Dit spreek ook van ons vermoë om aan te pas, te moderniseer en steeds een van die ekonomies-suksesvolste volkere in die wêreld te wees – met besonderse hoë vlakke van entrepreneurskap, kundigheid, vaardigheid en innovasie.

Jan, Jan en Jan in die musiekvideo vir ‘Wys jou Vleis’ (Foto: skermgreep uit die video)

Ons sien in onsself ’n Marelize wat in ’n rugbypaal vasry en ons wil saamlag. Ons sien in onsself ’n boer met ’n kortbroek op ’n koue Karoo-oggend, midde-in ’n verskriklike droogte en ons wil hê almal moet saam die boer ondersteun, die boer vier en die boer wees! Ons wil almal net soms bietjie minder skuldig voel en stout wees, lag en van die land se verdomde klomp probleme vergeet.

Om hierdie tendense egter aan ons toekomsverwagtinge te verbind, is dit belangrik om die Suid-Afrikaanse konteks waarin dit alles gebeur, te ontleed.

Suid-Afrika verkeer in ’n groot gemors. Die lys van probleme is lank, baie lank. Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, korrupsie op alle vlakke van regering, ’n jare lange knellende droogte, vervallende infrastruktuur, misdaad wat met ’n verswakkende polisiediens nie opgelos kan word nie, stygende werkloosheid, vreeslike armoede en vele meer. Dit is duidelike dat ’n paar baie moeilike jare vir die land voorlê.

Die Afrikanergemeenskap beleef ook die een laagtepunt ná ’n ander soos wat Afrikaanse universiteite verdwyn, al hoe meer skole verengels, die platteland in duie stort, die misdaadkrisis geen einde ken nie en diskriminasie op al hoe meer terreine steeds toeneem. Daarmee saam is daar min van ’n samehang tussen Afrikaners met tradisionele kerke wat toenemend leegloop en die bekende kerkverbande wat nie daarin slaag om enige vorm van leierskap te toon nie.

Dit was gedurende 2019 duidelik dat ’n nuwe vlaag emigrasie die land getref het… elkeen van ons het familielede en vriende wat vanjaar emigreer het, wat in die proses is om te emigreer of wat minstens dit tans sterk oorweeg om te emigreer. Op sosiale media is die boodskap duidelik: Ons het genoeg gehad van belastingmisbruik, vervallende infrastruktuur, nuwe rassediskriminasie en onveilige lewensomstandighede. Ook ekonomies is Afrikaners toenemend onder groot druk weens die algemene ekonomiese probleme in die land, maar ook weens uitdagings om werk te kry en, wanneer jy ’n werk het, bevorder te word. Verder word swartbemagtiging ’n sweep waarmee blanke entrepreneurs geslaan word en sukkel wit studente om studiebeurse te kry.

Moet ons nie maar almal oppak en trek nie? In ’n sekere sin moet ons wel, in ’n ander juis glad nie.

Snotkop en Ricus Nel sing “Boerepompie” (Foto: Verskaf)

Wat die eerste betref is dit duidelik dat Afrikaners nie maar net kan bly voortploeter asof niks in die land die afgelope drie dekades verander het nie. Indien ons deeglik in ons eie geskiedenis gaan delf, sal ons sien dat ons oorlewing aan die suidpunt van Afrika nog altyd gekoppel was aan ons vermoë om juis wanneer dit nodig is, op te pak en te trek. Ons het van die Kaap na die binneland en oosgrens van die Kaapkolonie getrek en daarna na die binneland van wat vandag Suid-Afrika is. Ná die Tweede Vryheidsoorlog het ons stede begin bou en weer eens aangepas om ’n stel baie moeilike omstandighede te bowe te kom. Vandag sal ons moet fokus op konsentrasie, organisasie en die kombinasie van goeie leierskap, nodige opofferings en groter samewerking om nuwe oplossings vir die huidige stel uitdagings te skep.

Nou wat het dit alles met Marelize, boersheid en alles wat ons in 2019 laat lag en dans het, in gemeen?

Ten spyte van alles wat tans in Suid-Afrika gebeur het 350 jaar se geskiedenis ook bewys dat die Afrikaner oor die vermoë beskik om aan te pas, terugslae te oorwin, met voormalige vyande saam te werk en uiteindelik onlosmaaklik deel van Suid-Afrika te word, sonder om ooit ons geloof, taal, kultuur en identiteit op te gee.

Ek het in 2019 die voorreg gehad om vyf keer oorsee te gaan. Geen afkeur in misdaad, korrupsie of watter vlak van diskriminasie ook al in Suid-Afrika kon my keer om elke keer, wanneer KLM, Air France, Emirates, Ethiopian of Qatar se vliegtuig die aanloopbaan in Johannesburg raak, ’n gevoel van heerlike tuiskoms te beleef nie.

Sonder om enigsins te insinueer dat positiewe dinge tans die negatiewe in Suid-Afrika oortref, sien ek baie dinge raak wat ook werk. Ons lughawens is skoner en die personeel vriendeliker as enige van die meer as twintig lughawens in ander lande waar ek die afgelope twee jaar was. Miljoene gewone Suid-Afrikaners werk daagliks deksels hard net om ’n lewe te maak. Toe ek in Julie by die lisensiekantoor in De Aar instap, begroet vriendelike personeel in ’n netjiese kantoor my. Vyftien minute later is die hele proses afgehandel en drie weke later kon ek my lisensie gaan oplaai. Ek het redelik dieselfde ervaring by ’n kantoor van die departement van binnelandse sake gehad.

Baie dinge werk wel in Suid-Afrika.

Vir elkeen van my positiewe ervarings gedurende 2019, is daar lesers wat voorbeelde van die teenoorgestelde sal kan noem. Ons weet dit almal. Ons weet van die groot probleme van die land. Ons behoort egter ook van die ongelooflike potensiaal van Suid-Afrika en sy mense te weet. Ons moet meer dankbaar wees oor die man op die lughawe wat die badkamer sy “office” noem en sorg dat dit altyd (en ek het vanjaar 14 keer van en na OR Tambo Lughawe gevlieg) skoon is. Ons moet die goeie rondom ons probeer raaksien.

Geloftedag by die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Johan van Vuuren)

Dan moet ons ook met groter moeite ons eie geskiedenis bly herontdek en waardeer. Nie Ramaphosa of enige gekke woordvoerder van die EFF mag ons laat glo dat ons voorouers indringers en gronddiewe was nie. Ons geskiedenis is nie dié van engeltjies nie, maar geen volk in hierdie wêreld kan op daardie status aanspraak maak nie. Ons geskiedenis maak dit egter duidelik dat ons ’n roeping en doel in Suid-Afrika het. Eerstens om as Afrikaner te bly voortbestaan en om die nodige te doen om daardie voortbestaan moontlik te maak soos wat omstandighede om ons verander.

Professor Hermann Giliomee sluit sy boek oor die Afrikaner soos volg af: “…maar hulle is besig om hul eie besondere gemeenskapsidentiteit te herontdek en te herbeskryf. Dit is ’n identiteit wat gesmee is in hul komplekse en onstuimige geskiedenis, in hul liefde vir die taal wat hulle praat en hul toewyding aan die pragtige, maar harde land waarin hulle woon. Hul uitdaging is om hul geskiedenis reguit in die oë te kyk, om hul liefde vir hul taal en hul land te koester en te vernuwe, en om hul kulturele erfenis aan ’n volgende geslag oor te dra. As hulle hierdie uitdaging aanvaar, sal hulle deel word van ’n nuwe, demokratiese Suid-Afrika op hul eie, besondere manier.”

Om te emigreer is geen oplossing nie. Ek is seker elke groot leier in ons geskiedenis sou selfs vandag met my daaroor saamstem. Ons boodskap in 2020 moet aan mekaar, aan die res van Suid-Afrika en die ganse wêreld wees: My deksels Marelize, jy en ek en ons is hier om te bly!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anti Da ·

Wil graag die sogenaamde nuwe suid afrika se verval verder in 2020 van my stoep sit en bekyk. Die wat daar in geglo het , is ook maar stil. Koop solank ekstra kerse. vat jou pension geld en gaan koop n lam tjop . Sing die Stem terwyl jy braai. Ons wittes is kinders van Afrika. Hier het ons gesweet, gebloei , gelag en gehuil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.