Deur Daniël Eloff
Prof. Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad het onlangs geargumenteer dat die Suid-Afrikaanse erfreg op sy kop gedraai moet word. De Vos is van mening dat testeervryheid onregverdig en moontlik ongrondwetlik is omdat dit die ongelykhede binne Suid-Afrika in stand hou. Die oordrag van welvaart tussen geslagte verhoog ongelykheid en maak dat die ongelykheid oor generasies heen voortduur, sê De Vos.
De Vos argumenteer dat die reg om te erf onwettig verklaar moet word of alternatiewelik dat die staat ’n 100%-boedelbelasting moet instel om te sorg dat welvaart en rykdom herversprei kan word.
Alhoewel De Vos se voorstel moontlik vir sommige mense edel mag klink, is dit alles behalwe. Soos die filosoof Albert Camus geskryf het, die welsyn van die samelewing was nog altyd die alibi van tiranne. Die voorstel om die reg om te erf en testeervryheid (die vryheid om jou eiendom te bemaak aan wie die individu self kies deur middel van ’n testament) omver te werp, is soos verskeie ander sosialistiese en statistiese beleidsvoorstelle bloot ’n nuwe poging tot onteiening sonder vergoeding.
Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ’n poging deur die staat om aan individue voor te skryf hoe hulle hul inkomste moet bestee wanneer dit kom by gesondheidsorg. Die voorstel van voorgeskrewe bates is ’n poging deur die staat om aan die individu voor te skryf hoe en waarin hulle hul geld moet belê. En die uitwissing van die reg om te erf, is ’n poging om aan individue voor te skryf aan wie hulle hul besittings mag bemaak.
Die mees effektiewe wyse om rykdom te herversprei en die probleem van ongelykheid op te los, is om te sorg dat individue binne die ekonomie vrylik kan handel dryf sonder uitbuiting, maar ook sonder belemmerende regeringsinmenging. Niks het meer gedoen om die mensdom uit armoede te lig as die markekonomie nie. Hierdie bewering is waar, of ons nou kyk na ‘n tydperk van dekades of eeue. Die aantal mense wêreldwyd wat tans met minder as ongeveer twee dollar per dag leef, is minder as die helfte van wat dit in 1990 was.
Die voorstel deur De Vos is meer as net ’n drastiese en drakoniese inperking op testeervryheid en die reg om te erf. Die voorstel is eenvoudig blind vir menslike natuur. Indien die reg om te erf afgeskaf word, of dat daar ’n 100%-boedelbelasting gehef word, sal mense eenvoudig maniere kry om dit te ontduik. Mense het ’n intrinsieke bereidwilligheid om belasting te betaal, maar teen 100%-boedelbelasting verdwyn daardie bereidwilligheid besonder vinnig.
Suid-Afrika het nie ’n ongelykheidsprobleem nie. Suid-Afrika het probleme en uitdagings om rykdom te skep. ’n Belet om erfreg skep nie welvaart of rykdom nie en sal dus nooit die probleem van ongelykheid kan oplos nie.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
21 Kommentare
Die wêreld het ‘n vreemde plek geword. Iewers in die nabye toekoms gaan daar ‘regstellings’ gedoen moet word om weer by gesonde-verstand-samelewing uit te kom.
Maar dit gaan nie mooi wees nie……
Ek glo vir geen oomblik dat de Vos ‘n edel doelwit het nie. Inteendeel, die voorstel van ‘n wetsgeleerde om deur wetgewing mense te wil verhoed om vir hulle kinders na te laat sodat nog meer tot beskikking kan wees vir ‘n korrupte staat, laat ‘n mens wonder oor sy oordeelsvermoë, laat staan nog sy kennis van die menslike natuur. Sy absurde konsep het my herinner aan die volgende stelling van Ayan Rand – “When you see that trading is done, not by consent but by compulsion; when you see that in order to produce, you need permission from men… Lees meer »
Ek wil eerder nie kommentaar lewer nie, maar ek brand eerder alles wat ek besit, self my geld ook…..
Oud Prof Sampie Terreblanche het 2 dinge gesê wat my altyd sal bybly: 1. Die kringloop van armoede veroorsaak dat die nageslag van die armes arm bly. Die kringloop moet verbreek word. 2. Armoede sit nie in jou beursie nie, maar in jou kop. Om bates te verdeel gaan geen verskil maak aan wat in die amoedige se kop aangaan nie. Hulle sal arm bly. Ons moet begin by opvoeding. Dit sal die verskil maak. Om die rykstes se bates te verdeel by hul dood moet ons hul produktiewe bates verkoop. Hul fabrieke toemaak en dit onder die armes verdeel.… Lees meer »
Ou gesegde – ou is so arm hy het net geld. Maar dis ook waar party mense is só stupid, al wat hulle het is geleerdheid. “Virtue signaling” om van te braak. Arm groot geword (baie) Die bietjie wat ek weet sal NOOIT na die ondankbare kaders gaan. Stupidus Maximus.