‘Nein, nein, nein!’ in Liechtenstein

Vaduz-kasteel is die amptelike woning van die prins van Liechtenstein. Foto: Pixabay

Nee, nee en nee. Dit is hoe die kiesers van een van die wêreld se interessantste mikrostate Sondag in een referendum besluit het. Kiesers in Liechtenstein moes Sondag oor drie belangrike sake in ’n referendum besluit en in al drie gevalle was die antwoord ’n harde en duidelike nee.

Ten spyte van druk uit buurlande soos Switserland en voorstelle van politieke partye het kiesers in Liechtenstein Sondag by hul konserwatiewe aard gehou en teen gelyke verteenwoordiging van mans en vroue in politieke posisies, dubbele burgerskap vir immigrante en die aangaan van staatskuld vir ’n nuwe treinverbinding gestem.

Om die belangrikheid van die referendum te begryp, is dit nodig om Liechtenstein as unieke mikrostaat in Europa te verstaan. Liechtenstein met sy Duitssprekende bevolking is die vierde kleinste land in Europa en beslaan sowat 160 km2 in die Alpe – ’n gebied so groot soos Kimberley in die Noord-Kaap of die helfte van die oppervlakte van die Pretoriase voorstad Centurion. Met ’n bevolking van minder as 39 000 mense is dit ook een van die kleinste bevolkings van onafhanklike state in die wêreld.

Die Prinsdom van Liechtenstein het ’n ryk geskiedenis wat strek deur die Romeinse Ryk, die Rynbond, die Duitse Bond, die Oostenryk-Hongaarse Ryk en die krisisse van die twee wêreldoorloë. Ná die Eerste Wêreldoorlog het Liechtenstein ’n noue samewerkingsooreenkoms met Switserland gesluit en dit word steeds vandag in stand gehou. Liechtenstein was in 1984 die laaste Europese land wat stemreg aan vroue toegestaan het in ’n referendum waarin slegs 51% van kiesers ten gunste van dié verandering gestem het.

Die land is vandag, vergeleke met die meeste ander Europese lande, besonder konserwatief met meer as 85% van burgers wat hulself as Christene beskou. Christelike onderwys is verpligtend in skole en die Katolieke Kerk word in Liechtenstein se grondwet as die “landskerk” beskryf. Kerke geniet spesiale beskerming in die land en katolieke en protestantse kerke word deur die staat gefinansier.

Die land is ’n prinsdom en semigrondwetlike monargie met die Prins van Liechtenstein as regeringshoof met magte gelykstaande aan ’n president in ander lande. In 2003 het twee derdes van die land se burgers in ’n referendum ten gunste van ’n nuwe grondwet gestem wat nóg meer mag aan die prins toeken.

Liechtenstein is vandag een van die lande in die wêreld met die hoogste per capita-inkomste. Dit was egter nie altyd so nie. Ná die Tweede Wêreldoorlog was die landjie baie arm en moes die prins talle kunsskatte en ander besittings verkoop. Teen die 1970’s was Liechtenstein egter reeds een van die welvarendste lande in die wêreld weens lae maatskappybelasting wat verskeie internasionale maatskappye daarheen gelok het.

Liechtenstein het ’n parlement met 25 verkose lede wat wette kan maak en goedkeur. Die prins het die mag om enige wet te veto en hy kan ook oor enige belangrike sake ’n referendum uitroep. Direkte demokrasie speel ’n belangrike rol in Liechtenstein en kiesers word gereeld in ’n referendum gevra om die finale besluit oor sake te neem.

Dit is dan ook presies wat tydens Sondag se referendum gebeur het. In November verlede jaar is ’n voorstel by die parlement van Liechtenstein ingedien om die land se grondwet te verander sodat gelyke verteenwoordiging van mans en vroue in politieke liggame in die land aangemoedig word. Die parlement het in Maart vanjaar teen die voorstel gestem en dit is toe direk na die kiesers verwys. Van die vier politieke partye in Liechtenstein was twee teen die voorstel gekant, een het neutraal gebly en een het dit gesteun.

Een van die politieke partye in Liechtenstein het reeds in 2015 voorgestel dat die land dubbele burgerskap aan immigrante moet toestaan. In Maart vanjaar het die parlement in Liechtenstein ten gunste van dubbele burgerskap gestem en is die saak vir ’n finale beslissing na die kiesers verwys. In die parlement het drie van die vier politieke partye die voorstel vir dubbele burgerskap gesteun en daar was ook veral uit die res van Europa heelwat druk vir die goedkeuring hiervan.

Op 3 Junie vanjaar het die parlement in Liechtenstein met 18 stemme teen 7 ’n voorstel goedgekeur vir die befondsing van ’n dubbellyntreinspoor tussen Tisis en Nendeln wat die Switserse spoornetwerk met die Oostenrykse S-Bahn sou verbind en dus tot ’n skerp toename in treinvervoer deur Liechtenstein aanleiding sou gee. Drie van die vier politieke partye in Liechtenstein het dié voorstel gesteun.

Foto: Pixabay

Toe die uitslag van die referendum laat Sondagaand bekendgemaak is, het ’n oorgrote meerderheid van kiesers egter al drie voorstelle verwerp. Die voorstel oor gelyke politieke verteenwoordiging tussen mans en vroue is deur 78,8% van kiesers verwerp. Byna 62% van kiesers het teen die voorstel oor dubbele burgerskap gestem en meer as 62% van kiesers het die spoorprojek verwerp.

Terwyl byna geen internasionale media oor die referendum of die uitslag berig het nie, het die uitslag die unieke politieke aard van Liechtenstein bevestig. Toe Prins Hans Adam in 2003 voorgestel het om die Grondwet van Liechtenstein te wysig, was daar ook wye veroordeling vir sy voorstelle. Die Europese Raad het in 2003 die veranderde grondwet skerp veroordeel. Tog het twee derdes van kiesers ten gunste van die nuwe Grondwet gestem.

Terwyl die Grondwet die mag van die prins uitgebrei het, het dit ook die mag van die burgers uitgebrei met veral klem op direkte demokrasie en die gebruik van referendums as ’n finale beslissing oor belangrike sake. Die politieke model in Liechtenstein is sterk op vertroue gebou. Burgers het oor die jare heen vertroue in die prins opgebou en omdat hy nie sy mag misbruik nie, ondersteun hulle sy uitgebreide magte, terwyl die prins in diens van die mense staan en referendums gebruik om burgers die finale seggenskap oor belangrike sake te gee.

Die uitslag van Sondag se referendum het die onafhanklikheid van die burgers van Liechtenstein bevestig. Hoewel die land baie klein in oppervlakte en bevolking is, het sy burgery die selfvertroue om vir hulself oor belangrike sake te besluit. Met slegs 39 000 burgers staan Liechtenstein vir geen ander land terug nie en laat die burgers hulle ook nie deur die politieke elite in Europa of selfs hul eie politieke leiers manipuleer nie.

Sondag se stemming was een vir politieke meriete, die beskerming van eie kultuur en ’n duidelike eis vir assimilasie van immigrante en vir finansiële verantwoordelikheid in staatsbesteding. Dit was egter ook ’n stemming ten gunste van die bevestiging van Liechtenstein se onafhanklikheid – ’n klein monargie met ’n burgery wat vir hulself dink en besluit én wat as mikrostaat sy skoene volstaan as volwaardige onafhanklike staat in Europa en in die wêreld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vrijburger ·

Baie interessant. Veral die groot persentasie waarmee gelyke politieke verteenwoordiging verwerp is.

Andries ·

‘n Eensoortige bevolking van verstandiges wat oor sake saamstem – mens sal jaloers raak . . .

Josef du Toit ·

In navolging van Duits kan ons in Afrikaans en Nederlands van die regerende prins van die Vorstedom Liechtenstein, as Vors skryf. In ons Wes-Germaanse neef Engels is dit nie moontlik nie. Die Vors van Liechtenstein, het die merkwaardige prestasie om die enigste staatshoof ter wêreld te wees, wat ‘n aanhanger is van die sogenaamde “Oostenrykse Ekonomiese Skool”, die mees Vrye Mark gerigte ekonomiese denkrigting, waarvan oudlid van die Amerikaanse kongres, Ron Paul, en sy seun, Amerikaanse Senator Rand Paul, meer bekende eksponente is. Aan die oënskynlik negatiewe kant het Liechtenstein, soos ander in Europa, in die tweede helfte van die vorige eeu, bewustelik reuse immigrasie van Turkye aangemoedig ter arbeidsaanvulling, bv in die Liechtenstein maatskappy Hilti – miskien die wêreld se bekendste handelsnaam vir muurbehangsel-instrumentasie. In die tussentyd, het Liechtenstein ‘n versigtiger immigrasie-beleid, selfs op unieke wyse ook binne die Europese Ekonomiese Area beding.

Jaco ·

Beste Josef. Jy is heeltemal reg. Vorstedom en Vors is definitief in Afrikaans beter. Ek stem ook met jou saam die probleem van gasarbeiders. Dit is ‘n algemene Europese probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.