NSFAS betaal bevoorregte boewe, pleks van behoeftige studente

Deur Louis Boshoff

Louis Boshoff

Die probleem

R77,49 miljard is die bedrag wat wanbestee is deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) in die 2020/21-boekjaar.

Om jou ʼn beter idee te gee – dit is die prys van 1,29 miljard Steers Wacky Wednesdays, of 1,19 miljard Spur Student Specials. Hierdie bedrag moenie eintlik gemeet word aan bekostigbare studente-etes nie, maar eerder aan die 36 900 Range Rovers wat daarmee gekoop kon word.

Volgens die ouditeur-generaal se algemene verslag oor nasionale en provinsiale oudituitkomste vir 2020/21 is NSFAS die enkele staatsdepartement met die meeste wanbesteding. Wanbesteding wat boonop nog tot geen vervolging gelei het nie.

Terwyl Blade Nzimande, die minister van hoër onderrig, spog met NSFAS wat tans meer as 700 000 studente finansier, verswyg hy die ontsettende hoeveelheid belastinggeld wat nié aan studiegelde bestee is nie, maar iewers langs die pad verduister is.

Daar is dus gesteel van die middelklas én die minderbevoorregte, van die belastingbetaler én die behoeftige – van die belastingbetaler omdat hy moet hoes vir Jan Taks, maar niks goeds in ruil daarvoor ontvang nie, en van die behoeftige voornemende student omdat hy finansiering vir universiteitsopleiding belowe is en dan niks daarvan ontvang nie.

Afhangende van waar presies die geld wegraak, word daar indirek ook van universiteite gesteel.

Die oorsake en grondliggende probleme

Hierdie wanbesteding spruit uit die alombekende korrupsiekultuur wat binne die ANC-regering heers.

Wáár presies die tjeks onder die tafel aangegee word, weet niemand nie en hoe laat snags die gekonkel plaasvind, bly ʼn raaisel, maar ons sien bedags die blink BMW’s, die imposante landgoedherehuise en die BBP-blouligkonvooie.

Ons weet die staatskas word geplunder en ons belasting word vermors. Spesiale ondersoekeenhede word saamgestel en kommissies word afgevaardig, maar die soustrein stoom voort.

Staat moet die oplossing vir alles bied

Die oorsaak hiervan kan egter verder teruggevoer word as die korrupsiekultuur binne die ANC-regering. Nog dieperliggend spruit dit uit ʼn ideologie van staatshulp as die oplossing vir alle probleme.

Is toegang tot tersiêre opleiding die probleem? Dan moet staatsbeurse seker die enigste oplossing wees. Is ongelykheid die probleem? Dan moet ʼn nuwe wet die verskille platvee. Is gebrekkige gesondheidsorg die probleem? Dan moet NGV die oplossing wees.

Oral word dienste “gratis verklaar”, so asof die regering uit die niet finansiering daarvoor kan vind. So asof die publiek niks goeds met hul inkomste sou doen as dit nie aan belasting bestee word nie. Links en regs word regte toegeken, voor en agter word vryhede ontneem en bo en onder word belastings gehef.

Kort voor lank is die bevolking só deur staatsbestuur omring dat hulle nie eens buite die grense daarvan droom nie. Hieruit sien ons die houvas van NSFAS op mense se idee van befondsing vir universiteitsopleiding.

Verhewenheid van universiteitsopleiding

ʼn Derde, en miskien selfs nog dieperliggende oorsaak van die NSFAS-gemors waarin ons ons bevind, is die ideologie-gedrewe verheffing van universiteitsonderrig bo enige ander opleiding of beroep. Die universiteit word geskets as die uitsluitlike en glansryke poort tot ʼn suksesvolle en waardige beroep.

Die toga met tossel word die enigste kleed van aansien en die sertifikaat die onontbeerlike stempel vir status of sukses. Maar selfs die hoogste graad is op die ou end onderworpe aan die markte, en kwalifikasies skep nie werk nie — vraag na ʼn produk of diens doen.

In plaas daarvan dat die magte van die dag dink aan die uitnemendheid van goeie ambagsmanne sonder akademiese ambisie, aan entrepreneurs sonder eretitels en aan boere, bouers en bakkers sonder die Baccalaureusgraad.

Of soos Salomo dit sou stel: “Sien jy ʼn man wat vaardig is in sy werk — hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie.” Plaas dat daar vir hulle ʼn werkbare pad geskep word om daardie vaardighede buite die universiteit te verwerf — in diens of anders.

Tans lyk dit eerder of die domino’s só val: Die belang van universiteitsonderrig word onrealisties beklemtoon. Daarna word universiteitstoelating ʼn reg. Dan word tersiêre opleiding “gratis verklaar”. Dan maak skoolverlaters gereed om by die universiteit op te daag. Dan die vraag: “Het iemand aan befondsing gedink?” Dan beland die geld wat daar wel is in burokraat-boewe se binnesakke.

Wat is die oplossings?

Maar hier op moedverloor se vlakte sal ons aan oplossings dink, en werk.

Eerstens moet ons aandring op die vervolging en vonnisoplegging van die skuldiges. Ja, dit is ʼn uitgerekte, duur en wanordelike proses. Nee, die vastrek van een skuldige gaan nie voorkom dat verdere geld gegaps word nie, maar dit vertraag ten minste die verval van bestaande instellings terwyl ons aan die volgende stap werk.

Eie instellings moet opgerig word. Dit verwys nou na universiteite, ambagskolleges en enige minder formele pad tot ʼn lewensvatbare beroep. Dit is ook duur en uitgerek, maar noodsaaklik.

Laastens moet ons druk plaas vir alternatiewe beleid. As ons in elk geval ʼn privaat oplossing vind, wil ons seker nie aanhou betaal vir die staat se onsuksesvolle skemas nie? Dit is veral hier waar die werklikheid nog vêr van die plan is, maar dit sal meer werkbaar wees as die werklikhede op grondvlak eers anders lyk.

Dít dan ʼn beskeie poging om ʼn bietjie perspektief te gee op die NSFAS-nagmerrie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Akhenatha ·

Dankie dat daar jong mense is soos hierdie een wat oplossings soek in die hooimied van bedrog.

Republikein in die Wes Kaap ·

80% van die grade is deesdae nutteloos. Doen eerder kort kursusse wat jou vaardighede leer om onmiddelik iets nuttigs te doen, enige plek in die wêreld. Verlede jaar het 25% van die Covid bestaanstoelaes aan gegradueerdes gegaan, insluitend LLBs, BAs en BScs.

annie ·

Die oplossing is reeds in 1994 aan ‘n groot klip gebind en in die diepsee iewers onbekend oorboord gegooi. Dis weg! Daar is nie nog een oor nie. Geen duplikaat. Wat voorlê is net die gevolge en niks anders mooier of goedkoper nie. Die buitewêreld kan nie help nie. Hulle soek self ook plek ver weg in die ysige strormsee om die oplossings vir hul chaos te dump of het dalk reeds. So?

Schalk ·

Die befondsing kom van ons land wat onder die tafel in verskeie maniere verkoop word aan die buiteland. Ons weet wie, maar iemand word skatryk wat geen langtermyn plan van welwillendheid het nie. Vernaam nie teenoor die land se belasting bydraers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.