Ons boer, want dis ons roeping

Deur Lion du Plessis

Landboubedryf

Landbou is die oudste beroep in die wêreld.

(Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Die oomblik toe die Here vir Adam en Eva uit die tuin van Eden gejaag het, was Adam se eerste taak om kos te produseer vir hom en sy gesin.

Vandag is landbou die belangrikste beroep ter wêreld. Daar is tans 570 miljoen plase wêreldwyd, waarvan meer as 80% familieplase is.

In Suid-Afrika is daar tans ongeveer 32 000 boerderyeenhede. Dus produseer ʼn half persent van ons populasie kos vir 60 miljoen mense. Wat skrikwekkend is, is dat die norm in die wêreld tans so is dat die aantal boerderye elke 15 jaar halveer.

Daar is verskeie redes hiervoor. As ons kyk na Suid-Afrika, is dit meestal as gevolg van onsekerhede in verband met grondhervorming, ekonomiese onstabiliteit, verstedeliking (waar kinders nie wil boer nie) of waar daar nie voldoende opvolgbeplanning gedoen word nie – veral by familieboerderye.

Wat dan gebeur is groter maatskappye of boerderye neem die grond oor en produseer kos. Of kleiner eenhede smelt saam met korporatiewe maatskappye (ons sien dit veral in die VSA) en werk dan saam om kos te produseer.

Wat ons moet onthou, is dat die kos geproduseer móét word. Die mense van elke land moet eet. Dit maak die landboubedryf kosbaar en uiters belangrik!

Grond

As ons kyk na die wêreld, is 5 miljard hektaar, of 38% van die aarde se bruikbare oppervlakte, landbougrond. In Suid-Afrika is dit amper 80%! Dus sit ons in ʼn land waar 80% van die grond beskikbaar is om kos te produseer. Dit is die grond waarop ons, as landbouprodusente, ʼn lewe kan maak en terselfdertyd ons land se bevolking van voedsel kan voorsien.

Nie net maak óns ʼn lewe nie maar, as ons kyk na die 2019-statistieke, skep ons ook werk vir 3 miljoen mense op plase. 13 miljoen mense kan in die landboubedryf werk as gevolg van die boere en die res van ons bevolking het kos om te eet.

Dus maak hierdie 32 000 boerderyeenhede in Suid-Afrika ʼn reuse bydra tot ons land. Ongelukkig voel dit nie asof ons die nodige erkenning daarvoor kry nie. Maar ek sal later daarby kom.

Ek het ʼn vriend wat boer in die noorde van Duitsland, naby die grens van Nederland. In daardie streek verkoop grond vir €100 000 per hektaar – dit is sowat R1.6 miljoen per hektaar! Hoekom? Dié vriend se familie is al vir honderde jare op dieselfde plaas. Soos ons almal weet, is daar ook net soveel bruikbare landbougrond beskikbaar.

Daar kan nie meer landbougrond gemaak word nie en die aanvraag na kos word net meer, want die wêreldpopulasie word groter. Dus verhoog die waarde van landbougrond. Ons sien dit hier by ons ook as jy kyk waarvoor grond deesdae verkoop.

Geskiedenis

My gunstelingvakke op skool was landbouwetenskap en geskiedenis. Ek het geleer dat daar in ons land se kort geskiedenis al ʼn baie duur prys betaal is om op hierdie grond te kan boer. Mense het baie swaar gekry om die wêreld te tem en mak te maak sodat ons vandag nog hier kan wees.

Ek gaan nou nie ʼn geskiedenisles gee en praat oor die Groot Trek, oorloë of die konsentrasiekampe nie. Maar dit is goed wat ons kinders nie meer geleer word in die skole nie. Dit is ons verantwoordelikheid as ouers om hierdie dinge vir ons kinders te leer, sodat hulle die kosbaarheid van die grond waarop hulle grootword en die grond wat vir hulle kos produseer kan besef!

Grond is nie net iets wat jy erf nie. Hierdie grond is deur bloed en sweet gekoop en betaal. Ons moet dit oppas, sodat ons en ons nageslagte nog daarop kan boer.

Die uitdagings waarmee ons sit, soos veediefstal en plaasmoorde, is ook nie iets nuuts nie. Die boere aan die oosgrens van die Kaapkolonie het net so swaar gekry en deurgeloop onder veediefstal en plaasmoorde. Dit was een van die groot redes hoekom hulle die Groot Trek aangepak het.

Ons boer in Afrika. Die stryd sal vir ewig gestry word teen die uitdagings wat Afrika bied. Maar ons kan berus op die geskiedenis van ons voorvaders en weet ons sal anderkant uitkom.

ʼn Slim buurman van my het eendag vir my gesê – jy moet jou grond oppas, anders gaan jou plaas jou afskud! Doen moeite om onkruidbeheer toe te pas, doen moeite om nie jou lande te myn en al die grondstowwe op te gebruik nie, en doen moeite om erosiebestryding te doen.

As jy nie vandag gaan begin om jou kosbaarste bate van grond op te pas nie, gaan jou nageslag nie daarop kan boer nie. Ons het vroeër gepraat oor grondpryse en landbougrond wat in aanvraag meer word. Dit gaan amper onmoontlik word om grond te koop in die toekoms.

As jy nou grond het, hou vas daaraan, en pas dit op! Grond en water is reeds meer werd as goud.

Ekonomie

Ons almal sit tans in dieselfde bootjie waar ons ongelooflike druk ervaar in terme van die ekonomiese omstandighede in die wêreld.

Insetkostes het oornag die hoogtes ingeskiet en alles het duurder geword. Veemedisyne, kunsmis, diesel en arbeid kos ons almal ʼn arm en been. Daarom is dit uiters belangrik om jou sommetjies mooi te maak, seker te maak jy spandeer jou geld doeltreffend, en op die regte plekke, om steeds winsgewend kos te produseer.

Ons sal almal aanpassings moet maak en dalk ons boerderypraktyke verander om steeds per hektaar wins te maak. Presisieboerdery is een van die antwoorde.

Jy moet presies weet wat jy insit en wat jy uitkry. Ons kan nie meer dieselfde grondbewerkingstegnieke gebruik wat ons oupas gebruik het nie. Ons kan nie meer bekostig om onnodig lammers te verloor nie – ons moet aanpassings maak in die bestuurstyle van verskeie boerderyaktiwiteite.

Gelukkig is daar die sê-ding dat ʼn boer altyd ʼn plan maak. As daar ooit ʼn tyd was om planne te maak, is dit nou!

ʼn Ander slim buurman het vir my gesê dat jy elke jaar ten minste een nuwe ding moet probeer op jou plaas en in jou boerdery. Doen iets nuut, monitor dit en kyk of dit nie ʼn positiewe bydra kan maak tot jou besigheid nie. As dit werk, doen dit weer en brei daarop uit.

Ons sal nou in hierdie moeilike ekonomiese omstandighede berekende aanpassings móét maak om aan te hou om volhoubaar te boer. Moet ook nie te groot spronge neem nie.

Die geleenthede in Suid-Afrika se landboubedryf is onmeetbaar groot. Nie net vir produsente nie, maar ook vir verskaffers in die industrie en die dienssektor. Ons moet die geleenthede raaksien en aangryp. So kan ons almal ʼn positiewe bydra maak tot die landbou-ekonomie.

Toekoms

As jy die geleentheid het om te boer, het jy nie baie kanse om ʼn nalatenskap te los nie.

Ek sien op sosiale media een van die groot trekkervervaardigers het nou ʼn bemarkingsveldtog oor hierdie tema en dit is iets waaroor ek ook al jare dink. Jy het net 40 oeste in jou leeftyd. Jy gaan net 40 keer plant, lam, kalf, hooi maak en stroop. Na 40 jaar gaan jy of aftree of jou kinders se beurt gaan begin.

As jy nou al 20 jaar boer, is jy halfpad. Nou moet jy jouself afvra – het ek al my vorige kanse wat vir my gegun is ten volle benut en seker gemaak ek doen dit reg? Ons kan natuurlik nie alles reg doen nie, almal maak foute. Jy koop dalk ’n verkeerde bul of ram wat iets negatief in jou kudde teel, en dit vat jare om ʼn fout reg te teel.

Die punt is – as jy iets doen, doen jou bes om dit reg te doen. Maak seker jou stand is reg as jy plant. Maak seker jou koeie se kondisie is reg as jy die bulle injaag. Jy het nie baie kanse om dit reg te doen nie. Besef elke seisoen hierdie is een seisoen minder om die beste van jou boerdery te maak.

Slot

Die laaste ding wat ek graag met u wil deel, is dat elke dag geleen is. Die grond waarop jy boer is dalk in jou naam, maar dit is ook vir jou geleen.

Die aarde en alles daarop is gemaak deur ons Skepper, en Hy gee vir ons die geleentheid om op Sy grond te boer. Ons is dus net plaasbestuurders vir die Grondeienaar. Ons moet Sy grond verantwoordelik bestuur en oppas en vir die mense voedsel produseer.

Rykdom, groot trekkers, baie vee en baie grond is tydelik. Jy kan duisende hektaar boer, met baie geld in die bank, maar jy gaan niks daarvan eendag saam vat hemel toe nie.

Dit is so lekker om te boer. Dit is so lekker om elke dag in die natuur te wees. Om vars lug in te asem en naby aan jou Skepper te leef. Moenie dat jou groot besigheid en besige skedule jou ontneem van die vreugde van boerdery nie.

Die stilte wat jy binne jou kan ervaar as jy rustig by jou beeste sit wat wei, die kwaliteit tyd wat jy saam met jou geliefdes kan deel in die veld, is baie meer werd as aardse goed. Besef elke dag watter voorreg dit is om te kan boer, en sien die mooi en die lekker raak. Moenie jaag na wat jou oud gaan maak voor jou tyd nie. Boer voluit, probeer dinge reg doen, pas die grond op wat vir jou geleen is, en die res sal vanself in plek val.

En die belangrikste ding is om vergenoegd te wees met dit wat vir jou afgemeet is. Ons het nie erkenning nodig van ons regering vir die belangrike rol wat ons vertolk nie, want ons doen dit nie vir mense nie.

Ons boer, want dit is ʼn roeping. Jy is uitgekies om in die landboubedryf te werk en te woeker. Doen dit voluit, en geniet dit!

Lekker boer, voorspoed.

  • Lion du Plessis is Mpumalanga Landbou se visepresident van die hoëveld asook Ermelo-Oos Boerevereniging se voorsitter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WILLEM ·

Dis ‘n pragtige opsomming van die boerdery bedryf in SA.
Ek weet van heelwat boere wie se kinders nie belangstel om te kom boer nie { a.g.v. die huidige situasie – moorde ens. } – wat gebeur nou – plaas word verkoop aan die buurman -en in die proses word die getal boere al minder, of plaas word verwaarloos en onproduktief.
Grond hervorming moet seker plaasvind, maar die “boere” aan wie die grond toegewys word, is meestal oorlewings boere – en produseer nie vir die bevolking nie.
Kyk wat gaan aan in Brittanje – a.g.v. koste is die produksie minder en winkel rakke leeg.

annie ·

Boere is fluks, sorg vir ekonomies groei en onderhou mens en dier… maar boere moet hulself nie verhewe en heilig verklaar nie. Dit bly bloot ‘n beroep waarop self besluit is. Stedelinge en dorpenaars moet maar onkoste aangaan en ongerief verduur tov selfbeskerming. Boere kan nie glo engele sal hulle móét beskern nie want hulle is uniek en vernaam want sonder hul sterf die mensdom… hulle ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.