“Ons sal self” en geloof

Deur Theuns de Bruyn

(Foto: Eduardo Braga/Pexels)

Ons sal self. So klink die kreet wat opklink by die Solidariteit Beweging se instellings. Dit is wat nou nodig is vir Afrikaners.

Niemand anders gaan vir ons universiteite bou nie. Niemand anders gaan vir ons dienste lewer nie. Ons sal self.

Die kreet stel positief wat ons wel gaan doen, maar impliseer ook wat ons nie gaan doen nie. Ons gaan nie wag vir die staat om na ons belange om te sien nie. Die staat gaan dit nie doen nie. Ons sal self, vry van die staat.

So is daar dan baie eiesoortige instellings aan die ontwikkel. Dit is “eie” instellings. Die vraag wat ons egter moet vra: Watter basiese beginsel moet hierdie ontwikkeling onderlê?

Soewereiniteit in eie kring

Aan die einde van die negentiende eeu het die slagspreuk “soewereiniteit in eie kring” in gereformeerde kringe veral baie gewild begin word. Dit is ook die titel wat dr. Abraham Kuyper vir die inwydingsrede van die Vrye Universiteit van Amsterdam in 1880 gegee het.

In hierdie toespraak het hy “soewereiniteit in eie kring” as beginsel vir die vrye gemeenskap gestel. Wanneer elke sogenaamde lewenskring soewerein oor homself beskik, sal daar ʼn gesonde magsbalans in die gemeenskap wees.

Die staat moet byvoorbeeld hiervolgens regeer ooreenkomstig sy eie aard en doel. Die staat moet ook die soewereiniteit van elke ander lewenskring erken en respekteer. So sal die staat nie die kerk, die wetenskap of die skool voorskryf nie.

Hierdie beginsel is dan ook deur Kuyper baie deeglik teologies verantwoord. God is die soewereine of vrymagtige heerser oor die heelal. Hy het egter die mens gekroon om oor die skepping te heers. Die mens het dan die gesag wat verplig is om mag oor die skepping uit te oefen en alle weerstand teen God se wil te verbreek[1].

Hierdie gesag waaier egter uit in verskillende lewenskringe. Elke lewenskring moet ooreenkomstig sy Godgegewe doel sy roeping beoefen. Sodoende moet die mens se heerskappy oor die aarde tot uiting kom. Dan sal die gemeenskap vry wees van staatsabsolutisme.

Die staat moet hom bepaal tot sy eie kring. Die gemeenskap sal ook vry wees van oorheersing deur die kerk, wat in die Middeleeue baie keer die geval was. Die wetenskap sal vry wees om wetenskap te beoefen en sodoende die skeppingsopenbaring van God te ontgin.

Hierdie beginsel is vir Kuyper ook in geloof veranker. Niks of niemand is geloofloos nie. Almal glo iets. Elke lewenskring het ʼn geloofsuitgangspunt as onderbou[2]. Dit moet natuurlik die ware geloof in Jesus Christus wees. Alle lewenskringe moet aan sy voete onderwerp wees. Slegs dan sal ʼn gemeenskap waarlik vry wees.

God se soewereiniteit

“Soewereiniteit in eie kring” het ʼn baie gerieflike en treffende slagspreuk geword. Slagspreuke kan baie gevaarlik wees. Wie is dit nou eintlik wat soewerein is in elke kring? Is die staat soewerein in die owerheidskring? Is die kerk soewerein in die kerklike kring?

Indien ons glo dat God sy soewereiniteit aan die mens oordra of delegeer, sal ons baie gemaklik positief op hierdie vrae kan antwoord. Die mens kan egter nie ʼn eienskap hê wat God alleen besit nie. Uiteindelik kan daar net een Soewereine Heerser wees.

Vrymagtigheid sal geen vrymagtigheid meer wees as almal dit besit nie. Slegs God kan doen wat Hy wil. God staan onder geen verpligting om Homself te verantwoord nie. Die mens moet homself wel verantwoord, juis teenoor God as soewereine Heerser. Die mens besit dus geen soewereiniteit nie[3]. Die mens moet wel in elke lewenskring erkenning gee aan God se soewereiniteit. Want dit is inderdaad so dat elke mens leef vanuit ʼn geloofsuitgangspunt.

Die lewenskringe wat in ons gemeenskappe vorm, sal inderdaad ook aan ʼn geloofsuitgangspunt onderworpe wees. Onderlinge samehang tussen die lewenskringe, harmonie en vryheid, sal die gevolg wees van die korrekte geloofsuitgangspunt. Dit is dan geloof in die lewende God. Hy is soewerein in elke kring.

Die mens moet dus in elke kring voor Hom neerbuig. Die mens wat nie voor Hom neerbuig nie, word uiteindelik deur Hom neergevel[4]. Dit geld vir alle mense, geslagte, owerhede en magte[5].

Mag hierdie geloofsoortuiging die Afrikaner se vryheidstrewe onderlê. Mag ons, onder die indruk van God se soewereiniteit, vashou aan die woorde van Psalm 147:6 – “Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.”

Bronne:

[1] A. Kuyper, Souvereiniteit in eigen kring, p 9.

[2] A. Kuyper, Souvereiniteit in eigen kring, p 32.

[3] J.A.L. Taljaard, Polished Lenses, p 199.

[4] Psalm 75:7

[5] Kolossense 1:15-18

  • Theuns de Bruyn is ʼn 5de jaar student aan die Teologiese Skool te Potchefstroom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Baie te idealisties maar reggevestig. Afrikaners moet nie verwag dat as hul reg doen die vyand deur die Vader weggevee sal word nie. Ons kan ook nie die martelaars speel asof ons geen sonde het nie en in een optog die Hemelpoorte sal kan binnestroom nie. Mandela en sy entourage glo ook hulle sal voor loop in die koor.

Barend van der Merwe ·

Dit is goed dat daar nie op die regering gewag word nie. Gun egter ook ‘n bietjie ruimte vir mense wat nie meer tuisvoel in die verstikkende en verwarrende ruimte van kerke en godsdienste nie. Daar is ‘n magdom van gode, en jy praat ook maar net namens jou eie een. Jy self glo ook nie aan meeste gode nie. Ek is ook so, maar minus dan ook die een wat jy aanhang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.