Onsekerheid, konflik en magstryde in 2024

(Foto: Andrew Stutesman/Unsplash)

Die Brits-Amerikaanse historikus William Woodruff het ʼn paar jaar gelede reeds geskryf dat die voortdurende aggressiwiteit van beide individue en state ten grondslag van alle geskiedenis lê.

Die meeste internasionale ontleders is dit eens dat 2023 ʼn jaar van groeiende globale onsekerheid en vrese vir meer konflik was. Vrese vir meer konflik en oorlog oor die volgende paar jaar is ook nie ongegrond nie.

Indien ons realisties is oor die motiewe van leiers, die feilbaarheid van mense en die redes vir huidige globale uitdagings, kan ons 2024 en wat moontlik vanjaar vir die wêreld voorlê probeer verreken.

Die volgende vyf dinge sal sonder twyfel ʼn reuse-invloed op die globale verhoog in 2024 hê. Die eerste belangrike reeks gebeure is verkiesings wat in tientalle lande regoor die wêreld gaan plaasvind. Vir die eerste keer ooit sal meer as die helfte van die wêreld se bevolking in een jaar verkiesings in hulle lande aanskou. In sommige lande soos Rusland, Belarus, Azerbaidjan en Tsjad vind verkiesings bloot as ʼn rookskerm plaas om die persepsie van demokrasie te skep.

In baie ander lande soos die Verenigde State van Amerika, Brittanje, België, Oostenryk, Taiwan, Mexiko, Uruguay, Indië en selfs Suid-Afrika, kan vanjaar se verkiesings wesenlike implikasies vir die onderskeie lande, maar ook in hulle streke en selfs globaal hê. Demokrasie was in 2023 op die agtervoet met grootskaalse agteruitgang in gesonde demokratiese instellings in verskeie wêrelddele.

Die tweede belangrike kwessie wat ons vanjaar moet dophou, is die gesondheid van die globale ekonomie. Die Verenigde Nasies, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds voorspel almal ʼn verlangsaming in die globale ekonomie. Dit gaan veral vir ontwikkelende lande soos Suid-Afrika groot uitdagings skep.

Die derde kwessie wat ons vanjaar moet monitor, is die mate waartoe huidige konfliksituasies in groter oorloë kan ontaard. Die grootste risiko’s is sekerlik tans in die Midde-Ooste met Israel se militêre operasie in die Gazastrook. Hezbollah in Libanon het reeds sy aanvalle op Israel begin opskerp. Iran se kernprogram vorder fluks en die kanse vir ʼn groter streeksoorlog bly verdiep. So ook sal spanning in Asië, veral tussen China en sommige van sy buurlande, en huidige oorloë in Afrika in 2024 reuse-uitdagings bly skep.

Die vierde kwessie wat vanjaar ʼn globale impak sal hê, is die magstryd tussen die Weste en Rusland en China. Rusland is op die voorvoet in sy oorlog in die ooste van Oekraïne. China se president Xi Jinping tree toenemend selfgeldend op. Hoe die Weste, met verswakte leierskap, hierop gaan reageer, is steeds onseker.

Vir ons in Suid-Afrika kan die uitdagings van die Afrika-kontinent nie misgekyk word nie. Die Afrika-kontinent het gedurende die 1990’s en vroeë 2000’s sterk ekonomiese groei en ʼn beweging na meer demokratiese, stabiele regerings ervaar. Die afgelope tyd het hierdie positiewe tendens tot ʼn einde gekom. Terwyl die bevolking van talle Afrika-lande skerp groei, ervaar Afrika tans ʼn ekonomiese verlangsaming, ʼn toename in outoritêre regerings en meer konflik en oorlog. Dit gaan uiteindelik die hele kontinent raak en ook die risiko vir terreur en massa-emigrasie uit Afrika verhoog.

Elke nuwe jaar is ryp aan geleenthede en risiko’s. 2024 is geen uitsondering nie. Die beste manier om die nuwe jaar aan te pak, is om deeglik ingelig te wees oor die globale veranderlikes en dit in jou planne te verreken.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Jaco, die mite dat Rusland slegs verkiesings hou as rookskerm: word wakker, hou op om jou neocon-twak in ons kele af te druk. Hoekom het Donald Trump die afgelope maand feitlik elke dag in die hof gesit? Want hulle wil sy naam van die kieserslys afhaal. Is dit demokrasie?

Een groot probleem: n “vyfde kolonne”, deur SA-ners wat in Amerika studeer het, as Fulbright, Niemen, ens, en wat nou deur die VSA aangepor word om verdeling in die land te skep. So ook USAID, wie se smerige hoof, Samatha Power, verandwoordelik was vir die dood van Moeammar Gadaffi en die chaos in Libie. Sy betaal nou miljoene aan SA’nse “joernaliste” om “ondersoekende joernalisteik” te doen. Dis n set, n manier om die volk van binne af te vernietig, en dan gaan jou wonderlike demokratiese VSA n kleurrevolusie lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.