Oor verkragters en haaie

David Lilliienfeld wat onlangs ná 'n haai-aanval in Kaapstad gesterf het

Gedurende een week in April het twee onverwante menslike tragedies in Suid-Afrika afgespeel wat beide baie nuusdekking gekry het. Eerstens was daar die skandelike gebeure in Soweto waar ‘n aantal jong mans ‘n verstandelik-gestremde sewentienjarige meisie as seksslaaf aangehou en herhaaldelik verkrag het. ‘n Week later het die omgekeerde gebeur tydens twee aparte gevalle waar twee verstandelik-gestremde mans deur vroue/meisies verkrag is.

Die ander tragedie was ‘n jong, suksesvolle branderplankryer wat in die Kaapse waters deur ‘n haai aangeval is en gesterf het.

Beide die verkragtings- en die haai-aanval is wrede, emosionele en baie nuuswaardige tragedies.

Met die verkragtingsgeval was daar eenparige veroordeling van die oortreders en dit hoort so. Daar is kwalik sterk genoeg woorde om die boosheid daarvan te veroordeel. Aan die anderkant het ek nêrens van enige wraakgedagtes t.o.v. die haai wat die jongman doodgebyt het, gelees nie. En dis ook reg so.

Die haai was immers in sy natuurlike habitat waar hy volgens sy instink en natuur enige iets wat hy as voedsel beskou, sal aanval. Die haai het nie “oortree” nie. Niemand kan van ‘n haai verwag om te weet dat dit moreel verkeerd is om sekere soorte prooi aan te val nie. Haaie, soos enige ander lid van die diereryk is immers nie morele wesens wat op grond van morele- of gewetensoortuigings besluite kan neem nie. Alle diere word in hulle gedrag gelei deur natuurlike instink en drange en gewoontes wat deur positiewe of negatiewe assosiasies uit die verlede gevorm is.

Daarom is ek een van die wat huiwerig is dat diere – selfs al het mense hulle teen hulle wilde natuur probeer mak maak – dood gemaak moet word as hulle instinktief opgetree en mense in die proses leed aan gedoen het.

Dis egter ‘n ander storie in die geval van die verkragters. ‘n Mens sukkel om hulle boosheid en jou afkeer daarvan te beskryf. Jy wil dit “onmenslik” noem. En tog doen mense dit. ‘n Mens is ook in die versoeking om dit “dierlik” te noem. Dit sou egter verkeerd wees. Diere verkrag nie. Dis teen ‘n dier se natuur om te verkrag. Paring tussen diere is ‘n wedersyds-instemmende gebeure wat natuurlik en instinktief gebeur.

Alhoewel die mens ook ‘n natuurlike seksdrang het, kan dit nooit beskou word as iets wat bo en buite sy beheer as morele wese beskou word nie.

Die feit dat God die mens na Sy beeld en gelykenis geskape het, word onder andere sigbaar daarin dat die mens ‘n morele wese is met die vermoë om keuses te maak wat selfs teen sy natuurlike drange indruis. Dit beteken dat die mens geskape is met die vermoë en verantwoordelikheid om keuses te kan maak tussen reg en verkeerd. Die gesaghebbendste bron van gesag oor wat reg en verkeerd is, is die Bybel. Die Skrif sê egter ook dat God iets van hierdie sin van reg en verkeerd in die mens self geplaas het deur middel van sy gewete.

Daarom is daar by die mens van sonde sprake. Want om te sondig is daar altyd ‘n wilsbesluit tersprake. Daarom is die boosheid wat deur daardie groep jongmans (en vroue) begaan is, ten diepste sonde. En daarom het die haai wat die jongman doodgemaak het, nie sonde gepleeg nie, nie “‘n sonde gedoen” nie. Ons praat immers nooit van enige dier wat gesondig het nie, want diere is nie morele wesens nie.

Ons moet waak teen die vermensliking van diere en die verdierliking van mense. In ons humanistiese georiënteerde samelewing is daar ‘n toenemende tendens om mense van hulle morele verantwoordelikheid te ontneem en hulle sondige dade aan allerhande ander faktore toe te skryf. Die woord “sonde” het vir baie ‘n anachronisme geword. Die krag en gevolge van mense se verantwoordelikheid morele keuses het nodig om weer ondestreep te word – ook die mens se reg om te kies vír of téén God.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Isak Burger

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae