Oostenryk boodskapper van nuwe politiek 

Sebastian-Kurz-oostenryk

Sebastian Kurz (31) is die jongste premier in ’n Europese land. Foto: Commons.wikimedia.org

Die Oostenrykse verkiesing op 15 Oktober is die boodskapper van ’n nuwe politieke stroming in Europa.

Sebastian Kurz, 31, leier van die Christen-Demokrate se Oostenrykse Volksparty (OVP, Afrikaanse afkorting), word die nuwe premier. Kurz is die jongste premier in ’n Europese land.

Die syfers is voorlopig en kan nog effens verander, maar die OVP het sowat 31% van die stemme gekry, ’n toename van meer as 20% in die OVP se steun. Die volksnasionale FPO van Heinz-Christian het 26% van die stemme gekry. Dit is ʼn toename van meer as 5,5% of wesenlik 20% in hul steun.

Die FPO het noue bande met die Alternative für Deutschland (AfD), wat sowat 13% stemme gekry het in verlede maand se verkiesing in Duitsland. Verlede jaar het die FPO-kandidaat, Norbert Hofer, met 49% van die stemme die Oostenrykse presidentsverkiesing net-net verloor.

Die voorheen regerende Sosiaal-Demokrate (SPD) het sowat 27% van die stemme gekry en is in die tweede plek. Die Groenes se kandidaat, Alexander van der Bellen, het gewen as frontman van die hele alliansie gevestigde partye in die Oostenrykse presidentsverkiesings in 2016. Hierdie keer het die Groenes in die parlementsverkiesing nie die 4%-kiesdrempel gehaal nie.

Kurz as vernuwer

Kurz is die Macron van Oostenryk. Vanuit ’n hoofstroomparty kon hy baie burgers se sug na ’n nuwe politiek suksesvol aanraak. Hy het sy party se beeld vyf maande voor die verkiesing herverpak as byderwets, gedigitaliseerd en digby die burgers.

Anders as Macron, is Kurz ’n draer van ’n nuwe identiteitspolitiek in Europa. Hoofstroompartye vorm daarin nou saam met voorheen verketterde opposisiepartye ’n alliansie of bevorder soortgelyke temas en standpunte.

Die klem op Oostenrykse grensbeheer teen vlugtelinge en migrante, wet en orde, en die erkenning van Duitse taal en kultuur is ooglopend by die OVP. Hierdie klemtoon was in embriovorm reeds duidelik toe Wolfgang Schüssel by die OVP die leier en later premier was. Dit het nou ’n nuwe vorm gekry by Oostenryk se Christen-Demokrate en dus in die hoofstroom van die politiek.

Kurz het die volksnasionale FPO beveg, maar ook ligter weergawes van hul anti-immigrasie- en identiteitstemas oorgeneem en kiesersteun daarvoor bekom. Christian Kern, die nou voormalige Sosiaal-Demokratiese premier, kla oor ʼn “massiewe swenk na regs”.

Nuwe politieke ordes

Dit lyk baie moontlik dat die OVP en die FPO ’n regeringskoalisie sal vorm. In 2000, toe die FPO deel was van ’n regeringskoalisie, het Duitsland, Frankryk en België ’n tyd lank Oostenryk met EU-sanksies gestraf. Dit is onwaarskynlik dat die EU nou sanksies doeltreffend sou kon deurvoer.

Ook dit dui op ’n nuwe politieke orde wat in Europa ontstaan. In Duitsland is die AfD nou ’n nuwe krag, in Frankryk het die Front National tydens die presidentsverkiesing uiteindelik die tweede meeste stemme getrek, en in België is die gematigde Vlaams-nasionale NVA die vernaamste regeringsparty.

Hongarye se premier, Viktor Orban, kry met hierdie verkiesingsuitslag ook verdere rugsteun vir sy standpunte oor migrasiebeheer. Trouens, daar is nou ’n informele terugkeer van die Oostenryks-Hongaarse Ryk. Saam met die konserwatiewe aanliggende Beiere in Duitsland, is daar ’n hele streek waar vorms en draers van identeitspolitiek die politieke botoon voer.

Veldtog draai om identiteitspolitiek

Die verkiesingsveldtog het veral gedraai om identiteitspolitiek. Die groot strome van ekonomiese migrante en politieke vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Afrika in 2015 het burgers se sienings verander. Die probleme van verskillende kultuurgroepe se saambestaan, die koste van nuwe inkomelinge vir die welsynstaat, en botsende simboliese ordes is baie bespreek.

Woede en vrese oor die terroriste-aanvalle en persepsies oor meer misdaad in Europa het ook ’n rol gespeel. Afkeer van die ou politiek was onderliggend aan baie kiesershoudings.

Donderdagaand tydens ʼn groot TV-debat tusen partyleiers het sowel die OVP as die FPO se leiers identiteitspolitieke temas beklemtoon. Kurz het beklemtoon: Asielaansoeke in Oostenryk is gegrond op onwettige heenreise en eintlik nie legitiem nie. Diesulkes kom immers uit ’n buurstaat wat veilig is, dikwels Italië. Internasionale verdrae oor vlugtelinge en asiel beklemtoon egter dat die asielreg net geld in die eerste veilige land waar iemand aankom.

Hierdie temas is oorspronklik deur die FPO op Oostenryk se politieke agenda geplaas. Die OVP het baie van hierdie temas uiteindelik oorgeneem en in gematigder vorms verpak. Dit was ’n dodelike kombinasie teen die SPD.

Meeste jong mense vir OVP en FPO

Baie opvallend is dat die FPO onder die groep kiesers tot 29 die grootste steun gekry het, naamlik 30%, die OVP 28% en die SPD net 17%. Dit beteken dat Oostenryk se politiek vorentoe nog meer identiteitspolitiek kan sien.

In die groep 30-59 het die OVP 31%, die FPO 28% en die SPD 27% van die stemme getrek. Onder die kiesers van 60 en meer oorheers die hoofstroompartye.

Onder mans is die OVP met 33% en die FPO met 29% van die stemme die voorste partye. Vir die eerste keer is die meeste vroue by partye wat identiteitspolitiek beoefen, met 52% van hulle by die OVP en FPO.

Klasseverskille merkbaar

Daar was ook duidelike sosio-ekonomiese patrone onder die kiesers. So het 59% van alle arbeiders vir die FPO gestem, 19% vir die Sosiaal-Demokrate, en 16% vir die OVP. Daarmee verloor die SPD sy tradisionele posisie as die voorste verteenwoordiger van die arbeiders.

Onder amptenare daarenteen, sien mens die uitwerking van byna kartelagtige netwerke wat die hoofstroompartye oor dekades in die staatsdiens opgebou het. Sowat 41% van amptenare het vir die SPD gestem, 27% vir die OVP en 12% vir die FPO. Onder ander werknemers het die OVP byvoorbeeld 31% van die stemme gekry, die FPO en die SPD albei sowat 26%.

Die OVP het die meeste stemme getrek onder alle kategorieë van mense met ’n skoolopleiding tot universiteitsopleiding. Onder mense met ’n universiteitsopleiding het net 7% vir die FPO gestem. Onder selfstandige professionele en sakelui het 41% vir die OVP,  23% vir die FPO en net 14% vir die SPD gestem. Die teenstanders van die OVP en FPO sal rondom hierdie steunsegmente nuut probeer dink en mobiliseer.

Nuwe politiek in Europa

Soos die boek Kultuurvryheid en selfbestuur (Kraal-Uitgewers 2017) aandui, is die politieke ordes oor Europa heen besig om ingrypend te verander. Verkiesings en referenda in Oostenryk maar ook Brittanje, Nederland, Frankryk, Duitsland, Katalonië en Skotland bevestig die opkoms van identiteitspolitiek in Europa. Die afkeer van die bestaande politiek en hoofstroommedia waai in “linkse” en “regse” vlae deur die huis van Europa.

Om diverse groepe se saambestaan goed te reël, is egter nie vanselfsprekend nie. Minderhede se posisie en burgerregte is nog nie duidelik behandel nie. Strukturele demografiese en ekonomiese probleme, asook onvoorsiene gebeure sal steeds ʼn uitwerking hê.

Die sand in die uurglas van die 1968-denkrewolusie en sy politieke afstammelinge het egter gister in Oostenryk verder uitgeloop. Europa se politieke ordes verander ingrypend, al verseg Suid-Afrikaanse media soms om daardie verandering behoorlik te registreer. Daar is ’n nuwe politiek vaardig onder baie volke van Europa.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

John ·

En die EU se base hou niks van volke se herontdekking van eie waarde-sisteme nie wat nog hul aanspraak op waardigheid… Rammetjie-uitnek was nog altyd die nazi-agtige ou garde se doodsteek. En dan is daar die wilde Spanjaarde. Hoe werk ‘n Duitser met ‘n balhorige Spanjool se gal ~ dis ‘n nuwe een. ‘Wene stad van my drome’ is die versugting van inwoners, talle Joodse vlugtelinge en baie ander… Nou moet die jonges maar ingryp en red wat te redde is.

Eish ·

Daar is n hele seismiese verskuiwing in Oostenryk! Verstommende jongman! Baie insiggewend dat sy ondersteuningsbasis lê by professionele mense asook die hoër geskooldes.

Dit is maw die wat darem nog kan dink. Insiggewend dat hul wegbeweeg van die liberale ouer garde. Wie kan nou die blankes in die helhool verkwalik vir sootgelyke intelligente ” identiteitspolitiek”?

Therese van Schalkwyk ·

Insiggewend en verblydend!

Dit moet die universiteitsopleiding van ‘n groot deel van sy steunbasis wees wat Kurz vrywaar van die gewraakte “populis”-etiket waarmee ander nasionalistiesgesinde politici gebrandmerk word.

Op ‘n vreemde manier het Angela Merkel se uiters dwase beleid t.o.v. vlugtelinge dan tóg indirek ‘n goeie uitwerking.

Merkur ·

Inderdaad Therese. Ek stem saam. Al het Merkel die grense (onwettiglik!) oopgeswaai vir heeltemal ander redes as barmhartigheid, en waarskynlik eerder weens o.a. demografiese „probleme“ (bevolkingsafname) en moontlik ook om moreel meerderwaardig te speel, het haar uiters dwase beleid t.o.v. asielsoekers die Wes-Europeërs se oë hopenlik regtydig oopgemaak. Daar is amper nie meer genoeg tyd nie.
´n Geleidelike islamisering en oorvreemding oor dekades d.m.v. hoë geboortesyfers by immigrante is defnitief slegter as ´n skielike toename aan kultuurvreemde immigrante en ook indringers wat in ´n ondraaglike konflik eindig.

Boerseun ·

Nou wat n goeie skrewe na die ander druk op MM oor dieselfde onderwerp.

CM ·

Ons bly in Oostenryk. Ironies genoeg het ‘n Kurz ondersteuner vir my genoem dat hy kan verstaan dat Suid Afrikaners hul land wil beskerm teen mense wat uit Europa afstam. Ek het genoem dat ek as Afrikaner al die 13de geslag is en ek my wortels in Afrika het. Daarop was die vraag is dit hoe ek dit sien of hoe Suid Afrikaners dit sien. Volgens hom vind hy dit vreemd dat ek myself as ‘n ‘ware’ Afrikaner/Suid Afrikaner kan identifiseer met my sterk Europese voorkoms en westerse waardes net soos wat hy dit vreemd vind dat ‘n immigrant met ‘n Moslemse agtergrond hulself en hul nageslag as ‘ware’ Oostenrykers kan identifiseer. Ek het weer probeer verduidelik maar dit was duidelik dat hy nie wil verstaan nie. Ek weet dus nie of Afrikaners by die soort identiteitspolitiek wat nou in Europa uitspeel gaan simpatie kry by die nuwe nasionaliste nie…

Heinrich Matthee ·

Heelwat Europese kiesers weet inderdaad min van Afrika en Suid-Afrika. Sakelui, politici en gereelde toeriste weet wel meer, en hulle soek altyd na kanse en stabiele vennote in Afrika. Of Afrikaners produkte en dienste vir hulle kan bied en die bande kan uitbou, sal veral afhang van hulle self. Europese kiesers weet dat westerse Amerikaners ook as aanvanklike setlaars teen Europese imperiale magte baklei het en vandag inheems beskou word in Noord-Amerika. Hulle sal na die inligtingsgaping weens kultuurboikotte ensomeer ingelig moet word dat westerse Afrikane – en Arabiese Afrikane in noord-Afrika – presies dieselfde inheemse posisie beklee in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.