Op soek na die goue draad in die netwerksamelewing

Deur dr. Hercules Boshoff

Hercules Boshoff.

Die moderne mens ly aan uniekhiedsfiksasie, oftewel isolasionisme. Tegnologiese verskuiwings, soos dit uitdrukking vind in ons netwerksamelewing, skep die indruk dat ons niks van ouer beskawings kan leer nie.

Agter hierdie valse indruk skuil ʼn miskenning van die verwikkeldheid van die menslike bestaan soos dit vir millennia reeds gestalte kry in netwerk-infrastruktuur, waaronder gesofistikeerde stadsuitleg, water en riooltoevoersisteme, posstelsels, paaie, ensovoorts van die antieke beskawings tel.

By die ouer beskawings kan ons derhalwe heelwat leer oor betekenisgewing rondom ʼn netwerkbestaan. Die antieke mite van Theseus bied myns insiens ʼn diep insig in die mens se verhouding tot netwerke.

Die verhaal begin by die verwekking van ʼn buite-egtelike kind by ʼn koningin deur Zeus, die koning van die gode. Hierdie kind, die ‘minotaurus’ oftewel die bul-mens (bestaande uit ʼn bul-kop en ʼn mens-lyf) is nie deur die koningin se man, koning Minos, om die lewe gebring nie, maar tot ʼn labirint verban wat die koning laat bou het met die doel dat die ondier nie daaruit kan ontsnap nie. Die ondier het ongelukkig ʼn besondere voorliefde vir mensvleis gekoester, wat die koning genoodsaak het om sy eie mense aan die ondier te offer. Nadat die koning sy fout besef het, rig hy ʼn pleidooi regoor Griekeland aan enigiemand wat bereid sou wees om die kreatuur om die lewe te bring.

Die probleem was egter dat dit een ding is om die kreatuur te verslaan, maar ʼn ander om weer uit die labirint te ontsnap. Uit Athene kom die held Theseus te voorskyn wat verlief raak op die koning se dogter, Ariadne, voor hy die bul-mens die stryd aansê. Aan haar geliefde gee Ariadne ʼn goue draad wat hy moet uitrol tydens sy soektog na die ondier sodat hy na afloop van sy stryd kan terugkeer, wat hy ook gedoen het.

Die mite stel ʼn samelewing voor wat ʼn hubris ontwikkel rondom tegniek en administrasie, ʼn hubris wat die indruk skep van bomenslikheid. Uiteraard is die mens nie ʼn god nie, en in sy poging om een te word, tree die teenoorgestelde, naamlik dierlikheid, na vore of beestelikheid soos dit ook bekend staan. Die god-mens-verwaandheid is opnuut sigbaar in die sogenaamde prestasiekultuur waaroor die Koreaanse filosoof, Byun-Chul Han, so treffend skryf in sy boek The burnout society, ook in dokumentêre film vasgelê.

Soos die titel aandui, lei hierdie bomenslike verwagting in feite tot ʼn mensonterende situasie, ten spyte, of liewer, as gevolg van die vele prestasies wat konstant aan die groot klok gehang moet word: onderskeidings, verslae, punte op jou mediese en bankprofiel, repetisies. Klein doelwitte waarin ʼn mens verstrengel kan raak. Die bekende ridder, Don Quixote, het immers opgemerk dat om te prakties te wees self ‘n vorm van waansin is.

Ariadne and Theseus

Theseus is as die mitiese grondlegger van Atene beskou, nie omdat hy komplekse netwerke gevestig het nie, maar omdat hy geleer het om daarbinne sy weg te vind en die samelewing te rig. Hoe vind ons ons weg in die netwerke, en verhinder ons dat ons, soos Opperman se vuurbees met sy “besete blik”, in sirkels rondhardloop en ons eie menslikheid in die proses verteer?

Eerstens in die erkenning dat ons bestaan ʼn verwikkelde bestaan is. Ons sal onsself nooit bevry daaruit, soos askete en individualiste ons wil wysmaak, nie (hiertoe kan ʼn mens toevoeg die oordrewe uitdrukking dat mens “off the grid”, oftewel “van die netwerk” kan afgaan, aangesien dit ʼn spesifieke netwerk is waarvan jy afgaan, net om jouself te koppel aan ʼn nuwe netwerk, naamlik ʼn netwerk waarbinne skaars produkte soos litium versprei word, wat nie sonder geopolitieke implikasies is wat ons nie hier verder kan ondersoek nie).

Die verwikkeldheid vind voorts uitdrukking in die aanwending en verbetering van tegniek, ʼn onontkombare toevoeging tot ons bestaan, aangesien beskawing daarsonder kwalik voorstelbaar kan wees. Die inrig van ons lewens kan egter ʼn verstrengellende effek op ons hê. Die Grieke het daarom in antwoord op die verwarring die begrip “ataraxia” gebruik om ʼn toestand van ontwarring voor te stel. “Tarasso” beteken verstrengel wees, terwyl “a-tarasso” neerkom op ʼn ontwarring, ʼn ontknoping. Voorts kan voorbeelde uit die kultuurgeskiedenis, al is dit mites soos die van Theseus, leidrade verskaf vir die ontwarring.

Benewens ontwarring en kultuur is die menslike bestaan eindig – bedoelende dat dit vanself in ʼn sekere rigting beweeg, ʼn sekere bestemming het, anders as wat die geval is in die doolhof waarin konstante prestasie die indruk van onsterflikheid kan skep. Hierdie bestemming is God.

Uit hierdie bestemming word alle ondergeskikte klein bestemmings binne die verwikkelde bestaan van die mens bepaal. Daarom dat dit belangrik bly om die vraag na die goue draad telkens en opnuut te vra, die wyshede van ouer beskawings te raadpleeg, en om dit in te bind in ons eie narratief en roeping, ʼn roeping wat van buite kom.

  • Dr. Hercules Boshoff is ʼn dosent in filosofie aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

De Bok ·

Dit word mooi saamgevat in die outydse wysheid: “Geen mens is ‘n eiland nie”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.