Redakteursbrief: Koffiewinkel in ’n hospitaal

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Mens sê altyd jy hou van lughawens, want daar gebeur soveel stories – mense wat kom en gaan, groet en afskeid neem. Maar vanoggend sit ek in ‘n hospitaal se koffiewinkel en bekyk die mense.

Buite by die parkeermasjien hier voor die venster staan ‘n jong vrou. Sy lyk oes: in verkreukelde pajamas, drup in die arm met die drupstaander langs haar; ‘n bloederige pleister wat die een kant van haar gesig bedek. Die hare deurmekaar geslaap en lank laas gewas. Donker kringe onder haar oë, en haar skouers krom en skraal van wat ook al haar aftakel. Sy staan hier buite want sy rook ‘n sigaret. Sy neem lang, diep teue, soos iemand wat uitgehonger is.

In die voorportaal, wat ek van hier af kan sien, sit ‘n ou oom. Hy het klossies hare weerskante van sy kop en het ‘n growwe tweed-baadjie aan. Hy wag vir die tannie wat ‘n draai gaan loop het. Toe sy kom, staan hy op, sit sy hand onder haar elmboog en help haar om te sit. Saam wag hulle.

Daar agter by die koffiemasjien sit ‘n oom met ‘n bol watte soos ‘n malvalekker op sy kaalkop vasgeplak. Hy smul stadig en tydsaam aan elke happie van sy omelet.

Langs hom ‘n jong man in netjiese hemp en baadjie, skootrekenaar oop voor hom. Ek raai hy is ‘n pappa wat ‘n bietjie werk inhaal terwyl ‘n kleinding iewers in ‘n kindersaal slaap.

Die ouerige man in die corduroy-baadjie en strepieshemp skuins langs my het klaar geëet. Hy skuif sy bord eenkant toe, prop sy oorfone in sy selfoon en maak ‘n notaboek oop. Trek ‘n lyn in die middel van die bladsy af; skryf “Pro’s” eenkant en “Con’s” anderkant. Toe sit hy lank sonder om iets te skryf.

Nog ‘n oom en tannie, hier skuins voor my. Die tannie sit met haar hande voor haar gesig. Voel-voel nou en dan of haar netjies geblaasde kuifie nog in plek is. Die oom se wangetjies hang soos my oupa s’n gehang het. Daar is diep lyne in sy gesig.

Agter hulle, ‘n jong boer in ‘n tweekleur-kakiehemp met kouse opgetrek tot onder sy knieë en vellies aan sy voete. Hy stuur SMS’e met opdragte terug plaas toe, want vandag moet ander mense die fort hou. Sy seun, so laerskool rond, sit sag en slurp aan ʼn beker warmsjokolade.

Twee polisiemanne drink ‘n koppie koffie en eet roosterbrood met roereier. Ek raai hulle het vroeg-vroeg besigheid hier gehad. Hulle gesprek is ernstig en gedemp.

Die oom met die bol watte het nou klaar geëet. Hy sit met sy hande onder sy ken gevou. Kyk dak toe, dan vloer toe.

Die boer se vrou kom sit, sonbril op die kop. Hy kyk nie op van sy selfoon af nie, maar gee haar arm ‘n vinnige drukkie. Haar oë is klam.

‘n Vrou met vet, rooi krale om haar nek gooi twee lepels suiker in haar cappuccino. Die ouerige dame oorkant haar se grys hare is in stywe krulletjies gekartel. Haar ma, dink ek, want hulle praat soos twee mense wat mekaar goed verstaan.

Van die ingang se kant af kom ʼn middeljarige man en vrou verbygestap. Hy hou haar hand baie styf vas. Hulle glimlag nie. Sy dra ʼn groot bruin teddiebeer met ʼn strik om die nek.

‘n Jong man kom in, skuif ‘n stoel uit by die eerste oop tafel. Hy het ‘n rooi pet op sy kop, asof hy sy deurmekaar hare wou wegsteek. Hy gaap en tel die spyskaart op. ‘n Vrou met donker hare kom in en roep hom. Hy spring op, hardloop saam met haar in die rigting van die hysbak.

Die boer en sy vrou staan op en gaan betaal. Die seun neem langer om regop te kom. Toe loop hy mank en skeef agter sy fris pa aan.

Skuins voor my, ‘n middeljarige vrou in oefenklere, hare styf vasgemaak, wat ‘n glas yswater met suurlemoensap drink. Sy lyk verbysterd, asof sy nie gedink het sy gaan haar vanoggend hier bevind nie.

Niemand het seker nie.

Die man met die lysie het nou drie items aan die linkerkant, nog net een regs.

Kelners staan soos soldate en wag vir opdragte.

Dis hiér waar die regte lewe gebeur.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Adriaan ·

Ek wonder nogal wat jou na die hospitaal koffiewinkel geneem het. Maar nes die ander mense se redes onbekend is, sal joune ook wees …

CG ·

Adriaan. Ek hou van jou empatie. Jy en Susan is op dieselfde golflengte. Jou inset, as leser, is eintlik die perfekte afsluiting van die stuk. Leserinsette is dikwels bemoedigend, omdat mens besef ander beleef sake soos jy. Dit is natuurlik ook verskriklik frustrerend waneer mens se inset verwyder word, maar ander se “strooi” in jou gesig gelos word. MM het seker maar n moeilike taak om ons almal uit die moeilikheid en uit mekaar se hare te hou. n Juweel soos jou inset, maak dit egter sekerlik die moeite werd.

Jeanne ·

Baie mooi Susan. Dit het my weer teruggeneem na ‘n maand gelede, toe my paps in die Harry Surtie Hospitaal in Upington was, en later oorlede is. Biekie in die saal gesit, biekie in die gang gesit, biekie in die donker kafeteria gesit vir ‘n lekker warm, Ricoffy vir troos en dan weer in die tuintjie waar die sonnetjie my kon warm bak teen die koue van die ysige gebou. Saam met onbekende mensies gesels, gelag, gehuil, moed ingepraat, gesimpatiseer. Elkeen met sy eie storie en gedagtes. Nou weer verlang na papa Tjaart. Veilig by Jesus.. Groete…

Johan Oosthuizen ·

Sjoe! Susan, as dit is soos die lewe regtig lyk, is dit verskriklik sleg. Dit maak my bang, dit skok my want dis nie soos die lewe moet wees nie. Ek ken dit nie so nie en ek kan nie ophou om my seëninge te tel nie. Hier by ons in die Suidkaap is dit so anders. Ja hier en daar vrot kolle, eintlik kolletjies, maar dis die uitsondering. Hier en daar is mense wat nie ‘n flenter omgee nie maar dis die uitsondering. Jou skrywe kan ‘n mens nie koud laat nie. Dit ruk jou uit jou gemaksone uit om nood en onreg en hartseer raak te sien en dit laat ‘n mens met een vraag: Wat doen ek om ‘n verskil te maak ? Om ‘n dof-swart flenterlewetjie te verander in ‘n skitterblink LEWE wat kan omdat hy/sy WIL

En ek? ·

En ek? Ek staan buite want ek kan nie eers die reuk van koffie verdra. Jiggie . . .

Lukie Carelsen ·

‘n Hartroerende skrywe oor ‘n doodgewone dag by ‘n hospitaal koffiewinkel met soveel lewenslesse en waarhede! Baie dankie Susan! Die lewe is nie so eenvoudig soos ons dit sou wou he nie. Soveel dinge gebeur om ons wat ons skaars van bewus is (soos jou weergawes van jou hospitaal belewenis). Die werklikheid is dis waar! Ons sien of wil dit nie altyd raaksien nie. Maar baie mense kry swaar en dra hulle kruise sonder dat enigiemand notisie daarvan neem. Maar gelukkig is daar Een wat alles sien en qlles in beheer het. Al lyk dit vir on so hopeloos. Hy bly in beheer ook van die mensies wat jy noem in jou skrywe. En Hy sal ELKEEN se sorge dra en alles ten goede laat werk vir hulle wat Hom liefhet. Ons kan dit nie dadelik sien nie maar op die ou einde is dit hoe dit uitwerk. Dankie Susan dat jy ons weer hard aarde toe geruk het met hierdie skrywe van jou jou!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.