Redakteursbrief: ‘n Brief aan elke betogende student

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Liewe Betogende Student

Met spanning wat lank reeds op verskeie terreine in die land hoog loop, het ons almal eintlik lankal verwag dat die onrus onder die oppervlak op die een of ander georganiseerde manier tot ʼn uitbarsting sou kom.

Min sou ons kon dink dat die uitbarsting sou begin by julle, die studente – die leiers van môre; die komende hoofde van maatskappye, onderwysers, politici, ekonome, entrepreneurs.

Dalk is dit sinvol dat julle die eerstes sou wees om te sê, “Tot hiertoe en nie verder nie”. Dis ironies dat dit juis julle “slimmes” is wat julle wend tot geweld, vandalisme en plundering in ʼn poging om jul punt tuis te  bring.

ʼn Mens het begrip vir julle (en jul ouers) se frustrasie met ʼn afname in staatsubsidie aan universiteite terwyl korrupsie in die regering hoogty vier, en die feit dat die meeste universiteite se verhoging in klasgelde hoër as inflasie is. Volgens die ekonoom Mike Schussler sal SA vanjaar R550 miljard bestee aan die salarisse van staatsdiensamptenare oor alle regeringsvlakke en –strukture. Dis niks minder as reg nie dat julle eis dat ons geagte president moet verantwoording doen. In sy nuuskommentaar op Maroela Media vandag vergelyk Herman Toerien die studente-opstand met die Franse Rewolusie: “In plaas van die Bastille is die parlement sommer stormgeloop, en optogte na die Luthuli-huis en die Uniegebou is gehou,” skryf hy.

Tog wonder ek.

Ek sou graag wou weet of jy (of jou ouers) self vir jou studies betaal, en hoeveel van jy en jou betogende medestudente beurse of lenings het.  Ek sou wou weet hoeveel van julle het gedroom daarvan om eendag as ʼn student oor die mooi gronde van ʼn statige kampus te stap, en het regtig hard gewerk om met universiteitsvrystelling te slaag – hard genoeg om nie net-net vrystelling te kry nie, maar om seker te maak jou uitslae is goed genoeg om te kwalifiseer vir ʼn beurs of minstens ʼn studielening, en om seker te maak jy kry keuring vir die rigting waarin jy jou wil bekwaam.

Dis dalk ʼn naïewe siening. Daar is immers net soveel beurse beskikbaar.

Maar ek wil jou graag my storie vertel. Dalk verstaan jy dan beter.

Twintig jaar gelede was ek self in matriek, en het ek drome gedroom oor universiteit-toe-gaan wat onmoontlik gelyk het. Dit was 1995 – die slegste moontlike tyd vir ʼn wit matrikulant om vir beurse aansoek te doen. Ek onthou hoe my pa my van beursonderhoud na beursonderhoud aangery het, en hoe ek in lang rye tussen ander, meestal anderskleurige kandidate vir my beurt gesit en wag het. Ek onthou die verleë gesigsuitdrukkings van onderhoudvoerders wat geweet het ek is net daar om die kwota vol te maak. Ek het geweet my kans is bitter skraal – om ʼn beurs te kry, en om hoegenaamd universiteit toe te kan gaan. Daar was eenvoudig geen manier hoe my ouers vir my studies sou kon betaal nie. ʼn Ouma het ingestaan vir die registrasiefooi, en dit was dit wat van die familie se kant sou kon kom.

Wonder bo wonder het ek ʼn klein beurs gekry wat genoeg was om die eerste ronde universiteitsfooie te kon betaal. Ek is universiteit toe, Puk toe, met R200 sakgeld, groot drome en vasbeslotenheid om van my studies ʼn sukses te maak. Dwarsdeur my universiteitsloopbaan het ek en my ouers planne gemaak: ek het tikwerk teen betaling gedoen in die biblioteek se rekenaarsentrum; skripsies geproeflees; as assistent by ʼn fakulteit gewerk. Soms het ek nagte deurgesit om vryskutwerk en universiteitstake afgehandel te kry. My ete-kaart is gereeld afgesny as gevolg van onvoldoende fondse. Later, in ʼn studentehuis, was daar dikwels net ʼn blikkie tuna, ʼn pak macaroni of ʼn halwe sakkie appels in my koskas. My vervoer was ʼn tweedehandse fiets.  Soms het my ma koeksisters verkoop om vir my ʼn sakgeldjie te kan gee.

Die gedeeltelike lening wat ek by die universiteit gehad het, is omgeskakel in ʼn beurs in verhouding tot my akademiese prestasie; dus – hoe beter ek presteer, hoe minder sou ek hoef terug te betaal. Ek het kop neergesit en gewerk dat die stof staan.

Universiteitstudies was nooit vir my vanselfsprekend nie, en nooit ʼn reg nie – dit was altyd ʼn voorreg.

Op ʼn manier het ek my graad klaargemaak, en góéd klaargemaak. Elke sent van my universiteitsrekening was aan die einde van my honneursjaar klaar betaal, al is die sperdatums vir betalings soms net-net (en soms laat) gehaal. Vir jare ná my studies het ek ʼn groot deel van my salaris aan my studielening afbetaal.

Ek kom dalk uit ʼn sogenaamde “bevoordeelde” deel van die gemeenskap, maar glo my: nie vir ʼn oomblik was ek bevoordeel nie.

Vandag is ek dankbaar dat ek op die harde manier moes leer: niks wat die moeite werd is, kom maklik nie. En niks wat van goeie gehalte is, is gratis nie. Dis ʼn beginsel wat ek elke dag van my lewe toepas en vir my kinders leer.

Liewe betogende student, ek hoop regtig as die betogings tot rus kom, kry jy en elkeen van jou medebetogers tog die geleentheid om dié les te leer, al is dit dan op ʼn ander plek as aan die universiteit wat jy afgebrand het.

 

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

44 Kommentare

Minnie Pretorius ·

Dis ‘n baie mooi getuienis, Susan!
My man en ek was van 1963 op Tuks. Niks verniet gekry: Baie hard gewerk vir beurse.
Vakansiewerk moes fondse aanvul en verder was daar lenings, met baie streng voorwaardes.

Nie ons, of ons kinders, het IETS verniet gekry nie.
Dit was WERK,WERK en WERK!!!!

Maritsa Pretorius ·

Susan ons is ewe oud en het nogal ‘n soortgelyke pad geloop.
Ek dink net die wat jou brief moet hoor is Engelssprekend en Tswanasprekend. Pukke is die laaste Afrikaanse universiteit in die land wat nou, soos die ander, deur ander kulture oorgeneem word. Sal die Totius standbeeld nog daar staan as ek oor ‘n paar jaar oor die kampus wil loop?

Pietertjie ·

Ek kan met jou ervaring identifiseer, en wil byvoeg dat jou storie die van baie, baie burgers in die samelewing is. Ek dink egter die tydsberekening van jou laaste sin is heeltemal misplaas gesien die heersende spanning, emosie en woede, wat nie ruimte laat vir nugter denke en oorweging van paternalistiese gedagtes nie. Ek sou raai ‘n blote “ons voel vir julle en hoop julle slaag daarin om nugter denke na ons parlement te bring” sou dalk nie so paternalisties oorgekom het nie.

Human ·

Wat volg is my persoonlike mening/ observasie; Baie van die betogende student is nie n geregistreerde student nie > Daar steek n derde-mag agter hierdie betogings met die uitsluitlike doel om ons land verder te destabiliser. Se As ek verkeerd is!

Pietertjie ·

Human, ek twyfel of daar ‘n destabiliserende derde mag betrokke is. Ek sal wel saamstem dat daar saamlopers is wat net vir die pret en hopelik ‘n freebee saam lawaai. Onthou ook, ‘n student is ‘n unieke jongmensgedierte. Hulle is op universiteit om selfstandige denke te kweek, gevolglik sal baie van hulle noodgedwonge rebelleer teen die establishment – dit is hulle reg om dit nou te doen, voordat hulle groot is. Dit is ‘n wonderlike tydvak in ‘n mens se lewe – die wat bevoorreg genoeg was om dit finansiëel te kon bybring!

antonie ·

Ek dink hierdie ding is groter as wat ons dink.
Hierdie ‘uprising’ is dalk self deur die anc begin.
Dit is dalk n aanslag van die kommuniste teen
‘free market ‘ en kapitalisme

Amanda Swanepoel ·

Susan ek glo jou storie is dieselfde as meeste van ons wat bevoorreg was om na n universiteit te kon gaan. Vir hierdie voorreg het ons baie hard gewerk want niks was verniet nie. Ons het almal gewerk en geswot en daar was slegs n klein hoeveelheid studente wie se ouers in die posisie was om vir studies te kon betaal. Vir swak uitslae was daar nie plek want dan moes jy onmiddelik huistoe en moes gaan werk soek en na-uurs studeer. Baie het dan ook op daardie manier hul grade verwerf. Waar n wil was was n weg. Niks was verniet nie en ons studies was ons erns.

Rudi ·

Dankie Susan vir jul e/i-nuus. Nou ken ons jou beter en ek is bly jy verdien waar jy is. Ek is mal oor Maroela media. Bietjie raad. Daar was amper geen ander www nuus blaaie wat die waarheid soos jul weergegee het nie. MAAR soms dink ek jul is nog steeds polities te korrek. Hoekom het jul geen nuus gehad oor die studente wat gister vasgevang was in klaskamer toe ander hul aangeval het nie? Kry ‘n onderhoud met een van hulle wat gestress het in die video en vra hom hoe dit gevoel het toe die barbare die deur wou afbreek en hy geen wapen gehad het nie. Net idees. Dis tyd dat jul van ‘n raporteer www na ‘n regte regte media huis skuif

Winston ·

Susan dit is soos dit met baie van ons mense gegaan het. My dogter is deur n strawwe proses om uiteindelik haar LLB klaar te maak met baie opoffering en harde werk. Sonder harde werk kom jy nêrens. Dit is ongelukkig feite dat almal in ons huidige samelewing betaal wil wees vir teenwoordig wees en nie vir die werk wat hy doen nie. Die regering het met die sogenaamde regstellende aksie n klimaat geskep waar mense dink dit is hulle reg om n pos te kry. As alles om hulle inplof gaan hulle weer net bakhand staan en kyk wie kan help. Die hand aan die punt van elke arm is plat en oop, pleks van toe en aan die werk. Ek is bevrees ons stuur op n ramp af en die punt van omdraai is reeds verby. Ek glo jou brief het baie van ons geraak.

Sarel Strydom ·

Albei my kinders was in dieselfde situasie, met oorgang en selfs kanselasie van die destydse Onderwysbeurse. Ek is egter bevrees hierdie is ‘n utuur wat deur die Regering geskep is,” Met geweld kry jy alles reg”. Ek sou graag self aan die “leiers” ‘n paar vrae sou stel. dankie vir hierdie Redaksionele brief.

Wessel van Vuuren ·

As Susan se Pa wil ek graag byvoeg: Toe sy en haar broer op skool was het ek hulle van die begin af laat verstaan as hulle hulle kant bring, sal die geld daar wees om hulle verder te laat studeer. Albei het geweet dat hulle net EEN kans het en as hulle dit nie gebruik nie, is daar NIE ‘n tweede kans nie. Dit was bitter moeilike tye ook vir ons gewees. Haar ma het in daardie stadium ‘n ongeskikheidspensioen gekry wat sy elke maand net so aan haar oorbetaal het vir haar verblyf en kos. Ek self het nie veel verdien nie, maar het albei my kinders deur dik en dun bygestaan in hulle besluite. Albei is vandag suksesvol in hulle beroepe en ons is trots op wat hulle vermag het deur harde werk en deursettingsvermoë.

Jandré ·

Hoekom skryf jy hierdie brief is Afrikaans? Is dit sodat die meerderheid van die studente dit kan lees? Want dis nie die geval nie. Dis dalk eerder dat jou mede wit Afrikaanssprekende jou op die rug kan klop. Jy skryf steeds uit ‘n standpunt van misverstand. Hierdie gaan nie oor lui wees nie, dit gaan nie oor iets verniet kry nie. Die gaan oor die geleentheid om hard te kan werk soos wat jy het. Niemand het jou of my hande afgekap nie, dit was nooit maklik nie, maar vir ons was daar altyd geleentheid en dis hoekom ons wittes nie kan verstaan wat hier gebeur nie. Die studente is moeg dat hul hande heeltyd afgekap word, dat geleentheid weggeneem word. Verstaan jy regtig die agterstand van iemand wat in Mamelodi of Gugulethu groot word?

Susan Lombaard ·

Beste Jandré, ek skryf die brief in Afrikaans omdat Maroela Media ‘n Afrikaanse platform is. Ek hoor jou. Nee, ek sal waarskynlik nooit presies verstaan hoe dit voel om in ‘n plakkerskamp groot te word nie, en ja, die feit dat ek in ‘n goeie skoolstelsel was en ouers gehad het wat my ondersteun, het beslis in my guns getel. Ek het nie nié simpatie met betogende studente nie – inteendeel. Ek het dit teen die plundering, geweld en vandalisme wat daarmee gepaard gaan deur mense wat reeds ingeskrewe studente is en van wie ‘n mens sou verwag dat hulle begrip het vir die “regte” en “verkeerde” manier van doen. Die feit dat dit ‘n studente-betoging was, impliseer immers dat dit grootliks (nie uitsluitlik nie, ek weet) studente is wat daaraan deelgeneem het – ingeskrewe studente wat dus reeds die geleentheid het om te studeer. Nie jongmense wat nooit die geleentheid gehad het om in te skryf vir studies aan ‘n universiteit nie. In ‘n analise oor die profiel van die betogers gister lees ek dat hulle meestal jongmense uit die swart middelklas is met dieselfde ekonomiese vermoë as die wit middelklas. Ek het ontsettend baie empatie met dié wat iewers in ‘n plakkerskamp sit, dalk ‘n huishulp of tuinier gaan word al het hulle die intellektuele vermoë om ‘n graad cum laude te verwerf, omdat hulle omstandighede dit nooit sal toelaat nie. Maar dis nie hulle wat betoog nie. Ek het dit ook nie teen betogings om laer klasgelde of ‘n laer verhoging in klasgelde op ‘n vreedsame manier te eis nie; ek het dit teen dié wat dit verniet wil hê en met geweld daarop aandring, asof dit ‘n reg is. En daar is baie mense daarbuite wat soos ek voel maar nie ‘n spreekbuis het om hul gevoelens hieroor te verwoord nie, daarom doen ek dit namens hulle. Groetnis, Susan Lombaard

Emile ·

Ag fooitog Jandre’,

Die ou storietjie raak nou regtig afgesaag. Mense is waar hulle is oor hulle daar wil wees altyd die agtergeblewende. Agtergeblewende met ‘n DSTV skottel op die dak. Ry bietjie verby of deur ‘n plakkerskamp. Dis mos nooit hulle skuld nie.

Enige swart mens in Suid Afrika wat net bietjie potentiaal wys word opgehewe en bevoordeel so moenie vir my se daar is nie kanse in Suid Afrika vir mense wat in plakkerkampe bly nie. Niemand se hande word afgekap nie.

Ek het na 94 skool klaar gemaak en vir my was daar net eenvoudig niks geleenthede in hierdie land nie, daar was nie geld vir my om te gaan leer nie ook nie. Anders as die swart kinders wat bevoordeel is om werk te kry moes ek maar my eie potjie krap en met harde werk en geld wat ek gespaar het ( om verder te gaan leer en myself te verbeter) is ek vandag waar ek is.

Ek werk steeds nie in Suid Afrika nie want vir my is hier nie werk nie.

Ons is waar ons is in die land presies omdat die arme mensies glo die lewe skuld hulle iets. Alles is mos ‘n reg deesdae. En hoekom sal hulle nou wil hard werk vir iets as hulle net eenvoudig dit kan kry of as hulle dit nie kan kry nie dan brand of breek hulle af.

Niks in die lewe kom op ‘ n silwer skink bord nie.

Goggie ·

I studied many years ago. And we were dirt poor. I stareted working during holidays when I was 13 years old. In other words, child labour,in todays views. But it taught me independency,honour, money skills,etc. I never held my parents or anyone responsible for having to work from an early age. It only taught me that with hard work you can reach any dream doesn’t matter what obstacles. There are ALWAYS a way!!! Look and search for the opportunities. Today I have reached the top and it was only through consistent hard work. NO preferential treatment.

Kobus ·

Jandré, Susan verstaan baie goed dat dit moeiliker is vir iemand wat ‘in’ Gugulethu bly. Haar punt is bloot om daar ‘uit’ te kom, harde werk en opofferings verg- en nie klipgooi nie. Dis goed en dapper dat sy haar storie vertel- dit gee jonges moed, gee goeie raad en bevestig sukseswaardes. My dogter het pas nav haar storie besluit om haar fotografie stokperdjie tot ‘n klein besigheid uit te bou om so self haar Puk-etegeld te betaal.

Susan Lombaard ·

Beste Kobus, jy maak my dag. Groetnis, Susan Lombaard

Henry ·

Tuks se Buitemuurse kampus in Proesstraat, Pretoria was die tuiste vir derduisende van ons wat van 0800 tot 1700 gewerk het om vir ons eie studies, kos, klere en verblyf te betaal.
Ons het Maandag tot Vrydag van 1700 tot 2130 klas gedraf.
Talle latere advokate, prokurowers, ouditeure, MBA’s, CA’s ens het hul tande daar gesny en geleer dat elke mens vir sy eie heil verantwoordelik is. Veral wanneer ons ouers nie hul bloedjies se verdere opleiding kon bekostig nie.
Dan het ons nog tyd gemaak en ge-“djippo” om Pretoria se pragtige meisies van heelwat naderby te leer ken.
Wonderlike tye en wonderlike leerskool.
Viva Tuks Buitemuurs!!!

Muller ·

Ongelukkig is die mentaliteit van die meeste Suid Afrikaners dat hulle alles gratis en verniet wil he, en almal om hulle moet opdok sodat hulle daai voorreg mag smaak. Dis mos almal anders se skuld as dinge nie uitwerk nie. So as dinge nie na jou wense gaan nie, breek dus af, brand, verwoes, rand aan, hoe aggressiewer hoe beter, want dan sal jy mos jou “sin” kry. Soos ‘n stout kind in die supermark wat ‘n tandrum gooi voor die lekkergoed rak. En ongelukkig speel die regering so mooi in hulle hande, want daar word nooit oor die vingers getik en gese GENOEG IS NOU GENOEG nie!! Hou op, julle is uiters bevoorreg om te kan studier / werk ens. Hoeveel wil die regering nog in hulle keelgate afdruk, als verniet en mahalla

Marlene Eckard ·

Dankie Susan , baie mooi gestel ! Daar is nog ‘n ding wat ek wonder . Hoeveel van daai betogende studente het eksamen toelating vir die jaar gehad ?

Willem ·

Met die uitsondering van een of twee opinies hierbo, ervaar ek hierdie as ‘n “wit-gesprek” wat meeste van ons landgenote sal verbygaan – en miskien ook maar goed so. Dit is veralgemenend en mis (soos so baie Afrikaanse media) die punt. Belangriker is dat dit spreek van ongevoeligheid en totaal uit pas met wat ernstige media hieroor berig. Max du Preez se artikel in Media24 vandag stel my gevoel soveel beter: Terwyl die land by ‘n belangrike mylpaal staan, beskerm Afrikaanse studente die Totius-beeld… Miskien is dit geen toeval dat dit studente van ons voorste akademiese universiteite was wat in hierdie veldtog leiding (inisiatief) geneem het terwyl ons kringetjie (laer trek) vorm om Totius.

Henry ·

Willem
Ons Afrikaners gesels onder mekaar en ruil stories uit wat met die onderwerp van ‘n skrywe verband hou. Ons raak soms ernstig en soms praat ons oor alledaagshede. Meesal oor dit wat vir Afrikaners belangrik is.

Gelukkig is ons oopkop genoeg om laaaankal nie meer die strooipop pogings van ou Max, Piet Lapkop en andere vir soetkoek of vir vye te verslind nie. Om nie eers van jou sogenaamde “ernstige media” te praat nie!!!

;-)

Henry ·

Susan
Het jy ‘n probleem met derduisende siele wat by Tukkies buitemuurs gestudeer, gewerk en vir ons self gesorg het?
Indien wel, vertel waarom en indien dit nie die geval is nie, waarom plaas jy nie my ou kommintaartjie nie?
Ek’s die ene ore en oë!

Susan Lombaard ·

Hallo Henry! Ek is nie seker watter kommentaar van jou nie geplaas is nie – die span aan diens monitor die kommentaar op alle stories; dis allermins ek wat elke kommentaar deurlees en goed- of afkeur. Soms neem ‘n kommentaar weens tegniese redes net ‘n wyle langer om op die blad te verskyn. Ek is dus nie seker wat die rede was waarom jou kommentaar nie verskyn het nie; en of dit intussen wel verskyn het nie; en of dit dalk die kommentaar is wat wel ‘n entjie boontoe in hierdie gesprek sigbaar is onder jou naam nie. Ek sal dit moet nagaan met die span wat vandag aan diens is. Groetnis, Susan Lombaard

Santie Pienaar (TerBlanche van Prieska) ·

Baie dankie vir die praktiese Redakteursbrief – dit is ‘n weerspieeling van die meeste van ons “opgevoede, geleerde, suksesvolle volwassenes” se studie-verhale. NIKS WAS VERNIET NIE! Dat ons in ons studentedae 2 keer per week opgekookte skenkelbene/ sopvleis as ons hoofmaal vir die dag ten duurste ontvang het, was daar geen betoging of uitsmyt van kos, vullis, riool ens nie. Na my en my man se aanvanklike studies en ons getrou het, het ons SNAGS buitemuurs deur UNISA studeer – bitterlike harde werk om voltyds ‘n beroep te beoefen, saans 18:00 tuis te kom, huishouding te versorg en kos te maak en wanneer ander mense bedwaarts keer, die boeke op te neem en met ons UNISA-take en studies te begin. Hoekom kan hierdie betogende ongedissiplineerde massa nie ook hierdie opsie uitoefen nie? Ek weet hoekom nie: hulle “demand” en ontvang, want die staatspresident is te bang hy verloor hul stemme met die verkiesing indien hy nie aan hierdie ongedissiplineerde jeug se eise toegee nie. Wat sal gebeur indien staats-pensionarisse begin betoog oor die skandelike pensioentjie maandeliks? NIKS! My hart wil by my keel uitspring as ek sien in watter vodde leef die pensioenarisse en hoe vermors die regering biljoene rande. Ek weet net een ding: God sluimer of slaap nie… die uurglas is besig om uit te loop.

Dewald Alberts ·

Die aanmerkings hier is altyd my gaai se deksel, dit wissel van kommentaar tot kommintaar wat my soms laat glimlag en soms laat wonder, ek self was nie op universiteit nie, inteendeel ek was nie eers in matriek nie…my gevoel is egter dat ons “boere”kinders skapies was, en pragtig gekondisioneer was om in die kraal te bly, stroopsoet en “ja Ma, ja Pa”….so idealisties soos die Mormone van ouds…

Dewald Alberts ·

Piet, nee geensins, inteendeel ek het simpatie met almal in ons land, ons het iedere en elkeen `n situasie ge êrf ….

Chris Visser ·

Mooi werk! Dankie Susan. Die versoeke is meer en meer dat, alhoewel julle ‘n AFRIKAANSE nuusblad is, julle gerus kan oorweeg om sommer alles wat julle publiseer met ‘n keuse-skakel in Engels te gee. Ek weet dit gaan meer werk wees (Stel een van daai slim AFRIKAANS-ENGELSE studente wat wel gaan deurkom vanjaar aan – as daar gaan wees?).
Ek glo julle gaan meer lesers trek, maar ook ‘n baie groter invloed uitoefen waar dit tans in SA saak maak.
Dankie
Chris Visser

Susan Lombaard ·

Beste Chris, dankie vir die voorstel. Ek wens ons kon dit doen! Ongelukkig het ons nie die kapasiteit om soveel vertaalwerk te doen nie – dit sal meer as een persoon voltyds besig hou. Sodra ‘n mens in ‘n ander taal begin publiseer, begin jy ‘n ander teikenmark met ander behoeftes bedien; dus is blote vertaling van inhoud waarskynlik nie genoeg nie. ‘n Mens sal inhoud oorspronklik in Engels moet skep wat aan die inhoudelike behoeftes van ‘n mark wat anders gaan lyk, te voldoen. Maroela Media se visie is om ‘n Afrikaanse nuus- en kuierplek op die internet te wees; dus sal ons inhoud altyd Afrikaans bly. Maar ek kan darem byvoeg dat ons al meer Engelssprekende lesers op die blad sien, wat heerlik in Afrikaans lees en in Engels aan die gesprekke deelneem. Hulle is natuurlik welkom by ons. Groetnis, Susan Lombaard

Anton J Jansen ·

Die sogenaamde “redakteursbrief” en die meeste van die huidige kommentaar spreek van ‘n baie subtiele “wraaksug”. Ons moes betaal, dus moet hulle ook maar betaal. Ek het my kwalifikasies nie gratis ontvang nie, en ek moes soos die res van julle ook werk daarvoor. Ek staan egter bankvas agter ons betogende studente: hoekom nie? Julle soek verandering; julle soek ontwikkeling; julle soek dit, en julle soek dat. Maar, julle sit en wag daarvoor. Ek het juis in my studies geleer dat, as jy iets wil hê, moet jy baklei daarvoor. Dis hoe die lewe werk. Blankes word opgewerk as ander groepe anders as hulself optree. Hoekom? Dis Afrikanerkultuur om gemaklik op die sofa te gaan sit en oordeel uit te spreek. More gaan julle eie kinders ook universiteit toe en hulle kry gratis of goedkoop onderrig. En, hulle is onder die indruk dat julle daarvoor baklei het. Kom ons bedank die Boland Bank!
Die ANC kan nie dialoog voer nie; hulle kan nie debateer nie. Nee, hulle sit agteroor soos julle. Ek is trots op ons moderne studente met visie. Hulle veg hulle pad oop vir ‘n plekkie onder die son. Gun hulle dit!

Oom Harry ·

Julle haal mens se kommentaar na willekeur af . So ek sal nie in die toekoms kommentaar lewer nie. Net so swak soos die pienk media bv Netwerk24 . So julle kan gaan doppies blaas. Nog `n mislukte Afrikaanse poging.

Frank ·

As ek na die kommentaar kyk dan val die brief alweer net mooi om verkeerde ore. Ja mooi brief maar verkeerde gehoor.

Anja ·

Goeidag Susan en lesers ek is ‘n Afrikaanssprekende student en moet sê dat ek dink dat dit ‘n skreiende skande is dat meer Afrikaanssprekendes nie saam betoog het nie. Ek wens dat ons kan ophou om so maklik en selfvoldaan kritiek te lewer, veral oor dinge wat baie ver buite die meerderheid van se ons leefwereld plaasvind. Jou insig in die situasie is teleurstellend en ongelukkig moet ek my oë weereens in skaamte laat sak. Diegene wat gewelddadig opgetree het gedurende die protesaksies was ‘n klein minderheid.

Zelda ·

Jou insig en waarneminge oor die ge-orkestreerde politiekery van mense wat hulself as studente voordoen, is tragies en beslis nie tot voordeel van ons ware studente se wettige en werklike griewe nie.
Ek dink dat jy en die mense wat hulself met sulke onsinnighede besig hou, die mense is wat julle oë in skaamte behoort te laat sak.

L ·

Hi Susan,

Alhoewel ek met jou saam stem dat niks van goeie gehalte verniet is nie, voel ek dis tog belangrik om duidelikheid te gee op n paar dinge.

Ek is self n student op Tuks, tans in my finale van studies. Aanvankik was ek baie onsteld our die nationale universiteitssluiting. Met finale eksamens om die draai en n aantal onderwerpe om nog te behandel het die drie dae van klas mis soos n berg voor my gele. Alhoewel ek die betogers se rede tot n mate kon insien was ek van die opinie dat n groep geleerde mense besig was om hierdie kwessie op n uiters ongeleerde manier te benader.

Teen Vrydag het my opinie egter drasties verander en het ek self aangesluit in die mars na die Uniegeboue.

Ek deel graag met jou uitreksels van wat tussen Woensdag en Vrydag gebeur het om hierdie verandering aantespoor en stel jou voor aan die protes-deelnemers wie jy in jou brief veralgemeen het as mense met n ‘die-wereld-skuld-my-iets-houding’ en vandaliste.

Eerstens, een van my buurvrouens in die koshuis. Ons noem haar sommer D. Sy is ook tans finale jaar , en een van die hardwerkendste mense wie ek al in my lewe teegekom het. Ek het geweldig baie respek vir haar. Sy het twee jaar gelede van n plakkerskampskool met groot drome by die universiteit aangekom, maar nooit vir n sekonde n houding gehad dat die lewe haar iets skuld nie. Haar Ma werk as n bediende en Pa as n taxidrywer. Sy is op n NSFAS-lening en werk as a merker by die Universiteit om sakgeld te verdien. Sy is n lid van die Golden Key gemeenskap en ek klop gereeld aan haar deur vir akademiese hulp. Sy is ook een van die sagste mense wie jy in jou lewe sal teekom. Dus , betoger nommer een – nie n onpraktiese,vraatsugte of geweldadige persoon nie. Soos ek gese het, maak sy hierdie jaar klaar. Sy het aan my beskryf hoe sy aan die betoging deelgeneem het nie omdat volgende jaar se fooiverlagings haar kan help nie, maar omdat haar Ma en Pa nagte moes omsit sonder kos op die tafel om haar hier te he. Sy het die stap geneem vir die talle ander mense vir wie n R500 verhoging ondenkbaar en onbetaalbaar is.

Dan is daar, B, n wit vriendin wie haar eie weg deur universiteit betaal. Sy het na skool vir n jaar ‘afgevat’ om te tutor en geld te spaar. Hiermee kon sy vir haar eerste jaar betaal. Sy is tans op n lening en tutor steeds. Weereens , nie die prentjie van n betoger wat die media die afgelope paar dae verf nie.

So kan ek aangaan.

Ek wil ook graag beklemtoon dat die betoging,behalwe vir n handjie vol vrot appels , heeltemal vreetsaam was. Laastens moet verandering iewers begin , en die betogende studente het die week n eerste tree geneem tot bewustmaking en werkmaking tot n beter onderwysstelsel.

Carina de Jager ·

Viva Wandaliet!!! Ek moes dieselfde harde pad stap. Ekt by die tegniese college klas gegee @R50 per aand. Ek het Tik en Woordverwerking aangebied onder in die bib, vir voornemende rekenaars mans student. Beskuit verkoop en fiets getrap.
My ma het my vroeg vroeg ingelig – al ketting ek jou vas en slaan ‘n pen in, bly sal jy bly en jy sal dit maak.

Ek het. Ek het nie net ‘n nagraadse studie behaal nie, ek het deursettingsvermoe geleer!!

Pierre ·

Ek het self twee van my grade seur Unisa verwerf terwyl ek geqerk het. Dit kan gedoen word, maar di beteken nie dis ‘n goeie ding nie. Ek woon in die VK (om vir my seun ‘n toekoms ver weg van AA te verseker). Ons kan baie leer van die VK. Byvoorbeeld, enige vorm van AA is teen die wet hier. Tweedens, enigiemand van my ouderdom hier het grootgeword in ‘n bestel van “the first degree is free”. Die beate belegging wat enige land kan maak is om belowende studente se eerste graad 100% te borg. Onthou, dit sal maak dat jong Afrikaans kinders nie sal hoef te raap en skraap soos ek en jy nie. Een vraag: is jy teleurgesteld dat fooie nie gaan opgaan volgende jaar nie?

Theresa ·

Susan, dankie vir die redakteursbrief. Dit hou baie waarheid en insig in. Perspektief weer van ‘n ander kant af. Mag ek vra of jy dit spesifiek wil deel met ander koerante se redakteurs. Vertaal dit ook en sit sommer Afrikaans en Engels bymekaar in. Bv in Die Rekord, Die Beeld, Pretoria News. So lekker in al die Pretoria koerante. Gaan nie oor wie in jou brief “bevoordeel” word nie – dis ‘n piekfyn vasvat van inligting vir menige mense wat dit kan lees. Niks kan bv die spring soos ‘n wilde ding op ‘n ander persoon se voertuig goedpraat nie. Dis een ding om griewe te lug. Dis helaas heeltemal iets anders om in ‘n barbaar te verander met jou optrede – maak nie saak wat jy probeer beredeneer nie. Weereens dankie.

Nico Lemmer ·

Dis interressant dat Susan nerens in haar stuk na ras verwys nie, maar dat heelwat van diegene wat positief daarop reageer en byna almal wat negatief reageer rassekonnotasies daaraan koppel.

My stuiwer in die armbeurs (as iemand wat self by ‘n universiteit werk) is dat in hierdie storie soos altyd ook drie kante is: Kant 1 – Die regering verkwis en vermors en verduister miljarde rande en sny dan jaarliks die universiteite se befondsing per student terwyl daar terselfdertyd verwag word dat die universiteite meer studente moet hanteer. Dit is net nie volhoubaar nie en dit raak vir al hoe meer studente en hulle ouers onbekostigbaar. In die algemeen is die studente heeltemal reg dat dit nie so kan aangaan nie en daarin steun ek hulle. Kant 2 – Ja, baie van ons was ook nie regtig bevoorreg in ons studentedae nie en moes ook opoffer en ontbeer om ons kwalifikasies te kry. Dis nie billik om ons bloot die etiket van bevoorregtes om die nek te hang nie. Tog moet ek noem dat ons destyds minstens die vooruitsig gehad het dat die opoffering die moeite werd sal wees, want die graad was inderdaad ‘n sleutel tot ‘n beter lewe. Te veel van die huidige studente (swart en wit) gaan hard werk en skuld maak en desondanks dan nie werk kry nie. Kant 3 – Daar is inderdaad opportuniste en agitators met bybedoelings wat die hele situasie misbruik om chaos te skep en sodoende die regering die geleentheid gee om kastig in te gryp om “die orde te herstel” en dan totaal irrelevante en onverwante maatreels op die universiteite af te dwing.

Ons kan maar regtig begrip he vir die meerderheid van die betogende studente se frustrasie, maar ons moet ook met rede bekommerd wees oor die wyse waarop dit gemanipuleer gaan word om ander agendas te bereik.

Veda ·

Susan, jou absolute oningeligte opinie van wat daar gebeur het skok my. Maar wat verwag mens van n media platform soos hierdie. Uiters swak. Gaan doen navorsing. Of beter – stuur mense uit na die gebeure. Of is julle te wit? Jou vooropgestelde idees praat harder as feite hier. Sies.

Pieter ·

Viva Vida….ek het self die deel gemis waar die vrou vir haar familie in Gugulethu ook moes sorg….ek sê ook sies hiervoor….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.