Reuseoorwinning vir Zim-boere is Zuma se skuld

Deur Laurie Greyvenstein

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

AfriForum het Vrydag ʼn reuseoorwinning vir Zimbabwiese boere en grondhervorming in Suid Afrika behaal toe die hoogste hof van appèl in Bloemfontein in die guns van benadeelde boere van Zimbabwe beslis het. Die saak spruit voort uit die voortslepende geskil tussen Zimbabwiese boere en die Zimbabwiese regering nadat die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) reeds in 2007 vir die eerste keer in die guns van die boere beslis het.

Die Zimbabwiese boer, Mike Campbell, het in 2007 opslae gemaak toe hy en 78 ander boere daarin kon slaag om die SAOG se tribunaal, ʼn hof met internasionale aansien in suidelike Afrika en in Windhoek gesetel, oortuig het om die Zimbabwiese regering te verbied om op hulle grond beslag te lê, of om hulle en hulle werknemers van die grond te verwyder.

Zimbabwe het die bevel verontagsaam, sy grondwet gewysig om vir grondonteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, en bepaal dat geen eise teen sodanige optrede in ʼn geregshof ingestel kan word nie. Die boere het die tribunaal weer genader en ʼn bevel bekom dat hulle op vergoeding geregtig was en dat die Zimbabwiese regering aan hulle regverdige vergoeding moet betaal. Die bevel het op dowe ore geval en Zimbabwe het formeel van die tribunaal onttrek en met gewelddadige grondonteiening voortgegaan.

In 2009 het die beraad van staatshoofde van die SAOG die tribunaal, waarvan oudpresident Jacob Zuma ʼn lid was, se werksaamhede opgeskort en ʼn nuwe protokol ingestel wat die bevoegdheid van die tribunaal drasties ingekort het. Die besluit het skokgolwe deur akademiese-, politieke- en regskringe gestuur.

Die staatshoofde van die Suider-Afrika-streek het eenvoudig die reg omseil, ʼn erkende internasionale hof tot niet gemaak, en die hofbevel geminag. Die prokureursorde van Suid-Afrika het die hooggeregshof in Pretoria genader en ʼn verklarende bevel teen Zuma en die Suid-Afrikaanse regering bekom om die onwettigheid van Zuma se optrede te bevestig. Die bevel is daarna deur die Konstitusionele Hof bekragtig. Die Konstitusionele Hof het bevind dat Zuma se optrede onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik was. Die Tanzaniese hooggeregshof het ʼn soortgelyke bevel teen sy president gemaak. In beide sake het die howe bevind dat die oorspronklike protokol nog geldig is. Die Konstitusionele Hof het verder beveel dat die president sy stem aan die ondersteuning van die nuwe protokol moet onttrek, en president Cyril Ramaphosa het dit wel tydens ʼn beraad in 2018 formeel gedoen.

Daar was uit verskeie oorde beroepe gedoen dat die tribunaal se werksaamhede hervat moet word, maar die beraad van staatshoofde ignoreer dit steeds. Die uitspraak wat Vrydag in Bloemfontein gelewer is, is goeie nuus vir boere in die algemeen. Daar is nou reeds verskeie hofuitsprake teen grondonteiening sonder vergoeding, ook in ons eie Konstitusionele Hof. Dit versterk die kanse dat wetgewing wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak ongrondwetlik sal wees.

Die implikasies van die Bloemfontein-uitspraak is dat Zimbabwiese boere eise teen die Suid Afrikaanse regering kan instel as gevolg van die onwettige optrede van Zuma, wat reeds in Braamfontein bevestig is. In ʼn grondwetlike demokrasie kan staatshoofde nie besluite neem wat buite hul mandaat is nie. AfriForum se volgehoue druk in hierdie saak is prysenswaardig.

  • Laurie Greyvenstein is ʼn regskenner en spesialiseer in alternatiewe geskiloplossing. Hy tree as bemiddelaar op in familie-, siviele- en strafreggeskille en doseer deeltyds.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

En die gebroedsel loop nog vry rond. Ons regstelsel is n siek grap !!!

Swerwer ·

En Justisie van die Republiek van Suid Afrika asook die huidige ANC Regering is bang vir Zuma want niemand tree die die wese op nie. Hy regeer en voeter alles op en hy word maar net gelos.

Di ·

Bly veg in die hof vir geregtigheid vir hierdie boere! Sekeres dink mos hulle wat wette links en regs verander soos dit hulle pas. Dankie aan AfriForum se volgehoue druk, laat hulle BETAAL!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.