SA en die Internasionale Strafhof: die onverkwiklike saga duur voort …

Internasionale Strafhof in Den Haag. Foto: Asser Institute.

Op 8 Julie 2019 is ’n rebelleleier, Bosco Ntaganda, deur die Internasionale Strafhof skuldig bevind op agttien aanklagte van oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom wat hy in 2002 en 2003 in die Demokratiese Republiek van die Kongo gepleeg het. Dit sluit, onder meer, die volgende in: moord en poging tot moord, verkragting, seksslawerny, vervolging, opsetlike aanvoering van aanvalle teen burgerlikes, en die misbruik van kinders onder die ouderdom van vyftien jaar as kindersoldate wat aktief aan konflik deelneem.

Ntaganda is tot altesaam dertig jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is die langste vonnis wat nog opgelê is sedert die Internasionale Strafhof op 1 Julie 2002 met sy werksaamhede begin het. Dit is deur menseregteorganisasies van oor die hele wêreld verwelkom.

Jare lank word daar twyfel uitgespreek oor die effektiwiteit van die hof. Toe Ahmad al-Faki al-Mahdi in 2016 skuldig bevind is op aanklagte wat met die vernietiging van godsdienstige erfenisbakens in 2012 in Timboektoe, Mali, verband hou, het baie kommentators sinies aangevoer dat die saak aangehoor is omdat dit ’n “maklike wen” vir die hof sou meebring. Daar was immers heelwat bewyse teen Al-Mahdi, hy het skuld erken, en omdat die vergrype nie teen menslike teikens gepleeg is nie, was die verhoor na hul mening minder ingewikkeld. Hy is wel tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis en in Augustus 2017 is verder beslis dat skadevergoeding ter bedrae van byna €3 miljoen aanvullend tot dié straf aan die plaaslike gemeenskap betaal moes word. Dit was dus allermins ’n ligte straf, maar die vonnisoplegging van Ntaganda dui op ’n heel nuwe vlak van erns wat verrigtinge van die hof aanbetref.

In ’n artikel wat op 31 Januarie 2018 deur prof. William Gumede op die webwerf van die Universiteit van die Witwatersrand gepubliseer het, skryf hy met ’n spesifieke fokus op die betekenis van die hof vir Afrika:

Hoe gebrekkig dit ook al mag wees, bied die Internasionale Strafhof aan gewone Afrikane ’n werklike alternatief om hul leiers aanspreeklik te hou, om uiteindelik die straffeloosheid te beëindig en te keer dat leiers met die mees wreedaardige misdade wegkom[1].

Gumede gaan voort om te beklemtoon dat dit ’n unieke en noodsaaklike vervolgingskanaal vir Afrikane is, aangesien die kontinent se eie binnelandse, streeks- en internasionale regsbanke steeds deur plaaslike leiers en regerings gemanipuleer word, en Afrikaleiers helaas deur hul eweknieë, asook streeks- en kontinentale organisasies beskerm word ten koste van die belange van die gemeenskappe wat deur hulle uitgebuit en benadeel word.

Beide Gumede en die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Kofi Annan, beskou die Internasionale Strafhof as ’n laaste kans vir geregtigheid in vele gevalle van menseregteskendings in Afrika.

Dit is dus tragies om te sien hoe die Suid-Afrikaanse regering steeds voortploeter met ’n proses om van deelname aan die hof te onttrek.

As ondertekenaar van die Statuut van Rome waarvolgens die hof tot stand gebring is, was Suid-Afrika van die begin af deel van die werksaamhede daarvan. Bekende Suid-Afrikaanse regslui was ook al werksaam by die hof. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het byvoorbeeld van 2009 tot 2018 as senior regsadviseur van die aanklaer by die hof gedien. Deelname op hierdie vlak het belangrike internasionale netwerke vir die land en Suid-Afrikaanse regslui help bou.

Die onmin tussen die Suid-Afrikaanse regerende ANC en die hof dateer terug na 2015 toe die regering versuim het om die destydse Soedannese president, Omar al-Basjir, in hegtenis te neem toe hy ’n beraad van die Afrika-unie (AU) in Johannesburg kom bywoon het. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is tevore deur die hof uitgereik. As ondertekenaar van die Statuut van Rome was die veronderstelling dat Suid-Afrika Al-Basjir in hegtenis moes neem en aan die hof uitlewer, maar die regering het homself probeer verontskuldig deur aan te voer dat hy in Suid-Afrika was vir ’n byeenkoms van die Afrika-unie, wat hom buite die jurisdiksie van die strafhof sou plaas. Terwyl die twis oor die Suid-Afrikaanse regering se verpligting, al dan nie, aan die gang was, het Al-Basjir die land stilletjies verlaat. Sodoende het daardie geleentheid om hom vir sy beweerde aandeel aan gruweldade in Soedan se Darfoer-streek te verhoor, verlore gegaan.

Die regering het kort ná die gebeure in 2015 ’n proses van stapel gestuur om aan die hof te onttrek. Destyds was deel van die motivering hiervoor dat die strafhof sogenaamd Afrikalande en Afrikane eensydig teiken – ’n uiters ongeldige argument aangesien die aksies van die hof tot op hede beslis nie net op Afrikane gefokus het nie.

Soos prof. Gumede ook uitgewys het, was hierdie bewering selfs nog meer ironies as in ag geneem word dat alle Afrikasake wat tot in daardie stadium voor die hof gedien het (buiten dié van Kenia), op versoek van Afrikaregerings of -inwoners ondersoek is. Bowendien het die aanstelling van regslui uit Afrika, soos bo genoem, aan Afrikane die geleentheid gebied om die hof van binne te beïnvloed.

Die Suid-Afrikaanse hoër hof het daaropvolgend beslis dat die land se voorgenome onttrekking, wat onder leiding van die voormalige president Jacob Zuma in 2016 van stapel gestuur is, ongrondwetlik was omdat die betrokke wetgewers nie oor die proses geraadpleeg is nie.

Op 6 Julie 2017 het die Internasionale Strafhof amptelik bevind dat die Suid-Afrikaanse regering sy plig in nakoming van internasionale wetgewing jammerlik versaak het deur Al-Basjir nie in hegtenis te neem nie. Geen materiële strafmaatreëls is teen die land ingestel nie, maar hierdie uitspraak het ’n verdoemende oordeel oor die regering se mislukking van sy etiese verpligtinge teenoor slagoffers van oorlogsmisdade en growwe menseregteskendings gevel.

Die Internasionale Strafhof. Foto: (AP Photo/Peter Dejong)

Nadat Cyril Ramaphosa die presidentskap van Suid-Afrika in 2018 by Zuma oorgeneem het, is gehoop dat die proses nou ten einde sou loop en Suid-Afrika sy belangrike rol by die hof sou voortsit.

Op 4 Julie 2019 het die eerste tekens dat die stof nie so maklik sou gaan lê nie, sigbaar geword toe die destydse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, verklaar het dat Suid-Afrika se onttrekking aan die Internasionale Strafhof opnuut oorweeg word.

Met die aanstelling van Naledi Pandor in die plek van Sisulu as minister van internasionale betrekkinge en samewerking op 30 Mei 2019, was daar weer hoop dat rede sal seëvier en die proses geskrap sou word.

Helaas was dit steeds nie die geval nie. In die laaste week van Oktober 2019 is die wetsontwerp op internasionale misdade in die parlement vir bespreking voorgelê. Wat die uitkoms van die proses gaan wees, sal die tyd leer.

Waar verskeie ander Afrikalande deel van die internasionale strafhof bly omdat hulle skynbaar kollektief menseregteskendings en ’n gebrek aan aanspreeklikheid onder Afrikaleiers wil teenstaan, kom dit voor asof Suid-Afrika homself as verhewe bo so ’n gesamentlike proses beskou.

In ’n artikel oor hierdie wetsontwerp, gee die kenner Beitel van der Merwe van die Internasionale Strafreg toe dat daar verskeie lande is wat nie lid van die Internasionale Strafhof is nie. Hy voeg egter by:

Anders as nielidlande soos die VSA, China en Rusland, is Suid-Afrika nie ’n internasionale supermag nie.  Die gebrek aan volle steun aan die Internasionale Strafhof mag daartoe lei dat Suid-Afrika dit al hoe moeiliker sal vind om sy reputasie as ’n kampvegter vir menseregte te handhaaf, veral as meer lande voortgaan om ’n universele bekragtiging van die Statuut van Rome te vra[2].

Die oë van die internasionale regsgemeenskap en van burgerregteorganisasies soos AfriForum is dus op die verdere verloop van hierdie proses gerig, aangesien die uitkoms hiervan vir alle inwoners van die land van groot belang sal wees. Alles moontlik moet gedoen word om die onttrekking teen te staan.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HPV ·

Die onmin van die regering is te verstane, die ANC en veral Malema staan ook in die ry van misdade teen die mensdom. Reg sal geskied!

Jerry ·

Geen opposisieparty of organisasie in SA sal die ANC keer om aan die internasionale strafhof te onttrek nie. Wat die ANC ookal besluit, hulle stoomroller onstuitbaar voort. Prof Gumede se verstandige siening is anti-rewolusioner en teenstrydig met ANC/eff rewolusionere siening dat ANC/eff elite verhewe bo die reg is en ten koste van alles en almal, beskerm moet word!

Kobus ·

My volk het nog nooit enige geregtigheid van ‘n internasionale hof ontvang nie.
Ons ontvang slegs geregtigheid van ons Skepper as ons Hom liefhet.
As bewys van ons liefde vir Hom, hou ons Sy gebooie en nie menslike verordeninge nie.

Koningin-By ·

As Afrikaaner/Boer is my versoek dat die Koningin van die Britse ryk ook vervolg word. 118 jaar terug was daar volksmoord teen die Afrikaner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.