Gewigsverlies: Waar begin selfdissipline en waar eindig motivering?

Mizanne Hattingh. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Selfdissipline en motivering is twee uiteenlopede idees wat nie altyd oorvleuel nie.

Dit het ek die afgelope ruk goed besef. Vandag is dit drie maande vandat ek besluit het om my eetgewoontes heeltemal te verander.

Aan die begin van hierdie reis (hoewel dit vir my nogal vreemd is om so daarna te verwys), was die motivering baie. Ek het my klein stukkie vleis en een tamatie geniet, want ek was gemotiveerd om die kilogramme te sien afrol. En so het dit ook gebeur.

Ek is vandag 23 kilogram ligter en het die afgelope maand werklik besef hoe selfdissipline en motivering eintlik van mekaar verskil.

Ja, daar is beslis nog gewig wat ek moet verloor, so die motivering het nie verdwyn nie, maar dit verg baie meer selfdissipline om nee te sê wanneer ons verby Burger King of die winkende sushi-restaurant ry.

Dit is maar ʼn Suid-Afrikaanse ding, nie waar nie? Ons sê dankie met kos, groet met kos, vier met kos en (dalk ongelukkig?) beloon ons ook met kos. Dit verg baie selfbeheersing om anderkant toe te kyk en myself nie met ʼn sjokolade te beloon wanneer ek ʼn doelwit bereik nie.

Ek onthou hoe ek vroeg vanjaar eendag net gedink het: Ag tog, kan ek nie meer selfbeheersing hê nie? Meer selfdissipline hê nie? Die worsteling het my wakker gehou in die aande. Ek was skoon kwaad vir myself as ek weereens te veel geëet het of weereens ja gesê het vir daardie ekstra glasie rooiwyn.

Benewens die gewigsverlies, hoop ek dat ek ʼn blywende selfdissipline kan kweek. Mens gaan nie altyd gemotiveerd voel om die stukkie koek van die hand te wys nie, maar dissipline is die ding wat jou oë op doel gerig sal hou.

Kyk, hiermee sê ek glad nie jy moet altyd die stukkie koek van die hand wys nie, maar kom ons wees eerlik met mekaar – soms is daardie stuk koek nie wat jou liggaam nodig het nie.

(Foto: Slender Wonder/Instagram)

Een van die eerste goed wat my dokter vir my gesê het toe ek hierdie program begin het, was dat my brein dit verleer het om te kan identifiseer wanneer ek versadig is. So ek het dikwels werklik net agter die lus aan geëet en dikwels ook kos wat my ná die tyd eintlik siek laat voel het.

Dit gebeur so dikwels dat ons as vroue veral by mekaar kla oor ons lywe, eetgewoontes en selfbeheersing. En dan kom dit altyd van iewers af: “Jy lewe tog net een keer, geniet die kos.”

Wat gebeur as daardie een oomblik van genot vlietend is?

Gaan gewigsverlies oor daardie 10-grootte broek waarin jy graag weer wil pas, of oor jou kinders saam met wie jy graag wil buite speel en rondhardloop? Oor die sonrokkie en jou bene wat mooi daarin moet lyk, of om gereelde doktersafsprake, medikasie en ʼn stryd met hoë bloeddruk en cholesterol te vermy?

Dit was waar ek was. Ek moes die keuse maak tussen ʼn gesonde toekoms en nog ʼn bord sushi, stuk koek of glas rooiwyn.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dit sluit aan by iets anders wat ek besef het. Rolene Strauss het onlangs met Maroela Media gesels oor mylpale en wat daarna kom en iets het veral by my vasgesteek: Wat gebeur wanneer jy jou doelwit bereik het?

Goed, ek het ʼn doelwit in sig – ek wil graag 45 kilogram verloor. Wat gebeur wanneer ek op die skaal klim en sien dat ek dit uiteindelik reggekry het? Wat doen ek daarna?

Gaan ek maar terug na ʼn leefstyl van pasta en sjokolade elke aand?

Dit is waarom selfdissipline meer waarde as motivering dra, want motivering is vlietend. Selfdissipline is wat jou gaan herinner dat jy gewig verloor het om gesonder te wees.

So ja, soms gaan jy daardie stukkie koek eet en jy gaan dit geniet, maar ander kere gaan jy nee sê. En dit is oukei.

  • Hierdie rubriekreeks word moontlik gemaak deur Slender Wonder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Jy kort nie die foefies nie. Beweeg meer, verbrand meer as wat jy inneem, geen “dieet” nie. Begin stadig, hou jou dieet soos hy is, beweeg meer, dan begin jy aan jou dieet werk, stadig.

George ·

En hou op die skaal dophou. Wat hulle jou nie wys nie, is dat dit 20kg oor 18 maande is. Wat maklik is, sonder die tiepe restrictive diets

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.