Sal krisis oor Katalane Spanje herorden?

Foto: (AP Photo/Emilio Morenatti)

Die Katalaanse referendum op 1 Oktober open die deur vir Spanje se grootste politieke krisis in dekades. Sowat 2,6 miljoen Katalaanse kiesers, 42% van die totaal, het gestem in die referendum. Van die kiesers het 90% vir onafhanklikheid gestem. ’n Eensydige onafhanklikheidsverklaring is nou een moontlikheid, maar hewige politieke spanning ’n sekerheid.

Die Spaanse regering van Mariano Rajoy het die referendum vooraf as onwettig verklaar weens die grondwet, wat Spanje ’n onverdeelde eenheid noem. Die legitiem verkose Katalaanse streeksregering het weer op grond van haastig deurgevoerde streekswette aangevoer dat dit die referendum mag voer.

Burgerlike ongehoorsaamheid

Die referendum was uiteindelik ’n reeks dade van Katalaanse selfbetuiging en burgerlike ongehoorsaamheid. Die hoofrolle is gespeel deur die Katalaanse streeksregering, sosiale media en WhatsApp-groepe en geheime komitees van aktiviste.

Die aktiviste het weke vantevore reeds stembusse versteek op allerlei plekke, dikwels in swart vullissakke. Tydens die naweek het baie ouers en kinders die skole wat as stemlokale sou dien, beset om te keer dat die Spaanse polisie dit kan afsluit. Hulle het met slaapsakke in skole gekampeer, speletjies gespeel, musiek gemaak en volksliedjies gesing.

Vroeg op die stemdag is die stembusse uit hulle wegsteekplekke na die stemlokale gebring. In plattelandse dorpe het boere hulle trekkers by stemlokale geparkeer om dit nog moeiliker te maak vir die polisie om daar in te kom.

Groot groepe van die Spaanse nasionale polisie is na Barcelona gestuur, waar baie in twee skepe in die hawe of in goedkoop hotelle ingeboek is. Vroeg op stemdag het hulle met voertuie na die Katalaanse stemlokale opgeruk. Namate die Spaanse sentrale regering toegang tot internetwebwerwe gekeer het, het nuwe toeps verskyn wat die nuus versprei en aandui waar kiesers kan stem.

Polisiegeweld

Foto: (AP Photo/Francisco Seco)

Toe die polisie met hamers glasdeure en vensters breek om in skoolstemlokale in te kom en stemlyste te probeer konfiskeer, het dit geblyk dat die lyste ook elektronies beskikbaar was. Stembusamptenare kon ook met ’n toep vasstel of kiesers volgens die sensus geregistreer was al dan nie. Terwyl die polisie deur die skares probeer breek het om die stembusse te konfiskeer, is die stembusse in klaskamers en geboue se kelders versteek.

Die gefrustreerde nasionale polisie het volgens fotos en video’s sommige kiesers met geweld uit stemlokale gesleep en by trappe afgegooi. Meer as 400 burgers het ligte beserings opgedoen terwyl polisie knuppels gebruik het. Talle rubberkoeëls is afgevuur op skares by stemsentra in Barcelona en ander stede. Foto’s van pensioentrekkers met gesigbeserings word versprei.

Die plaaslike Katalaanse streekspolisie, die Mossos, het intussen vreedsaam orde gehandhaaf en kiesers meestal nie gekeer nie. Jong en ou mense het in onderhoude genoem dat hulle ter wille van hulle ouers of hulle land of kultuur kom stem. Buite die stemlokale het mense as die polisie optree vo-ta-rem, vo-ta-rem gedreunsing. Votarem beteken “ons wil stem”. As die nasionale polisie weg was, het dit ʼn ruk geduur en dan is die stembusse weer uit hulle skuilplekke na vore gebring. Die feestelike stemming het dan weer teruggekeer en mense het mobiele foonfoto’s geneem en gewag onder sambrele in lang rye tot hulle beurt kom om te stem.

Politieke oorsake

Hoe het hierdie krisis ontstaan? Die Katalane is versprei oor verskeie gebiede, maar vorm sowat 7,5 miljoen mense in die Katalaanse streek. In Spanje vorm hulle 15% van die bevolking, maar is verantwoordelik vir sowat 19% van die BNP en 24% van uitvoer. Spanje het ’n reusestaatskuld van ʼn geskatte 99% van die staatskas. Spanje sou dus ver onder die bankrotskapgrens sak as die Katalaanse ekonomie wegval. Sy invloed as staat in Europa sou ook krimp.

In 2006 reeds is ’n Statuut van Outonomie met meer bevoegdhede vir die Katalane deur ’n sosialistiese Spaanse regering en driekwart van Katalaanse kiesers goedgekeur en onderteken deur die Spaanse koning. Sedertdien voer die sentrumregse Spaanse Populêre Party (PP) egter ’n veldtog om die Statuut te verswak. Regters, sommige dalk met politieke bande met die PP, het in 2010 met 6-4 besluit om die Statuut se artikels te herskryf of te herinterpreteer.

In 2011 het die PP se Mariano Rajoy ’n absolute meerderheid gekry in die Spaanse verkiesings en premier geword. Volgens baie Katalane het die Spaanse regering toe weer hulle Katalaanse kultuursake benadeel. Hulle het ook min teruggekry van al hulle belastinggeld wat elders in Spanje bestee is of in korrupsie verswelg is.

Kragte van herordening

Foto: (AP Photo/Emilio Morenatti)

Op plaaslike vlak het ná 2010 burgerbewegings ontstaan wat lokale referenda georganiseer het. Hierdie burgerbewegings het ook die Katalaanse partypolitiek verander. Die afgelope ses jaar het sowat ’n miljoen mense jaarliks vir Katalaanse onafhanklikheid betoog op die Katalaanse nasionale dag, 11 September.

Ander opsies vir meer outonomie binne Spanje het onrealisties begin lyk. Meer as 15 versoeke vir dialoog oor die Katalane se posisie is immers die afgelope dekades deur die Spaanse sentrale regering geweier. Die steun vir onafhanklikheid en partye wat dit voorstaan onder Katalane het dus die afgelope jare toegeneem. Uiteindelik het die pro-onafhanklikheidspartye met sowat 48% van stemme die meeste setels in die Katalaanse streeksparlement verkry.

Die Spaanse premier Rajoy lei sedert 2016 ’n minderheidsregering. Hy gebruik die Katalaanse kwessie om aandag af te lei van sy party se korrupsieskandale en die groot werkloosheid in Spanje. Hy tree nou op as die groot verdediger van die Spaanse nasiestaat, ook om ander Spaanse en Europese politieke kragte se steun te kry.

Burgerregte geskend

Die weke voor die referendum het die Spaanse regering polisiemagte gestuur na Katalonië om stembusse en miljoene stembriewe te konfiskeer. Referendumwebwerwe is gestuit en meer as 700 Katalaanse burgemeesters gedreig met hofsake as hulle referendumlokale sou toelaat in hulle dorpe en stede. David Kaye, ʼn Verenigde Nasies-rapporteur oor burgerregte, het die Spaanse optrede as vergrype beskryf.

Katalaanse identiteitspolitiek is weens die politieke magsverhoudings in die groter Spanje tradisioneel sosialisties of links-sentristies. Onder die outokrasie van generaal Franco is die Katalaanse taal uit openbare instellings geweer en hulle burgerregte en kultuur onderdruk tydens die tydperk 1939-1975.

Die Katalaanse onafhanklikheidstryders beskou deesdae soms die sentrale regering as ’n korrupte oligargie met baie Franco-aanhangers se afstammelinge. Die afgelope weke se optrede teen die Katalaanse kieserspoging het daardie beeld versterk. Die Katalaanse identiteitspolitiek beklemtoon ’n inklusiewe burgergerigtheid, met plek vir sowel Katalaans as Spaans in die openbare lewe. Die referendum se stembriewe is byvoorbeeld in etlike tale gedruk.

Tweegeveg of groepskikking?

Foto: (AP Photo/Santi Palacios)

Die Spaanse polisie se wegruk van stembusse, knuppelhoue en rubberkoeëls gister sou nie juis Katalane se liefde gewen het nie. Die Katalaanse streeksregering dreig met ʼn eensydige onafhanklikheidsverklaring. Talle Katalaanse vakbonde het vir Dinsdag ’n staking uitgeroep. Die Spaanse regering se optrede is ewe onvoorspelbaar.

Eensydige onafhanklikheid sou allerlei skade aan Katalaanse en Spaanse belange in Europa kon aanrig. Die halsstarrige legalisme van die Spaanse regering het te min krag om die krisis van politieke legitimiteit onder Katalane te oorkom.

ʼn Plurinasionale benadering van meer outonomie vir Katalane binne Spanje lyk na een opsie om die konflik te ontlont. Dit moet egter nog blyk of daar politieke kragte is wat dialoog en skikkings kan meebring. Die Spaanse politieke orde en die Katalane is nou in ’n wisselstroom wat die politieke landskap nuut sal vorm.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Leeu ·

Ek haal my hoed af vir die Katalane. Mag hulle n inspirasie wees vir alle onderdrukte volke.

John ·

Rajoy moes uitgestap het toe sy korrupsie ontbloot is, maar hy lief homself en sal die hele land eerder aftrek solank hy net bo kan bly… Klink dit bekend? Die EU wil homself ten alle koste handhaaf… dit is nou die Duitse bestuur wat meer en meer militaristies gaan raak om sy wil af te dwing. Alle Duitsers raak uiteraard aggressief as hulle teengestaan word. Sou die Katelane voorstu, sal die leegleer-Navo 10/1 ingestuur word… met al voorwaardes vir laasgenoemde om (in) te gryp: 007-video’s, geurige pizza’s en Duitse bier… baie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.