Soedan: Simptome van ʼn ou siekte wat Afrika vernietig

Deur prof. Paul Jackson, Birmingham Universiteit

Soedanese vlugtelinge op 1 Mei 2023 onderweg na Tsjad. Honderde Soedanese vlugtelinge kruis elke dag ‘n klein, droë stroompie om veiligheid in die naburige Tsjad te vind. (Foto: Gueipeur Denis SASSOU / AFP)

ʼn Drie dae lange wapenstilstand ter viering van die Islamitiese fees Eid-al-Fitr in Khartoem het in April gesneuwel terwyl gevegte in die Soedannese hoofstad voortduur. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WOG) is meer as 330 mense reeds sedert 15 April in dié konflik vermoor. Nou is daar berigte wat opduik dat wapens uit Egipte en Libië gestuur word vir die konflik wat lei tot toenemende vrese dat die situasie in ʼn burgeroorlog kan ontaard waarby streeksmagte ingetrek kan word.

Die geweld handel oor die magstryd tussen die land se weermag, gelei deur generaal Abdel Fattah al-Burhan en die paramilitêre groep Rapid Support Forces (RSF) onder leiding van generaal Mohamed Hamdan Dagalo, ook bekend as Hemedti. Die twee was onderskeidelik leier en adjunkleier van die oorgangsregering wat veronderstel was om aan ʼn burgerlike administrasie oor te gee ná uitsetting van hul voormalige president, Omar al-Bashir, in 2019. In plaas daarvan het die twee ʼn militêre oorname in Oktober 2021 van stapel gestuur.

Die RSF het begin as ʼn burgermagbeweging, die Janjaweed, bestaande uit vegters van Darfoer in die weste van Soedan. Dit beweging is gestig deur al-Basjir, wat Soedan van 1993 tot April 2019 regeer het toe hy in 2019 deur die weermag omvergewerp is ná maande se populêre protes teen sy regime.

Hemedti, ʼn ware konflik-entrepreneur, het al herhaaldelik mantelgedraai. Hy het prominensie verwerf toe hy vir al-Basjir in Darfoer geveg het, waarna hy in 2007 ʼn opstand teen al-Basjir gelei het voordat hy weer kant geruil het in ʼn ooreenkoms wat hom ʼn generaal gemaak het. In 2013 het Hemedti die Janjaweed omvorm in die nuwe groep, die RSF. Dit het hom van ʼn aansienlike magsbasis voorsien wat in 2019 instrumenteel was om al-Basjir te verdryf en daarna in 2021 die mag saam met die hoof van die weermag oor te neem.

Nou het die twee ʼn uitval gehad.

Paramilitêre magsmakelaars

Hierdie konflik tussen twee mededingende sentra van militêre mag is geensins ʼn korttermyn-Soedannese probleem nie, maar illustreer eerder ʼn algemene langtermynprobleem in Afrika. Daar is in Afrika ʼn geskiedenis van outoritêre heersers wat hul eie gewapende magte stig om moontlike militêre opstand teen te werk. Dié vasteland word lank reeds geteister deur konflikte wat nie-staatsgewapende groepe betrek – groepe wat ontwikkel is met die steun van internasionale spelers met óf kommersiële óf politieke belange wat met dié van die staat meeding.

Na oorname van Zaïre se presidentskap in 1965, het Mobutu Sese Seko byvoorbeeld ʼn verskeidenheid spesiale paramilitêre eenhede op die been gebring, insluitend die Spesiale Presidensiële Afdeling, wat lojaal aan hom eerder as die grondwet was en geneig was om uit dieselfde etniese groep afkomstig te wees. Net so het die sogenaamde groen bomwerpers in Zimbabwe as ʼn virtuele private weermag opgetree vir die land se voormalige president, Robert Mugabe, terwyl hy geveg het om aan sy mag vas te hou.

Hierdie paramilitêre burgermagte word tipies gebruik vir ʼn wye reeks aktiwiteite, insluitend politieke of partygebaseerde geweld, of selfs om as ʼn teengewig vir formele gewapende magte op te tree wanneer hulle as ʼn potensiële bedreiging beskou word.

Wat hierdie groepe definieer, is die gewilligheid om geweld as middel tot ʼn politieke doel te gebruik asook toegeeflike bevelvoering en beheer, gewoonlik gekoppel aan persoonlike patronaatskap of etniese bande. Die groepe is geneig om uit streeksgeskille te ontstaan en toon dikwels ʼn gewilligheid om buigsaam te wees in terme van lojaliteit en die najaag van hulpbronne.

Voeg huursoldate dan nog by

Hierdie groepe is dikwels verbonde aan ander huursoldaatorganisasies wat huursoldate, opleiding of ʼn mate van bevel en beheer kan verskaf. Die aankoms van Russiese huursoldate van die Wagner-groep in Mali, en die Suid-Afrikaanse firma Dyck Advisory Group (DAG) in Mosambiek het onlangs lig gewerp op ʼn nuwe vlaag huursoldaataktiwiteite op die vasteland.

Die Wagner-groep het enige betrokkenheid by gebeure in Soedan ontken en in ʼn plasing op die platform, Telegram, gesê: “Weens die groot aantal navrae van verskeie buitelandse media oor Soedan, waarvan die meeste uitlokkend is, ag ons dit nodig om almal in te lig Wagner-personeel was nie meer as twee jaar in Soedan nie”.

DAG beskryf homself intussen op sy webwerf as ʼn agentskap met ʼn “lang geskiedenis van verskaffing van maatoplossings wat sekuriteitsgebaseerde operasies in Irak, Afghanistan, Jemen, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Malawi, Zimbabwe, Suid-Afrika en Mosambiek onderneem het, vir ʼn verskeidenheid hoë-profiel kliënte”.

Wagner is geïdentifiseer om werksaam in ʼn aantal lande te wees, vanaf Mali en Libië tot die Sentraal-Afrikaanse Republiek, waar die organisasie deur Human Rights Watch van menseregte-gruweldade beskuldig is. Nou is Wagner blykbaar ook aktief in Soedan, waar hulle daarvan beskuldig is dat hul goud van Meroë, noord van Khartoem, gebruik het om Rusland se oorlogspoging in die Oekraïne ʼn hupstoot te gee.

Yevgeny Prigozhin, ʼn bondgenoot van die Russiese president, Wladimir Poetin, wat ook glo die stigter van die Wagner-groep is, het die bewerings ontken: “Ek het niks met die Meroë Gold-maatskappy te doen nie, hierdie maatskappy het nog nooit aan my behoort nie, ek weet niks van hierdie maatskappy nie”.

Hy het ook ontken dat hy geassosieer is met enige entiteit bekend as die Wagner-groep: “Ek is nie bewus van enige bewyse dat die Wagner-groep bestaan nie. Die legende van ‘Wagner’ is net ʼn legende.”

Die pot goud

Al-Basjir het glo in 2017 na Rusland gereis om Poetin vir ondersteuning te vra. Kort daarna het die nuwe goudmynmaatskappy Meroë Gold in Soedan, Afrika se derde grootste goudprodusent, begin myn. Wagner se hoofrol was vandaar om mynboubelange te beskerm en die regime van al-Basjir te ondersteun. Ná al-Bashir se omverwerping in 2019 was Wagner se hooffokus glo op Soedan se goudmynbedrywighede.

Meer onlangs blyk dit dat verhoudinge tussen Wagner en die RSF ontwikkel het, met Hemedti wat in Februarie 2022 na Moskou gevlieg het om Poetin te ontmoet. Volgens ʼn CNN-ondersoek wat in Julie gepubliseer is, het ʼn vliegtuig gelaai met goud enkele dae later vanaf Soedan na Rusland se militêre basis by Latakia in Sirië gevlieg. CNN het beraam dat sowat 90% van Soedan se goudproduksie, ter waarde van ʼn geraamde $13,4 miljard, na bewering op hierdie manier uitgesmokkel is.

CNN het daarna ʼn verslag gepubliseer waarin Soedannese en streeksdiplomatieke bronne aangehaal word om te sê dat Moskou die RSF van missieltegnologie voorsien in die huidige konflik – spesifiek oppervlak-tot-lug missiele om die Soedannese lugmag teë te werk.

Die skepping van paramilitêre magte soos die RSF eindig gewoonlik sleg. Die betrokkenheid van eksterne huursoldate, wat beide politieke en kommersiële belange dien, kompliseer dinge verder. In Soedan het dit ʼn groep, wat aanvanklik as bystandshulp vir ʼn vorige diktatuur gevorm is, in staat gestel om ʼn ernstige rolspeler in sowel die sakewêreld as die regering te word.

Dis onwaarskynlik dat sulke magtige en ryk individue mag oorhaastig sal oorgee. Dit laat dringende vrae ontstaan oor die onmiddellike toekoms van Soedan en ook die langtermyntoekoms van die gebruik van gefragmenteerde veiligheidstrukture op die vasteland.

Oorspronklik gepubliseer op The Conversation The Conversation

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.