Swart ekonomiese bemagtiging moet geskrap word

Deur Phumlani Majozi

Phumlani Majozi (Foto: Facebook)

Suid-Afrika se minister van finansies, Enoch Godongwana, het ʼn skuif in die regte rigting gemaak met sy nuwe verkrygingsmaatreëls wat ondernemings in staatsbesit bemagtig om hul eie voorkwalifiseringskriteria vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) daar te stel.

SEB-verkrygingsmaatreëls het tot dusver sentraal gestaan tot die kniehaltering van die funksionering van ondernemings in staatsbesit. Duidelik erken president Ramaphosa se regering dit – tot ʼn mate.

Die SEB-beleid is al deur talle ontleders as rampspoedig bestempel – van skrywer en politieke ontleder Moeletsi Mbeki tot dr. Anthea Jeffery van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) én Londen se bekende tydskrif, The Economist.

Sedert die inwerkingstelling in die 1990’s is SEB deur talle rolspelers in die land gesien as beleid fundamenteel tot die opheffing van voorheen benadeelde swart mense. Die bedoelings van die beleid was ook aanvanklik presies dit – die opheffing van swart mense. Dit wat ʼn edele idee, maar dit het misluk.

Diegene deur die beleid bevoordeel is die swart elite, wat op die netto-balans beteken dat die beleid teenproduktief was. Ons verduur aangaande kragonderbrekings deels weens die SEB-verkrygingsmaatreëls van Eskom. Hierdie reëls het ʼn negatiewe impak op Eskom se elektrisiteitsvoorsiening wat ons dus met beurtkrag los.

Eskom se kragonderbrekings het ʼn wesenlike negatiewe impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie. Indien SEB-regulasies nie verslap of afgeskaf word nie, sal die land nog vir baie lank onder kragonderbrekings gebuk gaan.

Een van Eskom se nuwe raadslede, Mteto Nyati, het probleme uitgelig soos veroorsaak deur SEB-verkrygingsmaatreëls. Dit was goed om te hoor hoe mr. Nyati hierdie as groot probleem uitlig – ons benodig meer enersdenkende mans en vrouens in ons instellings.

Sal die totale afskaffing van SEB-wetgewing al Eskom en ander ondernemings in staatsbesit se probleme oplos? Nee – maar privatisering sal beslis die beste manier wees om ondernemings in staatsbesit te bestuur. Die verslapping van SEB-regulasies, soos Godongwana nou gedoen het, kan dinge wel beter maak.

Herman Mashaba, leier van die politieke party ActionSA, het ʼn verfrissende argument geopper in sy onlangse TimesLive-artikel. Hierin argumenteer hy dat regstellende aksie in Suid-Afrika misluk het en daarom verwerp moet word. Geen Suid-Afrikaanse burger van enige kleur behoort diskriminasie in die arbeidsmark te ervaar weens hul velkleur nie.

Mashaba was dapper om hierdie te skryf, omdat diegene wat die mening uitdruk dat rasgebaseerde beleid afgeskaf moet word gewoonlik uitgejou en gedemoniseer word deur onverdraagsame gepeupel (“mobs”) in die media.

Argumente vir die afskaffing van SEB-beleid is kontroversieel. Diegene wat teen SEB-beleid argumenteer, verduur lelike aanvalle – ongeag hoe goed hul argumente teen rasgebaseerde beleid is. Enigeen wat dink dat hierdie lelike aanvalle uniek tot Suid-Afrika is, maak ʼn fout.

In die VSA ervaar mense wat regstellende aksie teenstaan dieselfde aanvalle. Hulle word gedemoniseer en geteister. Die mishandeling van mense wat geldige besware opper teen rasgebaseerde regstellende aksie is ʼn skande.

Die voorstanders van SEB-beleid regverdig die beleid op grond van die bedoelings, eerder as die uitkomste daarvan. Hierdie is ʼn fout. Soos Nobelprys-ekonoom, Milton Friedman, wat in 2006 gesterf het, eens gesê het:

One of the great mistakes is to judge policies and programs by their intentions rather than their results.”

Dit doen ons land geen goed om voort te sukkel met ʼn beleid wat nie werk nie bloot omdat die bedoelings daarvan edel is.

Wat die voorstanders van SEB-beleid ook argumenteer, is dat die beleid misluk het omdat dit sleg geïmplementeer is – of dat daar geen politieke wil by regeringsleiers is nie. Nee – die beleid is ʼn volslae ramp. Ons het programme nodig wat arm mense sal help, eerder as om swart elite te verryk soos wat SEB gedoen het.

Dr. Anthea Jeffery het al groot bydraes gemaak oor die strekking van SEB en die beleid se mislukkings. Haar bevindinge, soos uiteengesit in haar boek BEE – Helping or Hurting, is dat die beleid grootliks tot voordeel van reeds welvarende swart mense gestrek het eerder as arm swart mense soos wat die beleid oorspronklik beoog het. Die bevindinge is verdoemend vir die voorstanders van SEB-beleid.

Nog ʼn probleem met SEB het te doen met iets waaroor min mense praat – dit is dat die beleid swart mense ondermyn. Swart mense se prestasies word bevraagteken weens hierdie beleid.

Wanneer ʼn swart mens byvoorbeeld in die korporatiewe wêreld slaag, ontstaan daar outomaties ʼn vermoede dat dit weens SEB, eerder as die persoon se talent en harde werk, is. Swart mense se sukses word dus altyd bevraagteken.

Hierdie rig groot skade aan ons samelewing – dit rig ook skade aan die moraal van talle swart mense. Almal wil gerespekteer, erken en vertrou word wanneer dit kom by die werk wat jy doen. SEB maak dit moeilik vir swart mense.

Wat is die alternatief vir SEB dan? Wel, die idee soos voorgestel deur die IRR is ʼn goeie een. Die program wat hulle voorstel, staan bekend as Economic Empowerment for the Disadvantaged (EED). Hierdie program ondersteun mense wat arm is – ongeag hul velkleur.

Die voorstanders van SEB sal dan argumenteer dat hierdie verwydering van ras in bemagtigingsbeleid swart mense nadelig sal beïnvloed. Dit is nie waar nie. In ʼn bemagtigingsomgewing waarin ras verwyder is, sal die oorgrote meerderheid van begunstigdes steeds swart wees. Dit is omdat swart mense die meerderheid van die bevolking, sowel as die arm bevolking, uitmaak.

Die verwydering van ras uit bemagtigingsbeleid verminder egter die waarskynlikheid dat ʼn ryk swart persoon van Sandton verder befonds of bevoordeel word. Dit sal verder verseker dat ʼn arm wit kind ook bevoordeel word deur bemagtigingsbeleid.

Suid-Afrika se SEB-beleid het nie gedoen wat dit beoog het nie. Verandering is nodig. Die IRR se voorstel sal beter werk om die probleme van armoede en die aanspreek van behoeftigheid in ons land aan te spreek. Ons leiers moet die IRR se beleid aanneem en SEB verwerp.

Wat Godongwana gedoen het, behoort die eerste tree te wees na die totale afskaffing van SEB.

  • Phumlani M. Majozi is ʼn seniorgenoot by African Liberty en skryf vir die Vryemarkstigting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik ·

Besighede wat nog steeds SEB (ondersteun) is net so skuldig soos die regering aan die ekonomiese verval van Suid Afrika. Dit is slapgat van besigheidsleiers om nie van die begin hul rue styf te gemaak het van hierdie uiterste skadelike diskriminerende praktyk wat deur AA wetgewing amok gemaak het met die ekonomie.

Heinrich ·

Dit is hoogtyd dat almal wat nié ANC kaders is hulself laat hoor oor hierdie walglike beleid, want almal (selfs die kaders) ly almal daaronder. Al verskil is dat die kaders self nog hoop op ‘n paar rand by die voertrog, terwyl almal anders saam ‘suffer’.

annie ·

… daar is soveel werkswyses om ‘n kat te slag. Afrika sal altyd ‘n manier vind om sy sin te kry… By hook or by crook/sosialisme/kommunisme/poor little me/bad rich whites… Dink aan enige snik-rede en dit sal afgestof word. Moenie te veel hoop nie.

Harley Davidson ·

Dit is n moet ,behalwe dat dit ‘n ” crime against humans” is omrede dit gebaseer is op velkleur vernietig dit die ekonomie,ek kan na 30 jaar se regstellende aksies nie sien wat die verskil tussen dit en apartheid is nie.

Manie ·

Korrek, dan het sekere maatskappye wat kwansuis behulpsaam is met SEB registrasie nog die vermetelheid om my bykans weekliks die swernoot in te maak. Die lae skuim luister ook nie na ‘n nee nie, want hulle bel net volgende week weer. Hulle ore gons al van die swetswoorde, maar die goed is dikvellig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wensdenkery, SEB is die hart van korrupsie.

André ·

Geen wetgewing wat ras in agneem sal werk nie. Die ANC het nie geleer van die vorige regering nie. Die ANC se wet om die meerderheid te beskerm teen 7% van die bevolking is lagwekkend. Volgens die gees van daai wet is daar net werk beskikbaar vir 7% van die bevolking en dat jy die werk kry volgens jou vel kleur. 1948-1994: Net wit mag aansoek doen vir hierdie pos 1994-2022: Net swart mag aansoek doen vir hierdie pos. Ek hoop dit sal nou wees: Net die wat vaardig genoeg mag aansoek doen vir hierdie pos!

Chris ·

Ek het iewers ‘n storie oor SEB in die VSA gelees, weet nie of dit waar is nie, maar daar gelaat. Die werker word summier afgedank. Die lid ruk hom toe op en vra, “Is dit omdat ek swart is”. Die eienaar sê glo, “Nee jy is aangestel omdat jy swart is. Jy word afgedank omdat jy onnosel/onbevoeg is.”.

Daisy ·

Hulle moet mooi gaan kyk wat ons besig is om met DisChem te doen….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.