Tradisionele skoolstelsel nie die enigste antwoord op opvoeding

Deur Anelle Burger

(Argieffoto: Elaine Krige)

Hierdie tyd van die jaar word matriek- en eksamenuitslae onder die vergrootglas geplaas en ʼn algemene gesprekspunt is hoe dit met die eksamen gegaan het. Ouers wag in spanning om uit te vind of hulle kinders geslaag of gedruip het en om te besluit of die bonus (daardie rare verskynsel) op die vakansie of op ekstra klasse spandeer gaan word.

In die tuisonderrig-gemeenskap is hierdie gesprekke ʼn rare verskynsel. Wanneer goed bedoelende kennisse en vreemdelinge my dus nader word ek grootoog aangekyk wanneer ek noem dat my 13-jarige nie eksamen skryf nie. Ons fokus eerder op leer, deurlopende evaluering en die vaslê van begrippe en vaardighede as op die voltooiing van ʼn voorgeskrewe jaarprogram. Ons laat ons ook nie deur die kalender lei nie.

Tuisonderrig steeds ‘n onbekende verskynsel

Ek besef dat hierdie benadering totaal verskil van die tradisionele skoolstelsel waarmee mense bekend is, maar ek het gehoop dat daar na meer as 20 jaar van tuisonderrig (en 2 jaar van grendelstaat) ʼn beter begrip onder Jan Publiek sou wees, maar dit lyk of daar meer verwarring as ooit heers.

Talle vind dit moeilik om te aanvaar dat ʼn drastiese anderse benadering tot onderwys moontlik is. Dat daar ʼn wêreld buite graadvlakke (en ouderdom gekoppel aan graad), voorgeskrewe vakke en vakinhoud, en matriek op ouderdom 18 is.

In Sondag 27 November 2022 se Rapport lees ek hoe opvoeders en opvoedkundige sielkundiges nou nog bekommerd is oor die “verskuilde kurrikulum”. Die aanleer van sosiale vaardighede. Daar bestaan nog die wanopvatting dat tuisonderrig-ouers hul kinders in die huis toesluit en hulle ontneem van sport- en kultuuraktiwiteite en dus weerhou daarvan om vriende te maak, teleurstelling te ervaar en leierskapsposisies in te neem.

In die berig word daar ʼn onnatuurlike klem geplaas op sosialisering met onderwysers (hoe om onderdanig te luister en gehoorsaam te wees) en slegs met jou portuurgroep te meng. Seker dié dat my geslag nou nog ʼn oud-onderwyser as Meneer of Juffrou aanspreek, al is hulle net 5 of 10 jaar ouer.

Wat is tuisonderrig?

Daar is ʼn groot verskil tussen aanlyn skole en tuisonderrig, maar in die Rapport-berig word tuisonderrig oor dieselfde kam geskeer. Alle verskaffers van aanlyn leerprogramme en -produkte word sommer ook bygekom.

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Marietjie Ueckermann (lid van die Western Cape Education Council wat die Wes-Kaapse minister van onderwys van raad voorsien) definieer tuisonderrig soos volg:

“Tuisonderrig is onderrig waarvoor die ouer die volle verantwoordelikheid aanvaar. Hulle skep die leeromgewing en voorsien die opvoedkundige hulpmiddels. Dit kan aanlyn bronne insluit, maar die verantwoordelikheid vir die onderrig berus steeds ten volle op die ouers, en soms selfs by die leerder, indien dit ʼn selfgedrewe en selfstandige leerder is. Onderrig word dus nie gedelegeer of uitgekontrakteer nie.”

Tuisonderrig fokus op die volle ontwikkeling van die kind en die kind bepaal die kurrikulum. Daar word teen die kind se pas gewerk en die kind se belangstellings word deurlopend in ag geneem. Navorsing oor tuisonderrig is skaars en ek baseer my stellings op my eie ervaring, waarnemings asook gesprekke met ander tuisonderrig-gesinne (plaaslik en internasionaal). Ons is nogal ʼn gesellige lot en ondersteuningsgroepe op sosiale media wemel van frustrasie, raad en die deel van persoonlike ervaring.

Tuisonderrig en aanlyn skole

Talle ouers is ontnugter deur die diens van sommige KABV-tuisskoolverskaffers en aanlyn skole. Dit blyk dat daar groot onduidelikheid heers oor wie verantwoordelik is vir die kind se leer (die diensverskaffer of die ouer). Klagtes wat gereeld in ondersteuningsgroepe geopper word, is dat daar min ondersteuning is, kinders se vrae nie beantwoord word nie en dat die tempo en aanbieding van lesmateriaal nie gepas is vir onderrig by die huis nie.

Argieffoto (Foto: coyot/Pixabay)

Dit is geen wonder dat ouers gemiddeld binne 2-3 jaar oorskakel na ʼn kind-gesentreerde tuisonderrig-vriendelike benadering nie. Ek was van die gelukkiges wat binne 3 maande besef het dat skool-by-die-huis nie werk nie. Die voordeel van tuisonderrig is dat jou kind aktief leer. Leer vind optimaal plaas wanneer die kind gereed is daarvoor, belang stel daarin en verstaan waar dit in die “regte-wêreld” van toepassing is. Daar is ʼn paar mikro-skole wat hierdie benadering met groot sukses volg en die aanvraag daarna is groot.

Yolanda Smith is ʼn ouer wat aanlyn onderrig verstaan en die vrugte daarvan pluk. Sy het oor haar ervaring met ʼn aanlyn skool op Facebook geskryf en ek deel die volgende met haar toestemming. Sy noem dat haar seun van graad R tot graad 4 in ʼn openbare skool was. “Sy onderwysers het in 2019 gesê: ‘Hy gaan deur die cracks val!’ Hulle het gesê hy mag nie graad 4 herhaal nie, want die onderwysdepartement sal dit nie toelaat nie. Hulle het gesê hy sal glad nie graad 5 kan doen nie.”

Aan die begin van 2020 het sy haar kind by ʼn aanlyn skool ingeskryf en saam met hom die klasse bygewoon. Daar het sy besef dat hy met lees en skryf sukkel. ʼn Opvoedkundige sielkundige het hom kort daarna met disgrafie (leergestremdheid met geskrewe uitdrukking) gediagnoseer. Yolanda het haar seun ondersteun deur hom te leer om te tik, notas vir hom te neem en namens hom te skryf. Sy het verantwoordelikheid vir haar kind se leer geneem en middel 2022 die opnames van die klasse begin gebruik. Hy is tans besig met sy laaste graad 7-eksamen – iets wat die onderwysers nie gedink het moontlik sal wees nie.

BELA-wetsontwerp

Ek en my seun was deel van die Learn Free-afvaardiging wat op Dinsdag 22 November 2022 ʼn mondelinge voorlegging aan die Portefuelje Komitee oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Opvoedingswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) in die parlement gemaak het. Die voorlegging het gefokus op die onrealistiese wetgewing en regulasies wat vir tuisonderrig beplan word asook die behoefte aan die erkenning van mikro- (boetiek-) skole wat ʼn belangrike rol in die samelewing speel.

Christopher Cordeiro het genoem dat tuisonderrig en mikro-skole ʼn groot bydrae tot die bereik van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte kan wees, mits dit verwelkom word en wetgewing in oorstemming met die aard en realiteit van hierdie benaderings geskryf word.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (Argieffoto: Kopano Tlape/GCIS)

Voorleggings deur ander partye het bevestig dat daar ʼn groeiende tekort aan beide skole en onderwysers is asook ʼn behoefte vir kleiner klasse. My hart is verbly deur komiteelid, Patamedi Ronald Moroatshehla, wat na afloop van die Learn Free-voorlegging gesê het: “Education is dynamic.” Hy het vir Mzwakhe Mbuli aangehaal toe hy gesê het: “Change is pain,” wat hy opgevolg het met: “… change is inevitable.”

Die komitee het by my die indruk geskep dat hulle voorstanders is van ʼn demokrasie waaraan die gemeenskap deelneem (die term “participatory democracy” is gebruik) en hulle het deurentyd met respek en geduld aandagtig na die verskeie voorleggings geluister en daarop gereageer.

Tradisionele skoolstelsel nie enigste antwoord

Die tradisionele skoolstelsel is lankal nie meer die enigste manier om ʼn kind op te voed of te onderrig nie (lank gelede reeds was tuisonderrig en mikro-skole die norm). Hoekom sukkel ons kinders so op skool? En hoekom is soveel ouers op soek na ander weë? Ek dink dis omdat die kind ʼn gemiddelde geword het. Klasse is te groot en die druk is te veel. Dit laat onderwysers met geen ander keuse as om almal as eenders te beskou en te benader nie. Die gemiddelde word aangespreek. Dit is tot voordeel van die gemiddelde kind, maar dit benadeel die bo-gemiddelde en die onder-gemiddelde kind. Dit is baie keer dan ook hierdie kinders wat die skoolsisteem verlaat.

Binne tuisonderrig vind hulle ʼn tuiste. ʼn Plek waar hulle vinnig in tale kan vorder, maar teen ʼn stadiger pas wiskunde kan bemeester. Of as hulle wiskundige en wetenskaplike aanleg hul taalvermoë oorskry word hulle nie in hierdie vakke teruggehou nie, maar word hulle die vryheid gebied om hul vlerke te sprei terwyl die fondamente vir taal gelê word.

Ek het sterk opinies ten opsigte van onderrig gehad voor ons 6 jaar gelede met tuisonderrig begin het en hulle is almal verkeerd bewys. My wanopvattings het ingesluit dat slegs ʼn onderwyser ʼn kind kan leer lees en skryf en somme maak en dat ʼn kind slegs kan leer wanneer hy onderrig word. Ek was oortuig dat ʼn kind slegs kan leer as hy kan lees en skryf. My eie kind het die teendeel bewys.

studente

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argief)

Tuisonderrig in praktyk

“Maar hoe weet jy jou kind leer en sal eendag verder kan studeer as hy nie skool toe gaan nie?”

Dis ʼn vraag wat die komiteelede sowel as kennisse en vreemdelinge my vra. Die antwoord is maklik. Wanneer jy soveel tyd met jou kind spandeer bou jy ʼn hegte band. Jy weet presies wat sy sterk- en swakpunte is, waar hy sukkel en waarin hy floreer. Jy as ouer het ʼn gevestigde belang in jou kind se ontwikkeling. Die verantwoordelikheid vir jou kind se groei en ontwikkeling en akademiese prestasie is nie aan ʼn ander oorgelaat nie en ons maak gebruik van gepaste tuisonderrig materiaal van regoor die wêreld.

In die voor-matriekfase is die fokus van tuisonderrig-ouers om hul kinders aan soveel as moontlik bloot te stel, sonder die druk van toetse en punte. Ons moedig hulle aan om te probeer en foute te maak en daaruit te leer. Ons brandmerk hulle nie as slim of dom nie. Ons neem hulle op opvoedkundige uitstappies en laat hulle ʼn dag of twee by vriende, familie, of enigeen wat bereid is se werk spandeer (vir job shadowing). Ons gee hulle tyd om op hulle belangstellings en talente te fokus en om tog nog te kan speel.

Wanneer die kinders tieners word begin ons meer fokus op watter matriekkwalifikasie hulle wil bekom. Die gewildste matriekkwalifikasies is die Cambridge internasionale eksamen met die IGCSE-, AS- en A-vlak kwalifikasies, die General Educational Development test (GED) en die American High School Diploma. Hierdie kwalifikasies word wêreldwyd erken en bied boonop ʼn plooibaarheid wat die Nasionale Senior Sertifikaat nie bied nie. Vyftien- tot twintigjariges voltooi hul kwalifikasies.

“Maar wat as jou kind agter raak?” Agter raak met wat? ʼn Voorgeskrewe leerplan wat bepaal dat hulle op ouderdom x feit y moet leer?

Om te leer en dit wat jy geleer het toe te pas, is ʼn vaardigheid onafhanklik van inhoud. As jy weet hoe om te leer kan jy enigiets leer. As daar ʼn liefde vir leer gekweek is, en ʼn nuuskierigheid en behoefte aan verstaan aangewakker is, kan enige vak bemeester word.

In die berig op Rapport se voorblad meld ʼn skoolhoof dat kinders wat tuisonderrig ontvang ʼn graad of 2 agter is, maar waar is die bewyse en wat is die konteks? Kon die kinders enigsins voorberei vir die toets of word net skoolkinders daardie geleentheid gegun? Hoe vinnig het hierdie kinders wel die graadinhoud bemeester? Sou hierdie kinders nie dalk in elk geval gesukkel het en ʼn graad of 2 moes herhaal nie?

Gevolgtrekking

tuisskoolonderrig.jpg

Argieffoto

Die grendelstaat, sukkelende en swak presterende skole, oorvol klasse en die tekort aan skole en onderwysers het hernude druk op die onderwysstelsel geplaas. Talle ouers wat nog nooit van tuisonderrig gehoor het of daarmee bekend was nie het ter elfder ure by aanlyn skole ingeskryf in die hoop dat hulle die beste vir hul kinders doen.

Ongelukkig was baie gesinne nie voorbereid vir die groot sprong nie en van die verskaffers het nie aan hul beloftes gestand gedoen nie. Ons moet ook in ag neem dat aanlyn skole nog in hul kinderskoene staan en dat daar groeipyne gaan wees. Ten spyte hiervan het baie gesinne ʼn nuwe tuiste gevind en praat hulle met lof oor hul diensverskaffer.

Wanneer ons kinders as individue sien en vir hulle ʼn sê gee in die onderrig wat hulle ontvang, dan sal ons vordering maak. Dan belê ons in die volgende geslag. En wat maak dit saak of jy op 15, 18 of 20 matriek skryf?

Vir Suid-Afrika om te floreer en oplossings op talle van ons sosiale en ekonomiese kwale te vind, is dit noodsaaklik dat alle benaderings tot onderrig aangegryp word. “One size fits all” het nog nooit gewerk nie en allermins so in die onderwysstelsel.

  • Anelle Burger is tuisonderrigma en -aktivis woonagtig in Malmesbury.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Antie Sarie ·

Die tradisionele skole stelsel is weggespoel in die 80’s. Ter voorbereiding vir vandag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tradisionele skole gaan êrens in die toekoms uitsterf.

Kremetart ·

Ek is ‘n onderwyser. Ek is ‘n voorstaander vir tuisonderrig. Vir seker nie n aktivis nie. Ek weet sommige kinders gaan beter doen daarmee. Maar nie alle kinders nie. Weereens, nie alle kinders is dieselfde nie. Moet nou nie maak asof tuisonderrig in elke geval beter is as tradisionele skool nie. Albei het ‘n plek.

Tanya ·

Ek tuis onderrig my Graad 7 dogter al die laaste 1.5 jaar deur Impaq te gebruik en sy het soveel ingehaal. Haar punte is met 20% op. Ek glo ook Tradisionele skole in SA gaan in die toekoms uitsterf… Klasse is oorvol en geen hulp is meer bekikbaar by die skole nie. Hulle se reguit jy moet ‘n privaat tutor kry as jou kind nie verstaan nie. So betaal skoolgeld en ‘n tutor om jou kind weer te leer…..

annie ·

Dit is nie ‘n gebrek aan kennis wat kinders wat goeie tuisonderrig ontvang nie of by kinders in private skole wat in klein klasgroepies meer aandag kry nie, maar dit is die ingewikkelde veeleisende lewe daarbuite wat kinders wat aan spesiaal behandel gewoond is, se grootste vyand is. Die lewe is hard en wreed en met sulke spesiale behandeling raak kinders broos en sensitief vir harde stampe en stote. Leerders moet uiteindelik die lewensstroom trotseer. Gehardheid se moed is die outydse ysterharnas en sterk helm teen noodwendige aanslae.

Nettie ·

Baie dankie vir ‘n pragtige en insiggewende artikel.
Ek tuisskool ook al ‘n paar jaar. My oudste het suksesvol die GED afgelê laas jaar Februarie van haar matriekjaar, deur die aanlyn skool van Hermanus te gebruik. Sy het als met hoë punte geslaag. En het sopas haar eerste jaar aan ‘n College suksesvol geslaag, ook met baie goeie punte. Ek kan dit sterk aanbeveel vir die wat dit oorweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.