Tuimelende geldeenhede in Afrika

Deur Riaan Lombard

(Foto: FANATIC STUDIO / GARY WATERS/ SC / FST / Science Photo Library via AFP)

Stel jouself die volgende voor: In ʼn kwessie van 30 dae tuimel die rand vanaf R18.70 tot R26.18 vir ʼn Amerikaanse dollar, dit wil sê met 40%. Tot op hede die grootste tuimeling nóg in die rand se geskiedenis. Dit oortref die daling in die rand se ruilwaarde teenoor die dollar toe Jacob Zuma vir Nhlanhla Nene as minister van finansies in Desember 2015 afgedank het, of die val van Augustus 1985 met PW Botha se Rubicon-toespraak.

Van tyd tot tyd gebeur sulke skerp dalings in Afrika.

42%. Dis met hoeveel die Angolese kwanza teenoor die dollar afgeneem het in Junie 2023. Die val van die Nigeriese naira (63%) was nóg groter. In Zimbabwe, het die prys van ʼn Amerikaanse dollar in die primêre valutamarkte meer as verdubbel.

Oor die jare heen het die owerhede in Angola, Nigerië en Zimbabwe die buitelandse waardes van hulle geldeenhede, by tye, stabiel probeer hou deur die dollarwisselkoers vas te pen.

Stabiele wisselkoerse is veronderstel om handel te bevorder en buitelandse beleggings aan te moedig. Dit anker ook inflasieverwagtinge.

Die druk op so ʼn vasgepende wisselkoers word egter gou onuithoudbaar as die sentrale bank die regering se begrotingstekorte met behulp van die drukpers begin finansier. Mense verloor hulle vertroue in die land se geldeenheid. Hulle probeer dan om dit so vinnig moontlik te ruil vir goedere of vir sterker buitelandse geldeenhede.

Dié gedrag het tot gevolg dat die sentrale bank se buitelandse valutareserwes skerp daal. Dollartekorte ontstaan en valutabeheer word gewoonlik verskerp. Buitelandse valuta-transaksies vind ook al hoe meer in die informele mark (die swartmark) plaas, waar die dollar en ander sterk geldeenhede teen aansienlike premies verhandel. Wanneer die owerhede uiteindelik onder die druk swig is die devaluasie van die geldeenheid gewoonlik skielik en dikwels skerper as wat ekonome voorspel het.

In Angola is die kwanza se jongste val grootliks die gevolg van die markkragte van vraag en aanbod. ʼn Dollarskaarste het die ruilwaarde van die kwanza vis-à-vis die dollar laat verswak. Die Angolese owerhede is oënskynlik suinig met hulle dollarverkope. Die ruilwaarde van die kwanza is dus nie langer die teiken van die land se geldbeleid nie en die regering is ten gunste van meer buigsame wisselkoerse. Die internasionale prys van olie het die afgelope klompie maande skerp geval en ʼn voordeel van ʼn swakker kwanza is dat dit dié skok demp en diversifikasie bevorder.

Nigerië is natuurlik ook ʼn belangrike olieprodusent in Afrika. In Junie 2023 het die nuwe regering die hoof van die sentrale bank, Godwin Emefiele, ontslaan en die land se jare lange ingewikkelde stelsel van sekere wisselkoerse vir sekere valutatransaksies, en ander wisselkoerse vir ander valutatransaksies, geskrap. Die naira was voor dié besluit oorwaardeer. Streng valutabeheer en invoerbeperkings is gebruik om buitelandse valuta te rantsoeneer. Ná die ontslag van Emefiele is die owerheid se inmenging in die valutamark verslap. Die naira het gevolglik skerp in waarde gedaal tot by die vlakke in die informele mark.

Net soos in die geval van dollartekorte, is skielike skerp dalings in geldwaardes slegte nuus vir Suid-Afrikaanse ondernemings met filiale in die betrokke lande. ʼn Bewys hiervan is die valutaverliese wat genoteerde Suid-Afrikaanse maatskappye met filiale in Nigerië en Angola al in die verlede in hulle finansiële state geopenbaar het. Veral firmas met groot buitelandse dollarskuld, of wat as gevolg van valutabeheer en dollartekorte nie betyds hulle kwanzas, nairas of Zimbabwe dollars vir Amerikaanse dollars of ander sterk geldeenhede kon ruil nie, word erg geraak.

As gevolg van die drastiese verswakking van die geldeenhede, sal die invoerpryse in Angola, Nigerië en Zimbabwe skerp styg en sal die inflasiekoerse in die lande waarskynlik versnel.

In Afrika is daar baie uitdagings. In baie lande is die valutamarkte flou en verskansing moeilik. Een van die groot risiko’s vir beleggers of ondernemings is sporadiese dollartekorte, of tuimelende geldeenhede soos Angola, Nigerië en Zimbabwe nou opnuut bewys.

  • Dr. Riaan Lombard is ʼn onafhanklike ekonoom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JvR ·

Wereldwyd tuimel geld eenhede. Mens noem dit n Ekonomiese “reset”. En hierdie is net die begin.

Groen Ghoen ·

Dryf handel in/met mekaar se geldeenhede. Die VSA Dollar word deur geen tasbare/konkrete basis ondersteun nie – dit is papiergeld! Amerika het staatskuld van $32 triljoen en versuip in die skuld. China het dit besef, hou hierdie spasie dop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.