Turkye: Die sultan van Istanboel se vreemde ambisies

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Die mislukte militêre staatsgreeppoging in Turkye oor die naweek onderstreep die ongelukkigheid met die bewind van die Turkse regering. Turkye se president, Recep Tayyip Erdoğan, die diktator van Istanboel, het die afgelope paar jaar die hele magsbalans in Turkye, die Midde-Ooste en Europa versteur deur sy verstommende swak keuses en besluite. Die gevolg is dat Turkye vasgevang is in streekskonflik, binnelandse terrorisme en uiters swak verhoudinge met nie net Moslemstate nie, maar ook Europa.

Erdoğan het in 2003 aan die bewind gekom en sy Islamitiese Geregtigheid-en-Ontwikkeling-party (AKP) het gepoog om ʼn gematigde beeld van Islam aan die wêreld voor te hou. Die militêre leiers was destyds nog in beheer van Turkye en het Turkye se beeld as sekulêre staat beskerm, ten spyte daarvan dat Erdoğan se Islamitiese party aan bewind was.

Kemal Atatürk se moderne staat

Die gematigde Turkse republiek wat in 1923 daargestel is, was die skepping van Mustafa Kemal Atatürk, ʼn militêre offisier en later die president van Turkye. Atatürk het ná die val van die Ottomaanse sultans aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog besef dat Turkye sal moet moderniseer en verander in ʼn sekulêre, moderne staat. Hy het met politieke, ekonomiese en kulturele hervormings Turkye binne ʼn klompie jare in só ʼn moderne staat verander.

Onder sy leierskap het Turkye duisende skole gebou en bywoning verpligtend gemaak, asook aan vroue in dié Moslemland gelyke politieke en siviele regte gegee en die belastinglas op arm kleinboere verminder. Hy het die Latynse alfabet ingevoer en die Turkse taal uitgebou tot universiteitstaal in die 1930’s. Dit was terloops dieselfde tyd as die uitbou van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal.

Atatürk se buitelandse beleid was een wat neerkom op “vrede by die huis, vrede in die wêreld”. Hy was dus gekant teen binnelandse en buitelandse konflik. Hy het ook stelselmatig ooreenkomste met Brittanje en Frankryk gesluit en so die proses begin waarin Turkye die Weste se beste bondgenoot in die Moslemwêreld sou word. Op ekonomiese gebied is nywerhede geskep en die ekonomie suksesvol gediversifiseer.

Ná Atatürk se dood het opeenvolgende Turkse regerings sy gematigde, pro-Westerse buitelandse (gedurende die Koue Oorlog) en binnelandse beleid voorgesit. Die militêre leiers het jaloers gewaak oor Turkye se sekulêre karakter en enige regering wat dit nie nagekom het nie, met staatsgrepe omvergewerp. Die laaste keer toe hulle ingegryp het, was in 1997 nadat hulle ongelukkig was met ʼn pro-Islamitiese regering.

Dit was slegs ʼn faksie van die weermag wat ʼn paar dae terug ʼn staatsgreep probeer uitvoer het waarin ongeveer 265 mense dood is en meer as 3 000 weermaglede in hegtenis geneem is. Erdoğan het deur die jare andersdenkendes in die weermag afgedank en hul mag afgewater.

Die Koerdiese “probleem”

ʼn Groot probleem vir die Turke was nog altyd dat die Europeërs hulle nooit as gelykes beskou het nie. Turkye is gevolglik nooit toegelaat tot die Europese Unie nie, meestal omdat Turkye oor so ʼn groot Moslembevolking beskik. ʼn Ander binnelandse probleem wat nooit opgelos is nie, is die stryd teen die minderheid Koerde in die land.

Die Koerde is meestal wreed onderdruk, kon nie onderwys in hul eie taal ontvang nie en moes onder dwang trou sweer aan die Turkse staat. Hulle was tweedeklas burgers. Die Koerdiese deel in die ooste is ook nooit ten volle ontwikkel nie en die Koerde is minagtend as “berg-Turke” beskryf. Dit het die Koerde ʼn Marxistiese koers laat inslaan en hulle het ʼn rewolusionêre stryd om onafhanklikheid begin onder aanvoering van die Koerdiese Werkersparty (PKK).

Die PKK is gejag en die weermag het duisende dorpies uitgewis en tienduisende Koerde het in die konflik gesterf, maar die bestaan van Koerdiese gebiede in buurstate soos Sirië, Iran en Irak het dit onmoontlik gemaak om die PKK heeltemal te verslaan.

Erdoğan se ambisies

Erdoğan, ʼn suksesvolle voormalige burgemeester van Istanboel, het hierdie sekulêre staat geërf ten spyte van sy Islamitiese party se beleid. Die sekulêre aard het so ver gestrek dat Turkse vroue in die staatsdiens en op universiteit verbied is om die hijab, oftewel die kopdoeke wat Moslemvroue veronderstel is om aan te trek, te dra.

Hy het aanvanklik goeie werk gedoen. Erdoğan het as Navo-bondgenoot die VSA en Weste se aanvalle vanaf Turkse basisse op Irak ondersteun, maar het betrekkinge met buurstate en ander gehandhaaf en uitgebou. Hy het ʼn knap ekonomiese beleid gevolg en Turkye het jaar ná jaar ekonomies vooruitgegaan.

Erdoğan het egter heimlik sy eintlike ambisie stadig maar seker begin uitbou. Hy wou graag die magtige Ottomaanse Ryk van die 19de eeu laat herleef in Turkye se “tradisionele gebiede” in die Midde-Ooste, Sentraal-Asië en Suidoos-Europa. Met hierdie neo-Ottomaanse Ryk het hy twee datums in gedagte gehad: 2023, die 100-jarige bestaan van die Turkse Republiek, en 2071, die duisendjarige herdenking van die destydse Moslem (uit die Turkse gebiede) oorwinning oor die Bisantynse Ryk, die dominante Christenryk van daardie era.

Erdoğan het stelselmatig hierdie neo-Ottomaanse en pro-Islam-doktrine in werking gestel. Hy het begin deur sy betrekkinge (wat veral op militêre gebied sterk was) met Israel in 2010 te beëindig nadat die Israeli’s ʼn Turkse skip vol Islamitiese aktiviste aangeval het wat ʼn blokkade na die Palestyne in die Gazastrook wou ontspoor.

Steun aan radikale Moslems

Daarna het Erdoğan die Moslem-broers se stryd in verskeie lande gesteun tydens die Arabiese Lente in 2011, veral in Egipte en Sirië. Erdoğan het geglo dat die Weste die nuwe Islamitiese regerings sou verdra, soos dié wat wel in Egipte tot stand gekom het en in Sirië op pad was. Met die staatsgreep van die militêre leier, Abdul El-Sisi, teen die Moslem-broers se bewind in Egipte in 2013, het die situasie egter verander. Turkye het in daardie jaar sy ou beleid van vrede met sy bure versaak.

Hy het weldra die Al-Noesra-rebelle in Sirië en Irak ondersteun, wat binne enkele maande die kern van die Islamitiese Staat (oftewel Isis) sou vorm. Hierin het hy steun gehad van Saoedi-Arabië, hoewel hy laasgenoemde eerder as ʼn mededinger beskou het om leierskap van Soenni-Moslems.

In reaksie het Egipte Turkye se ambassadeur uit Egipte geskop. Turkye het skielik stram verhoudinge met Irak gehad omdat die Soenni-militante-opposisie gesteun is. Betrekkinge met Sirië is verbreek omdat hy Isis ondersteun het en Iran, wat Sirië ondersteun het, se verhoudinge met Turkye het oornag versleg.

Hierna het Turkye, ten spyte van sy openlike verklaring dat hy teen Isis gekant is, in die geheim Isis gesteun deur die verskaffing van wapentuig. Die doel was om die Koerdies-beheerde stad, Mosoel in Irak, uit die Koerde se beheer te kry. Die Koerde se selfregering in Noord-Irak was jare reeds ʼn meulsteen om Turkye se nek aangesien dit die PKK se aandrang vir onafhanklikheid aan die gang gehou het. Ná die val van Mosoel het Turkye deur middelmanne, veral Erdoğan se seun, olie van Isis aangekoop en daarmee die skouspelagtige opgang van Isis in Irak en Sirië basies gefinansier.

Die laagtepunt in Turkye se buitelandse betrekkinge was heel moontlik die afskiet van ʼn Russiese vegvliegtuig op die Turkye-Sirië-grens in November 2015, wat stram verhoudinge met Rusland onmiddellik versleg het. Pres. Vladimir Poetin het die Turkse ambassadeur ontbied, hom gekonfronteer oor Turkye se steun aan Isis en die afskiet van die Russiese vegvliegtuig, maar die diplomaat het alles ontken. Poetin het gevolglik die ambassadeur toegesnou dat Erdoğan en sy Isis-maters “hel toe kan gaan”.

Pres. Barack Obama van die VSA en ander Westerse leiers het egter min of geen kritiek teen Erdoğan uitgespreek. Hulle was afhanklik van lugmagbasisse in Turkye om teen Isis en pres. Basjir Al-Assad van Sirië se magte op te tree.

Die diktator

Binnelands het dit nie veel beter gegaan nie. Erdoğan het honderde andersdenkendes – joernaliste, universiteitsdosente, militêre offisiere en burgerregte-aktiviste in die tronk gestop, meestal ná saamgeflanste bewyse bymekaargemaak is. In 2014 het Erdoğan president geword (ʼn seremoniële posisie) ná drie termyne as eerste minister. In plaas daarvan om sy magte aan die nuwe eerste minister af te staan het hy die magte eenvoudig oorgeneem. Hierna het hy andersdenkende koerante toegemaak en die redakteurs eenvoudig in die tronk gestop.

Selfs buitelandse joernaliste is aangekeer oor hul anti-Erdoğan-artikels. Toe ʼn 16-jarige Turkse skoolseun Erdoğan as ʼn dief in sy skool se voordrag genoem het omdat hy ʼn 1 000-kamer paleis in die Turkse hoofstad, Ankara, laat bou het, is die seun summier in hegtenis geneem. In tipiese Mugabe-styl is meer as 1 000 mense in hegtenis geneem omdat hulle die president blykbaar beledig het.

Erdoğan het egter nog nie opgehou nie. Hy het ʼn troefkaart teen die Weste gehad, die Weste wat hy in sy grootheidswaan om die neo-Ottomaanse Ryk weer op te bou, verag: miljoene Siriese en Irakse vlugtelinge in Turkye. Erdoğan het eenvoudig die vlugtelinge losgelaat om per boot na die Europese vasteland te reis. Tot 1,3 miljoen vlugtelinge het in 2015 na die EU-gebied gestroom, aangemoedig deur die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, se verwelkoming aan die vlugtelinge en Erdoğan se drogredenasie om die “kruisvaarders” se state uiteindelik oor te neem.

Erdoğan sou in 2016 dieselfde vlugtelinge wat hy die vorige jaar Europa ingestuur het, gebruik om Europa af te pers vir sy doel om EU-lidmaatskap te bekom en visumbeheer vir Turke af te skaf in ruil daarvoor om van die vlugtelinge te ruil vir “beter gekwalifiseerde vlugtelinge”.

Die slang pik sy eie meester

Hoe dit ook al sy, die magdom swak besluite van die sultan van Istanboel (Erdoğan het in Istanboel grootgeword en die ou sultans het hier oor hul ryk geheers) het hom klaarblyklik nou finaal ingehaal. Nadat selfmoordbomaanvalle in Turkye so ʼn jaar of wat gelede begin het, het die Turkse regering eers die PKK as die skuldiges voorgehou. Gou is egter besef dat Isis wel die skuldige is, dieselfde Isis wat  Erdoğan ondersteun het in Irak en Sirië en elemente daarvan Europa ingestuur het saam met die vlugtelinge.

Sedertdien het vier selfmoordbomaanvalle in 2016 net in Istanboel plaasgevind, en verskeie ander in ander stede. Feitlik almal deur Isis-lede wat Erdoğan nou as kop in een mus met die “kruisvaarders” sien. Die Turkse weermag veg nou teen Isis in Sirië, en laasgenoemde neem weerwraak. Die slang wat Erdoğan self grootgemaak het, is besig om sy eertydse meester te pik.

Die toerismebedryf het feitlik platgeval en die ekonomie het enorme skade in die proses gely. Korrupsie en nepotisme is aan die orde van die dag.

Erdoğan het uit desperaatheid in die afgelope week of wat skielik besluit om sy buitelandse beleid te verander. Hy is skielik meer akkommoderend en probeer verhoudinge met Egipte en Irak verbeter. Sy onverbiddelike houding dat Assad as president verwyder moet word, is afgewater en hy het in twee verklarings Rusland om verskoning gevra vir die afskiet van sy vegvliegtuig in 2015.

Dalk is dit benoude spronge deur benoude katte. Soos gesien met die jongste staatsgreeppoging, het Erdoğan enorme probleme, wat hy meestal self veroorsaak het. Die vraag is nie regtig meer of hy gaan oorleef nie, dit is eerder of opvolgende Turkse politici sy neo-Ottomaanse Ryk gaan uitleef of terugkeer na hul sekulêre waardes. Dat sy toedoen die hele Midde-Ooste, Europa en Sentraal-Asië nog lank gaan destabiliseer, is egter ʼn voldonge feit.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Knikkebollen ·

Die ‘geskiedenis’- les betreffend Mustafa Kemal Ataturk is oorvereenvoudig en die realitieit van sy moderne Turkye is glad nie in eenstemming met dit wat ten alle koste van Kemal voorgehou word nie. Die feit van die saak is dat baie van die hedendaagse probleme in die Midde-Ooste, kan direk terug gevoer word na die doelbewuste opbreek van die Ottoman Ryk. Erdogan sit met ‘n magdom onmoontlike keuses maar as daar een ding is wat Turkye nie toegelaat mag word om reg te kry nie, dan is dit ‘n stabiele land in die midde van al die ‘vervaardigde’ chaos in die streek. Nadat Erdogan suksesvol daarin geslaag het om sy land in direkte konfrontasie met Iran te laat betrek, was die enigste uitweg om Turkye in binnekandse chaos te dompel. (Iets wat meer in gemeen het met wat tans in Amerika en die res van Europa aangaan as wat mense geneig is om te wil hoor). Natuurlik is hierdie spasie heeltemal ontoereikend om al die feite en hulle oorsprong te stel, maar die realiteit van Erdogan se Turkye is baie meer kompleks as ‘n eenvoudige Diktator van Istanboel fabel.

Theuns ·

Beste Knikkebollen, Ek kan sien jy ken jou geskiedenis. En dit is so dat die midde-ooste probleme baie dieper is as wat op die oog aangaan. Hoor graag meer van jou.

Knikkebollen ·

Korreksie op my vorige kommmetaar: Erdogan dit reggekry het om te VERHOED dat Turkye in direkte konfrontasie met Iran betrek word….

Theuns ·

Nico dit is uiters relevante kommentaar en ek sal graag by jou wil weet wat Poetin se rol is in die hele Turkye saga! Die redes hoekom ek vra is die volgende! Soos Erdogan is daar ook by Poetin (‘N WIT RUS) ‘n soeke om weer vir Rusland die eens magtige Russiese Staat te maak wat dit was. Die RUSSIESE RYK moet weer al die Balkan State insluit asook Turkye,Sirie,Iran, India, Pakistan, Pole, Duitsland, al die Arabiese State en ook al die Afrika State. Wit Rusland is grootliks Russies Ortodoks en ander State Muslim asook Christen ens. Rusland is natuurlik glad nie tevrede met die feit dat turkey deel van NAVO is nie! Die Weste glo dat hulle die volgende roete moet volg en dit behels die volgende strategie “Go for the Soul, Hearts and Minds of the enemy”. Die Russe daarenteen se strategie is om te gaan vir die “Minds, Hearts and Soul of the enemy”. Die Russe se strategie kan vergelyk word met die kaping van ‘n vliegtuig. Die kapers gaan nie vir die werkers in die romp nie maar vir die kajuit bemaning. As jy die kop beheer beheer jy die persoon! En die russe doen dit deur al die gelowe te aanvaar, die aan bewind van lande te korrupteer en toetelaat dat hulle hulle self regeer! Die uitendelik prooi is westerse lande veral Amerika, Engeland en ISRAEL. Ek sal dit waardeer om jou opinie te hoor. Baie Dankie

gatiep ·

Theuns ek dink nie jy het n idee wat aangaan in Rusland nie.lyk of jou probleem met Rusland is dat hulle nog wit is en nie aangeval is deur vlugtelinge nie.
Jou Miss clinton was verandwoordelik daarvoor toe sy Gadafie vermoor het.

John ·

Theuns, ek verskil totaal en al van jou. Die VSA hou Rusland voor as die groot bedreiging vir die planeet, terwyl hyself die wereld se grootste vyand is; tans die mees sluwe en korrupte land wat destyds wegkom het met die gebruik van 2 atoombomme. Wie het Duitsland se Nazi’s uiteindelik gestop? Rusland.

Johan 2 ·

Amper John (Theuns kyk te veel cnn). Navo en VSA is die gif vir wêreld stabiliteit. Net een ding wat bietjie skeef is, die “wit russe” is (soos wat Hitler was) Christene en nie onverdraagsame sioniste (die “rooi russe” ) wat Hitler “gestop”(eerder aangeval) het nie. Klink v my baie ingewikkeld…ek weet net een ding, ignoreer (of filter ten minste) die hoofstoom media.

Theuns ·

More John,
Dit is jou reg om van my te verskil! Ek is ook bly oor die geleentheid om met jou debat te voer! Jy is gedeeltelik reg. Dit was ‘n Wereld Oorlog. Die Amerikaners en hulle”Allies ” het van die Weste af op Duitsland toegesak en die Russe van die Ooste af. Die Russe en Amerikaners het feitlik gelyktydig in Berlyn aangekom! Die Oorlog in Europa was verby to die Amerikaners die Japanese tot oorgawe gedwing met die atoombomme op Hieroshima en Ngasaki. Ek was onder die indruk dat ons dieselfde Geskiedenis geleer het? Blykbaar is dit nie so nie?

gatiep ·

Johan jy is reg daar en na 2de wereld oorlog het die USA aan meer as n duisend professors van Hitler werk gegee om aan te kan gaan met hulle evil toetse op mense in USA.

DewaldS ·

Baie goeie artikel en baie interessante perspektief op Turkeye. Ek was al agt keer in Turkeye – ek weet so ietsie van die land en sy mense.

Dnkie Nico – ek hoop ons sien sommer nog heelwat meer van jou skrywes. Wat die mees verfrissendste is, is dat jy nie voortdurend in ‘doublespeak’ praat soos al die eks-Naspers ‘meningsvormers’ wat ook hier uithang nie.

Theuns ·

Beste DewalS, ek sien daarna uit om jou kommentaar ivm wat in Turkye gebeur te hoor en hoe die besigheid daar inmekaar steek? Dit is lekker om debat te voer maar dan moet die redes hoekom jy sekere dinge glo en ander nie bespreek word. Dit kan nie afgemaak word met ‘n eenvoudige antwoord dat dit die” grootste klomp bollie is wat jy nog gehoor het nie”. Hoe verwag jy ek moet jou antwoord op so eensydige stelling? Sien uit na die gesprek met jou. Groete.

Theuns ·

Die niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie! Party ouens gaan maar blind deur die lewe. Dewald hoop jy het n fantasties vakansie tussen jou Moslem vriende gehad.Groete

Gideon ·

Dankie vir berig Nico!! Vir eerste keer verstaan ek wat aanleiding gee tot konflik in Turkye, ek wens jy kan iets skryf oor wat Merckel nou gaan doen!!

Johan 2 ·

Ek wil ook weet! Ek hoop werklik hul kan van haar ontslae raak en weer hul onafhanklikheid terugkry.

Johan 2 ·

Beste Theuns, ek dink regtig nie Putin stel belang in wêreld oorheersing soos wat jy beweer nie…NAVO en die VSA aan die anderkant….Hoekom so sensitief oor Naspers?

Theuns ·

Beste Johan2,
Ek is glad nie sensitief oor NAS-PERS nie. Dit is DewaldS wat ‘n probleem het. In teendeel het ek groot respek vir NAS-PERS. Ek is ook oortuig dat Rusland strewe na wereld oorheersing en hy het dit grotendeels reg gekry. Hy oorheers tans feitlik die hele Afrika maar sukkel nog met Egipte. In Europa staan Turkye in sy pad. Erdogan het sy eie ambisie om die “OTTOMAN EMPIRE” te laat herleef en Putin streef weer daarna om die SOWJET UNIE te laat herleef. Tans is Turkye saam met Amerika die magtigste land in die streek. Die Amerikaners stoor selfs 50 B61 attoombomme in Turkye. Turkye is in die pad van Rusland in sy soeke om die Balkan state onder sy beheer te kry en om sy toegang tot Europa te vergemaklik. Lees maar Dr Leopold en Herman Toerien se kommentaar in die verband. Wat tragies is in Suid Afrika is dat Putin self Afrikaners oortuig het hy is ‘n goeie ou! Maar kyk na sy bedmaats en jy sien wie hy werklik is! Groete en oortuig my dat ek verkeerd is!

Johan 2 ·

M.S.King se boek “War against Putin” is nogal interessant (al is dit nie v my baie goed geskryf nie). Aan die anderkand vra jy bewys dat VSA eerder as Putin die wêreld probeer oorheers en jy antwoord eintlik jouself met die 50 B61 storie…Wie het die meeste militêre basisse regoor die wêreld, die mees argiewe land naamlik VSA (>340 vs 9 as ek nie mis is nie?). Putin is n “wit rus” nie n rooi kommunis nie, hoekom sou hy EU wil inval? Die weste maak Rusland af as n groot bedreiging terwyl hy eintlik maar skaars n wêreld moondheid is met n sukkelende ekonomie en weinig invloed buite sy grense. net een laaste opmerking ivm sentimens oor n Wit Rus: Wie het langs ons in die loopgrawe gelê in die engelse oorlog, en wie het ons probeer uitwis?

Jcwf ·

Erdoğan is deur Gülen beskuldig dat hyself hierdie staatsgreep georganiseer het en dit is seker nie onmoontlik nie. Die gee hom die geleentheid die opposisie uit te skakel.

In die staatsgreep is die parlementsgebou van Ankara beskiet. Dit lyk baie op die brand van die Ryksdag wat Hitler self veroorsaak het as rede om al die opposisie uit te skakel en die demokrasie af te skaf. Turkye word ‘n Islamistiese diktatuur en vir Europa is dit ‘n groot bedreiging. Gelukkig is Putin -die ander diktator aan die grense van Europa nie vriende met Erdoğan nie, maar dit kan verander, soos dit ook met Hitler en Stalin gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.