Twitter se groeipyne – redelike verwagtinge is die pad vorentoe

Deur Franco van der Berg 

Met die verbygang van elke dag druis die verdoemende standpunte oor die sosialemediaplatform, Twitter, se toekoms deur die krake. Vandat Elon Musk met sy wasbak by die Twitter-hoofkwartier opgedaag het en sy koop van die platform finaal gemaak het, bibber en bewe die ganse wêreld oor wat die toekoms inhou.

(Foto: Jonathan Raa / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Aan die een kant word daar besin dat die dae van ʼn veilige hawe vir opinies deel, gesprekke aanknoop en gesonde debat voer, verby is, en aan die ander kant dat dit eindelik weer terug is. Musk se eskapades op sy eie profiel help nie juis om die bespiegeling rustig te maak nie. Die vraag wat homself dan voordoen, is wat verwag jy van sosiale media?

Verwag ʼn mens dat sosiale media ʼn vorm van inkubasie moet wees waar idees en opinies in ʼn vreedsame alleenstaande toestand moet rus, of verwag ʼn mens dat daar ontwikkeling moet plaasvind? Ontwikkeling van idees in die meeste werksplekke, strategiese sessies en gesprekke vind juis plaas wanneer daar ʼn gesprek oor hierdie idees kan plaasvind – situasies waar daar vir mekaar leemtes uitgewys kan word; waar die bal gespeel word. Die bal doen niemand goed wanneer niemand aan hom mag raak nie.

Musk ag homself as ʼn absolutis vir vrye spraak. Keer op keer verwys hy na Twitter as ʼn virtuele dorpsplein, een waar mense, ongeag hulle politieke affiliasie, met mekaar kan gesels, redeneer, en bowenal opinies deel.

Die kamma-krake wat hulself voordoen rondom werknemers wat bedank, gedruk word om te presteer, en kantore wat gesluit word vir die naweek is nie ʼn simptoom van ʼn gebroke platform, visie of leierskapstyl nie, maar eerder ʼn voorbeeld van hoe ʼn oorname en verandering in kultuur by ʼn organisasie kan lyk. Hierdie oorname en veranderings speel net op ʼn baie sensasionele wyse in die openbare oog af.

ʼn Hoëdruk-omgewing, waarbinne prestasie bowenal geag word deur iemand wat ʼn maatskappy in wese probeer omdraai, is nie uniek nie. Om by te bly met ʼn veranderende klimaat is verandering binne die stelsels wat die klimaat se verandering meebring, ononderhandelbaar.

Bowenal, en dit is die kenmerkendste van die $44 miljard-vraag, is dit redelik om van iemand, wat soveel geld spandeer het, te verwag om in te val by wat ʼn werknemer glo die rigting is? Die waarskynlike antwoord is nee. Dit is in wese onredelik om op sosiale media teenoor die hoof van jou organisasie uit te vaar en dan te verwag dat daar nie nagevolge daaroor gaan wees nie.

Terwyl die onmiskenbare winde van verandering rondom Twitter waai, daar oor sy toekoms bespiegel word en ʼn wesenlike hoeveelheid verandering binne die organisasie self plaasvind, is dit onredelik om te dink dat enigiemand $44 miljard sal mors om ʼn meme daaroor op hulle profiel te plaas?

Dus, om stilswye van moontlik die berugste uitgesproke miljardêr te verwag, is onredelik. Om verandering teen staan in ʼn wêreld wat van dag tot dag anders is lyk, is onredelik. Maar om te besef dat tye, sosialemediaplatforms en opinies mag en moet verander om relevant te bly, is dalk die redelikste benadering.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks net na 20:00 Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

eks ook nou al keelvol om te hoor van die apartheid beneficiary.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.