Vryheidsdag voel soos besettingsmag

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die tirannie van die meerderheid is ’n inherente swakheid van meerderheidsregering waarin die meerderheid van kiesers hul eie belange bo, en ten koste van, dié van die minderheid plaas. Dit lei tot ’n onderdrukking van minderheidsgroepe wat met ’n tiran of ’n alleenheerser vergelyk kan word. John Stuart Mill, Britse denker

Die land het die afgelope Vryheidsdag min gehad om te vier. Die ANC het 27 jaar gelede met grootskaalse wêreldsteun die bewind oorgeneem, en opgewonde beloof dat ʼn nuwe era aangebreek het. Dit het egter gou geblyk dat die ANC by die onderhandelings net tydelike toegewings gemaak het om die mag te verkry. Namate die magsbalans verander het, het hulle die staatsmag begin gebruik om hul oorspronklike rasse- en sosialistiese doelstellings af te dwing.

Projekte soos gratis hoër onderwys, ’n omvattende welsynstelsel, onteiening sonder vergoeding, die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ʼn omvattende rassebedeling, radikale transformasie en die ondermyning van grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite en skole, wys dat die ANC minderhede se vryheid, veiligheid én voorspoed bedreig.

Vryheidsmag word besettingsmag

Die rede hiervoor is dat die ANC steeds openlik verbind is aan hul uitgediende “nasionale demokratiese rewolusie” (NDR) van die Koue Oorlog-era (die 1950’s). Die najaag hiervan teen alle demokratiese beginsels, ekonomiese werklikhede en regsgronde het daartoe gelei dat minderhede nie meer vry en veilig voel nie, en dat die ekonomiese voorspoed van almal in die land bedreig word.

Die ANC het hulle vóór en net ná 1994 as bevryders voorgehou, later soos oorwinnaars begin optree, en word nou oorheersers. Dit voel reeds vir baie mense of die ANC soos ’n tipiese besettingsmag optree. In plaas daarvan om soos ’n regmatige regering (’n “vryheidsmag”) almal in die land se regte en vryhede te bevorder, regeer hulle téén bepaalde groepe. Hierdie stelling klink dalk oordrewe, totdat ’n vergelyking getref word met die optrede van besettingsmagte in die geskiedenis. Hoewel die ANC deur wette in plaas van wapens regeer, word ’n bedeling aan sy praktiese uitkomste in plaas van die mooi grondwetlike bedoelings gemeet. Kenmerke van die gevolge van ’n besettingsmag sluit onder meer die volgende in:

Mense se veiligheid word orals bedreig, en die grense tussen misdaad en terreur vervaag.

Mense se voorspoed word ondermyn deur swak bestuur en plundering van die ekonomie. Dit gaan gepaard met straffelose grootskaalse korrupsie.

Vryheid is in gedrang. Waar die ANC byvoorbeeld net oor die 50%-steun in Gauteng gekry het, wil die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, 100%-mag oor die demokraties verkose beheerliggame van Afrikaanse skole uitoefen. Die ANC wil ook mense se vryheid van keuse ten opsigte van gesondheidsorg wegneem en almal in ’n staatstelsel indwing.

Openbare orde verval deur protesaksies, straffeloosheid en wetteloosheid.

Die staat verval stuk-stuk, en kan nie meer betroubare basiese dienste soos veiligheid en elektrisiteit aan sy burgers lewer nie.

Wit mense se menswaardigheid word aangetas deur die ANC-beleid van voorkeur aan “Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen”. Daardeur word wit mense tot tweedeklasburgers afgradeer.

Onwerkbare en onbekostigbare sosialisme word ingevoer wat die ekonomie benadeel en waardeur belastingbetalers hul eie benadeling moet befonds.

Afrikaners se geskiedenis word gekriminaliseer en die ANC se skeefgetrekte meesterverhaal van die verlede word in skole aan kinders opgedwing. Die doel hiervan is waarskynlik om ’n eensydige beeld van die verlede te gebruik om die ANC-beleid van die toekoms te regverdig en jong burgers se onderdanigheid te verseker.

Mense se werk word geteiken met rasseformules en hulle word na “onderindiensname” gedwing, waar hulle onder hul vermoë moet werk, met swakker vergoeding in onsekere poste.

Die “reg” word ondermyn deur wette te verander wat mense onregverdig benadeel, terwyl die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en howe ook Afrikaners se gelyke regte in die werkplek en die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite misken. So vervang die “wet” met staatsmag die “reg”.

Afrikaanse onderwys en opleiding word “getransformeer” ten koste van toegang, taal en tuis voel.

Baie Afrikaners voel asof hulle onder die dekmantel van dekolonisasie gekoloniseer word deurdat hul kulturele instellings oorgeneem en verafrikaniseer word.

Afrikaners leef onder ’n onsimpatieke en ontoeganklike regering, ervaar teenkanting van die regering en ondervind dat regeringsleiers hul dikwels beskou as vyande in plaas van gelyke burgers. Versoeke om as vennote saam te werk om krisisse aan te pak val op dowe regeringsore, want hulle wil alleen oor alles regeer en besluit.

Die meeste dorpe in die land word wanbestuur en talle kan nie meer basiese dienste lewer nie. Dit het ’n regstreekse uitwerking op miljoene mense se lewensgehalte en eiendomsbates.

Die argitektuur weerspieël die besetting met mure, tralies, veiligheidswagte en toegangsbeheer, soos wanneer burgers beleër word.

Daar is nie meer veilige toegang tot openbare ruimtes soos stadspleine, parke en staatsgeriewe in middestede nie.

Kulturele vandalisering van Afrikaners se taal, simbole, dorps- en straatname en die vervanging daarvan met dié van die “besettingsmagte” is aan die orde van die dag.

Die oorname, verval en vernietiging van soveel staatsinstellings, infrastruktuur, eiendom en bates wat oor dekades opgebou is vind plaas.

Belastingbetalers kry nie waarde vir hul belastinggeld nie, omdat die regering soos ’n besettingsmag die geld vir hul eie doeleindes gebruik sonder dat hulle inspraak in die besteding daarvan het of waarde vir hul swaar verdiende geld kry.

(Argieffoto)

Die onteiening van bates deur wette soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat groot persentasies eienaarskap volgens rassemaatstawwe oordra, benadeel elke pensioenfondslid, selfs nog voordat die beoogde voorgeskrewe bates of onteiening sonder vergoeding in werking gestel is.

Die ontneming van minerale- en waterregte van grondeienaars lyk ook meer soos die optrede van ’n besettingsmag eerder as ’n regmatige regering.

Suid-Afrika het ontaard in ’n demografiese demokrasie waar kiesers onlangs die ANC weer met ’n volstrekte meerderheid aan bewind gestem het. Dit het gebeur ten spyte daarvan dat hulle die land tot op die rand van die afgrond regeer het, omdat die kiesers volgens identiteit eerder as beleid of prestasie stem.

Die ANC se beleid van radikale transformasie wat uit hul NDR-beleid spruit, het die Grondwet as bloudruk van landsregering vervang.

Die voortbestaan van Afrikaners as ’n gemeenskap is selfs in gedrang deurdat die owerheid soos ’n besettingsmag instellings, soos skole wat vir kultuuroordrag noodsaaklik is, oorneem en nasiebou verskraal tot inlywing by die meerderheid.

Die meeste Afrikaners het vóór 1994 in verskeie verkiesings en referendums gestem vir demokratiese hervormings, maar die gevolge van die historiese omwenteling laat talle voel of hulle deur ’n rewolusionêre besettingsmag oorheers word. Hoewel die formele vereistes van demokrasie (soos gereelde verkiesings, ’n veelpartystelsel, parlementêre prosesse en onafhanklike howe) nog goed werk, word vryheid as die wese van demokrasie diepliggend aangetas. Die uitkomste van ’n bedeling wat met soveel hoop en ongeëwenaarde wêreldsteun onder ’n ikoniese leier afgeskop het, lyk al hoe meer na die soveelste voorbeeld van ’n mislukte Afrikastaat.

Voortbestaan

Die Afrikanerdenker N.P. van Wyk Louw het dekades gelede ’n morele verskuiwing aan die gang gesit met sy stelling oor “voortbestaan in geregtigheid”. Afrikaners het die politieke mag afgestaan en apartheid afgeskaf, en so aan die “geregtigheid”-vereiste voldoen. Dit het nou tyd geword om aan “voortbestaan” die hoogste voorkeur te gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

henk ·

Goeie artikel, maar ten minste een paragraaf wat die Afrikaner moet doen vir die “voorbestaan” sou dit nog beter gemaak het.

Hendrik ·

Henk die oplossing is handvoorliggend dat Afrikaners moet hul eie tuiste skep en dit uitbou. Huidige strukture word vernietig en Afrikaners het nie die politieke mag om dit te verander nie. Dus self help is die antwoord.

Johnny ·

“Die uitkomste van ’n bedeling wat met soveel hoop en ongeëwenaarde wêreldsteun onder ’n ikoniese leier afgeskop het . . .”
Daardie klassifisering van Mandela as “ikonies” was alles te wyte aan ‘n verdraaiïng en verdoeseling van die werklikheid.

Jack ·

Heeltemal korrek, Mandela se ikoniteit was ‘n skepping van die linkse massamedia. Die ANC was desperaat vir ‘n ikoon en Mandela was die beste wat hulle konvoorhou. Wat in sy guns getel het was sy 27 jaar in die tronk, nie omdat hy moord gepleeg het nie, maar omdat hy polities in opstand teen die bestaande orde gekom het. Maar baie mense het al deur hierdie valse voorwendsel gekyk. Hoe het die voormalige bevrydingshelde nie geval nie.

Andre ·

Wereldwyd is hierdie tendens te bespeur. Dit is asof alles wat goed was nou radikaal moet verander. Dit voel soms of Suid Afrikaners reeds met dit wat in die verlede gebeur het alreeds ondervinding het, of ons afrikaner leiers visie gehad het en waarvoor daar gekeer was in die verlede met goeie redes, nou die probleem is waarmee almal worstel. Kyk nou maar na grensbeskerming dan verstaan ons waarmee die amerikaners sukkel en dit hou nie by hulle op nie.

Andries ·

Elke Afrikaner-emigrasie behoort as ‘n dawerende aanklag teen die mitiese vryheid en ‘n vervloekende mosie van wantroue in die mislukkende demokrasie te dien.

annie ·

Wie is ‘n Afrikaner? Met broer Mulder in jul midde gaan die antwoord anders uitsien. Een ding is seker, Afrikaners gee nie ‘n flenter vir mekaar om nie wat nog ware Christene wees. Afrikaners se kulturele ontwikkeling het in 1994 vasgesteek. Radio Sonder Grense en Radio Rosestad weerspieèl dit. AfriForum lief die R1 000 pm tv-programme net vir ryk Afrikaners en betaal vir hofsake van ander bevolkingsgroepe want dit koop staanplek in die ry na die hemel. Afrikaners belieg mekaar, buit mekaar uit en ploeg skaamteloos met ‘n arm Afrikaner-buurman se kalwers… Wie is die Afrikaners?

Petrus Albertus ·

Afrikaners is ‘n kultuurgroep wat ‘n spesifieke/unieke taal, kostradisie en ontstaansgeskiedenis deel binne ‘n spesifieke geografiese ligging . Geen volk word uitsluitlik daardeur gekenmerk dat hulle oorloop van naasteliefde teenoor hulle volksgenote en dat elke enkele lid van daardie groep van ‘n praktiserende godsdiensoortuiging is nie. Ek dink nie jou opmerking slaag daarin om enigsens die volhoubare voortbestaan van Afrikaners in Suid-Afrika aan te help of te bevorder nie. Doen maar jou deel en laat die oordeel aan die Here oor.

Rooikoos ·

Puik artikel Flip, maar prakties wat moet die Afrikaner doen om die vryheid te kan ontvang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.