Waarom verlies aan vertroue in SAPD ons na afwenteling lei

Deur Ian Cameron

Ian Cameron (Foto: Action Society/Twitter)

Die 26-jarige polisiekonstabel Ashwin Pedro is verlede week in Parkwood op die Kaapse Vlakte doodgeskiet. Meer as 20 mense is tydens verskeie voorvalle in Manenberg geskiet en gewond. Minstens 45 bende-verwante skietvoorvalle word oor die meeste naweke op die Kaapse Vlakte deur Action Society aangeteken.

Volgens die jongste navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut, is minder as 5% van speurders tevrede met hulle werksomstandighede. Ongeveer 50% van deelnemers aan die navorsingspeiling, is polisielede van die Wes-Kaap, en nee, die meerderheid is nié blank nie. Ons kan dus ras – wat so maklik misbruik word vir politieke gewin – van meet af aan, uit hierdie bespreking laat.

Ons moet die goeie polisiebeamptes salueer vir uitmuntende uithouvermoë tydens hierdie hoogs uitdagende tye in die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Ongelukkig word goeie polisielede bedreig en ontbloot deur swak bestuur. Die tragiese gevolg van die SAPD-leierskap se toenemende onstabiliteit en politiese gedrewenheid, is dat konstabel Pedro se lot, ook ander lede s’n kan wees.

Dít terwyl ministers en hulle kollegas rondbeweeg omring deur swaar gewapende lyfwagte, wat van baie meer nut kon wees in gemeenskappe waar mense sneuwel teen koerse veel hoër as in sommige oorlogsones. Ons het verandering desperaat nodig.

In die afgelope maande het ek verskeie belaglike stellings gehoor aangaande die polisie in die Wes-Kaap. Berigte en opmerkings het gestrek van beweging na ʼn “volkstaat” tot sogenaamde private polisiëring. Ons het reeds ʼn enorme privaat sekuriteitsbedryf wat sekere rolle oorgeneem het, wat deur die polisie vervul kon word onder behoorlike bestuur.

Ten spyte daarvan dat hierdie stellings van alle waarheid ontbloot is, verstaan ek nie waarom enigiemand nié verandering sou wou waag om lewens te red nie. Indien dit werk – en ek glo dit sal – sal dit uiteindelik ook verandering rakende polisiëring bewerkstellig in ander dele van Suid Afrika.

Afwenteling in die Suid Afrikaanse konteks is eenvoudig ʼn proses waardeur die mag om ʼn spesifieke portefeulje te bestuur, gedelegeer word van ’n sentrale nasionale regering na ʼn provinsiale of plaaslike regering. Dit is suksesvol op verskeie plekke wêreldwyd waar mag gedesentraliseer is. Aangesien die nasionale regering hoofsaaklik en klaaglik misluk het, sou dit dus wys wees om nie al ons eiers in een mandjie te plaas nie.

Die SAPD is ʼn mislukte instansie. Ja, daar is duisende uitstekende lede; om die waarheid te sê, ek is steeds oortuig dat die meeste polisielede op grondvlak iets positief wil doen. Om dit egter as verskoning te gebruik, is dieselfde as om Eskom te verskoon omdat ons darem sekere tye van die dag van krag voorsien word.

Male sonder tal sal duisende polisielede egter dieselfde storie vertel: hulle word blootgestel deur leiers wat nie net onbevoeg is nie, maar dikwels ook korrup is. In verskeie gebiede kan ʼn enkele speurder oorlaai word met ʼn gemiddeld van soveel as 300 dossiere, sommiges met soveel as 500. Dit is gewoon menslik onmoontlik om kwaliteit diens te lewer met daardie tipe agterstand.

Onlangs, in ʼn gesprek met verskeie teenbende-polisiebeamptes van die Kaapse Vlakte, het ek gehoor dat selfs al sou hulle senior bendelede of soms hul eie kollegas in hegtenis wou neem, hulle dan moontlik die risiko loop om vermoor te word, geïntimideer te word of oorgeplaas te word na plekke waar hulle minder “moeilikheid” sal veroorsaak.

Die Global Initiative Against Transnational Organized Crime (GI-TOC) se risiko-ontleding oor georganiseerde misdaad in Suid-Afrika, het die volgende insiggewende opmerking rakende die SAPD gemaak:

“SAPS remains an institution without strategic direction when it comes to organised crime. It is still committed to a high visibility, low-impact approach that centres on taking down ‘high-flyers’ and making big seizures and large numbers of low-level arrests. This has enmeshed SAPS in a cycle of reward and focus that disincentivises intelligence, analysis and investigation. Promotion is based on stats, and not impact, while there is poor to no training in intelligence or detective capabilities. Although there have been several notable joint initiatives, trust between SAPS and Western Cape law enforcement agencies is patchy. Unless there is a significant improvement in this regard, operations against sophisticated transnational organised crime networks will suffer from a lack of crucial intelligence and high-level operational support.”

Afwenteling moet sekerlik oorweeg word wanneer die slegte reputasie van swak leiers op nasionale regeringsvlak in ag geneem word? Byvoorbeeld, vyf van die laaste sewe nasionale polisiekommissarisse is uit die amp verwyder as gevolg van onbetaamlike gedrag. Gesamentlik het hulle die SAPD vir die afgelope 23 jaar bestuur. Dus, nie net was hulle dikwels korrup nie, maar ook onbevoeg.

Die SAPD is, volgens my, nie onherstelbaar nie maar herstel van die SAPD is definitief nie die enigste oplossing nie, aangesien die verval so drasties en vinnig plaasvind. Alternatiewe oplossings is dus baie belangrik om die organisasie aan die gang te hou.

Afwenteling is so ʼn alternatief. Desentralisasie van die SAPD kan in die Wes-Kaap op die proef gestel word om te bewys dat dit ʼn werkbare alternatief is. Federale polisiëring in die Wes-Kaap kan die weg baan vir federale polisiëring oral in Suid Afrika en uiteindelik ook die antwoord wees om verantwoordbaarheid en dienslewering in die SAPD te herstel.

Die nasionale regering behoort nie alleen seggenskap oor die SAPD te hê nie, aangesien regeringsinvloed die SAPD verlam het tot ʼn punt waar dit skaars meer is as ʼn verwysingslys met kontaknommers.

Dit is welbekend dat die Wes-Kaap beter regeer word as die res van die land, weliswaar nie sonder foute nie, maar steeds veel beter.

Die Wes-Kaapse regering se wetstoepassingsbevorderingsprogram (LEAP) het reeds ʼn sigbare impak begin maak. Dink aan die verskil wat meer belastinggeld, wat tans na die nasionale regering gaan, kan maak in die verbetering van plaaslike wetstoepassing, as dit in daardie provinsie bly en effektief bestuur word.

Baie mense dink steeds dat die Wes-Kaapse polisie onder die beheer van die provinsiale regering is. Die SAPD is egter ʼn nasionale liggaam met min of geen invloed van provinsiale of plaaslike regering daarop nie.

Vir jare lank het die Wes-Kaap, vergeleke met ander provinsies, die meeste vakante polisieposte gehad. Die Wes-Kaapse polisie-ombudsman het in 2019 verklaar dat die provinsie se beampte-tot-bevolkingsverhouding ver tekort skiet ten opsigte van die VN se aanbeveling van 1:200, met SA se verhouding van 1:383. In Grassy Parks waar konstabel Pedro gestasioneer was, is die verhouding 1:1 800. Ek kan nie anders as om te voel dat dit ʼn politiese skuif van die nasionale regering is, om pogings deur provinsiale en plaaslike regerings in die Wes-Kaap te destabiliseer nie.

Die realiteit is dat tot 70 mense per dag in Suid-Afrika vermoor word. Tientalle verkragtingsake word daagliks aangemeld, maar bitter min die sake loop op suksesvolle vervolging uit. Moorde op vroue en kinders neem toe.

As die SAPD nie afgewentel word in minstens die Wes Kaap nie, sal polisiëring verder afwater en sal ons toenemend afhanklik raak van gemeenskapsveiligheidsstrukture en provinsiale- en plaaslike regeringswetstoepassingsstrukture, wat nie oor dieselfde oorkoepelende mandaat as die SAPD beskik nie.

Die afwenteling van die Wes-Kaapse polisie kan dien as ʼn model vir ander wetstoepassing- en regsinstansies wat verswak word deur kaderontplooiing en korrupsie.

Die enigste manier om ons van ʼn mislukte nasionale regering te distansieer, is om te desentraliseer en goeie regering te skei van nasionale regering. Dit is, natuurlik, tensy daar ʼn drastiese verandering intree in nasionale regering na die volgende nasionale verkiesing.

Kom ons wees eerlik; die meeste SAPD-lede wil nie deel wees van so ʼn gebroke SAPD nie; hulle wil ʼn bestuursalternatief hê. Die nasionale regering en sy politieke kaders in die SAPD se topbestuur het die SAPD verwoes. Kom ons herstel dit!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yolande ·

Die polisie kan nie by al die sake uit kom nie. My dogter was 7 jaar terug gekaap en ons was hoeveel keer polisie stasie toe gewees hulle was gevang om hulle uit te verken. Die 1ster keer toe ons gaan toe se hulle sy moet n hoed dra om haar hare weg te steek net ingeval hulle haar wil skiet. Ek as ouer was rasend. tot vandag toe wag ons vir die uitverkenning. n jaar terug toe bel die polisie en vra gaan ons nog aan gaan want hulle is vir moord ook toegesluit. kon dit nie verhoed geword het nie as die polisie en prokureurs hulle werk gedoen het nie. want ons saak was kaaping, poging tot moord e aan randing.So ja die polisie het gevaal in my oe. En so ry my kind tot vandag toe in vrees en kry nagmerries en ja sy sal tot vandag kan se hoe die 3 mans gelyk het wat haar lewe verander het. En so wag ons alweer vir niks.
.

Di ·

Nie net die SAPD nie, BAIE ander instansies soos ESKOM, Denel, SAA ens. moet OOK gedesentraliseer word. ALLES waaraan die korrupte, magbehepte spul gevat het, is ‘n VOLSLAE mislukking. Indien ons as burgers van hierdie land nie gaan SORG dat hierdie korrupte spul uitgeskop word uit die regering nie , gaan ons opeindig in helse ellende in die land

annie ·

Die regering sal moet besluit watter waardes SA nastreef. As barbarisme voorrang geniet, sal die huidige status quo voortduur. Watter geloof, indien enige, word in SA aangehang? Niemand is eers meer bang vir straf nie. Ons is soos die Israeliete voor Moses moedeloos alleen die berg op is om raad te vra van die Hemelvader. Destyds het die Israeliete tot inkeer gekom met behulp van 10 riglyne vir geluk, rus en vrede. Wat is ons kans om ten goede te verander voordat die Vader self sambok inlê?

Frank ·

Ander kant van die munt is dat, waar die beslis BAIE POSITIEF sal wees as die Weskaap provinsiale polisie beheer, dit katastrofies in die ander provinsies onder ANC beheer sal wees want dit is wensdenkery dat alreeds uiters swak provinsiale regerings enige polisie verwante verbeterings kan tweegbring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.