Wat beteken Ramaphosa se besoek aan die Britte nou eintlik?

Deur: Werner Human

Werner Human (Foto: Verskaf)

President Ramaphosa se besoek aan die Verenigde Koninkryk is in vele opsigte merkwaardig. Daar is tydens sy besoek geen tekort om hierdie waarneming te staaf nie.

Ramaphosa is die eerste staatshoof wat die Verenigde Koninkryk ontvang sedert Koning Charles III die troon bestyg het. Ramaphosa is ontvang deur meer as 1 000 soldate en ʼn perdewag wat 230 sterk was.

Hy is ook met staande toejuiging ontvang in die glansgalery van die House of Lords, waar hy beide huise van die Britse parlement toegespreek het, en is in die finale deel van sy besoek bederf met ʼn luukse ete in die Buckingham-paleis, waar daar sonder perke lofprysing teenoor hom en Suid-Afrika uitgedeel is.

Ramaphosa het ook skaflik voorgekom, ʼn netjiese toespraak gelewer en kon homself goed handhaaf in die talle gesprekke wat hy met hooggeplaastes gevoer het.

Ná dit alles voel dit egter nog steeds of alles net nie pluis is nie.

Aan die een kant is dít wat die inhoudelike aspek aanbetref soos enige ander staatsbesoek – die hernuwing en versterking van diplomatieke bande wat sterk simboliese gewig dra; die verkenning van nuwe ekonomiese geleenthede in handel en nywerheid; en nuwe ondernemings wat eie is aan ʼn staatsbesoek.

Dit is egter met die toesprake van president Ramaphosa en die speaker van die laerhuis in die Britse parlement, Sir Lindsay Hoyle, wat die prentjie meer duidelik geword het.

Van Hoyle se kant af beskryf hy ʼn beeld van Suid-Afrika wat nie werklik is nie.

Hoyle beskryf Suid-Afrika as ʼn vry en demokratiese land met ʼn prysenswaardige parlementêre sisteem, en die Suid-Afrikaanse Grondwet wat menswaardigheid vooropstel, die oppergesag van die reg bevorder, en ook ʼn veelparty kiesstelsel daarstel wat verantwoordbaarheid, openheid en optrede in krisisse verseker.

Nie een van die punte weerspieël die ware stand van sake nie, maar tog word dit alom aanvaar as die stand van die land.

Op sy beurt stel Ramaphosa egter ʼn lys van eise aan die Britte – meer getrou aan die retoriek en ideologiese vertrekpunte van die Suid-Afrikaanse regering, en ook die Afrika Unie.

Hy stel onder andere dat die Covid-19-pandemie die rykdom, mag, middele tot gesondheidsorg en tegnologie tussen nasies ontbloot het, en dat dit dringend aangespreek moet word. Verder, dat klimaatsverandering aangebring is deur ontwikkelde lande en daarvoor moet daar vergoeding oorbetaal word om die gevolge van klimaatsverandering aan te spreek.

Dit moet die vorm van toelae van die internasionale gemeenskap, toegewende lenings en investering aanneem.

Die trant van Ramaphosa se toespraak, in meer direkte terme, is dat die probleme in Afrika op ʼn globale vlak benader moet word en die ontwikkelde lande in die weste die probleme van Suid-Afrika en die res van die kontinent deur befondsing moet aanspreek.

Daar is nie ʼn woord gerep oor die pogings van die Afrika Unie, waarvan Ramaphosa tot onlangs president was, om die krisisse van die kontinent aan te spreek nie. Daar is ook nie genoem van Suid-Afrikaanse pogings om die veelvoudige krisispunte aan te spreek nie. Op die oog af word die ellende van Afrika in die toespraak voor die deur van die Verenigde Koninkryke en die res van die Weste neergelê.

Die probleem is egter dat buitelandse hulp weinig enige probleme van Afrika opgelos het. Dit is trouens bewese dat buitelandse hulp bykans geen verligting aan Afrika-lande bied nie.

Die voormalige president van die Wêreldbank, James Wolfensohn, het die opmerking gemaak dat buitelandse hulp aan Afrika ondoeltreffend is vanweë “korrupsie, ontoereikende regeringsbeleide en swak regering”.

Op ʼn staatlike en politiese vlak het die besoek van Ramaphosa aan die Verenigde Koninkryk wel diplomatieke bande versterk.

Die waarde daarvan kan alleen ontsluit word indien die Suid-Afrikaanse regering doeltreffend regeer, grootliks korrupsievry is en sinvolle regeringsbeleide volg.

Daardie voorvereistes ontbreek volkome in die huidige stand van die staat.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks net na 20:00 Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tienie ·

Maroela, kan julle asb die vorige berig oor CR net in Engels oorsit en vir die ou spul in die VK stuur sodat hulle kan sien dat net “hulle” dink dat CR “grand” is.

Sy eie mense wil hom afdank.

Ek kan nie glo dat een mens soveel van homself kan dink nie.

“Just another brick in the wall”.

Heinrich ·

Dis maar net die groot hoeveelheid politieke korrektheid en ‘white-guilt’ wat hulle daai deuntjie laat sing…

annie ·

Hierdie show gaan eintlik oor Charles 3 se bevestiging as die eintlike leier van Afrika soos Brittanje steeds glo. So word sy heerskappy oor al SA-minerale, nou verwerk wat in sy kroon en elders skitter, bevestig en vertoon. Cyril was bloot die onderdaan wat dit net weer mog kom besigtig en besef wie in beheer is. Niks van die besoek gaan oor SA of Cyril nie. Brittanje is steed maar net Brittanje vol van selfverheerliking, pomp en ceremony.

Antie Sarie ·

Britanje glo so want hulle weet so. Hulle het hul houvas verloor in 1961 en terug gekry in 1966. En met elke staats hoof sedert 1966 was dit bevestig.

Hannelie ·

Ag CR soek seker ook ‘n kroon om op sy kop te sit…..want hier in Suid-Afrika gaan hy dit beslis nie kry nie.

Rudolf ·

Wel, wel, wel. Daai koets waarin hy gery het, het nou in die spreekwoordelike pampoen verander.

gatgogga ·

Ek wonder of Cyril ooit toestemming by Julius gekry het om saam met Charles te gaan eet?

Jax ·

Net mooi niks. Hy kry n belastingbetaler-reis na Engeland en ontmoet die Koning. Hy bedel waarskynlik vir geld vir die arme mense in SA maar sit stilweg en dink aan die volgende on-“bekwame” familie-lid wat hy kan aanstel vir meer wanbesteding. Die Britte, asook baie ander dele van “oorsee”, is uiters on-ingelig oor al die kulture en doen-en-late van SA asook Afrika as vasteland. Almal voel so goed en word oral geprys vir hulle gul-hartigheid aan die 3de wêreld lande. Nee wat, ek en jy sal niks hiervan Sien of by baat nie – ons betaal maar net getrou ons belasting…..

Hannelie ·

Hy moet sommer nou ‘n pos vra vir koning Charles, hy is mos nou so hand om die blaas met die koninklikes. Deurwag of enige iets, solank hy net daar bly.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Lees gerus die 2022 gepubliseerde werrk vanCaroline Elkins getiteld: “Legacy of Violence – A History of the British Empire”.

Ek het die verrigting aanlyn gevolg. Sir Lindsay Hoyle is óf oningelig oor die haglike verval van Suid-Afrika sedert 1994, óf hy is vals, óf hy speel politiek in die belang van Brittanje.

Ek het my geskaam vir ons staatspresident met sy arrogante “entitlement”-houding ter finansiële uitbuiting van die Britte en Westerse se imperialisties/koloniale skuldgevoelens.

Treurwilger ·

Vrydenker, die Britte en Westerse regerings oor die algemeen is ten volle verantwoordelik vir die bakhand-mentaliteit van Afrika.
Die bodemlose put word jaar na jaar na jaar gevoed, so wat anders kan verwag word?
Sir Lindsay Hoyle is net een voorbeeld van die valsheid wanneer Westerse regeerders met Afrika-leiers te doen het.
Die Weste is dus na my mening indirek te blameer vir Afrika se onvermoë om vooruit te gaan.
(Presies wat Malema en kie. graag verkondig. )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.