Dankbaarheid van die hart

Deur Rosa Duvenhage

(Foto: Laurika van der Linde / Launique Photography)

Dit is die maand Oktober!

Die akkerboom is groen;

Die bloekoms langs die paaie is almal nuutgeboen;

En orals in die tuin rond ruik jy sering en roos,

Jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos.

− C. Louis Leipoldt

Vanoggend verstaan ek hoekom C. Louis Leipoldt gedig het oor Oktobermaand. Die oggend is helder en die lug is blou en sonder wolke. Iewers blom ʼn plantjie en ʼn hemelse geur hang in die lug.

Terwyl ek my juffrou-sak uit die motor laai, soek my oë oor die parkeerarea vir ʼn gewillige paar hande om my vrag te help dra.

Dis nog vroeg en die skoolterrein is stil en verlate. Ek loer by die trappe af en sien hoe ʼn graad 2-seuntjie, met ʼn wit koppie en twee potblou ogies, se mamma hom deur die venster groet terwyl sy wegry.

Hy lyk glad nie haastig om die skoolterrein te betree nie. Hy gooi sy tas oor sy skouer en stap stadig nader. Net voor hy die trappe begin klim kom daar ʼn groot bruin rondloperhond, swaaistert op die sypaadjie aangedraf. Die hond draf snuif-snuif nader en verwelkom die handjie wat na hom uitgesteek word.

Die twee lyk soos ou vriende en die hond se oë gaan eintlik toe van lekkerkry terwyl die seuntjie hom vryf. Ek is te vêr om die gesprek te hoor, maar vir ʼn paar minute het ek die voorreg om met die oggendson op my gesig en die soet geur van bloeisels in my neus, te kyk na die toneeltjie wat voor my afspeel.

Net toe ek wil omdraai, sien ek hoe die seuntjie die tas van sy skouer laat afgly, sy kosblik uithaal en vir die bruin hond een van sy pouse-broodjies voer…

Johannes de Villiers het ʼn boek geskryf met die naam, Blydskap. Hy vertel dat ʼn non in ʼn klooster eendag vir hom gesê het dat ʼn mens twee soorte blydskap kry, die blydskap van die maag en die blydskap van die hart.

Die blydskap van die maag is dit wat jy beleef as jy genoeg het om te eet, gesond is en met mense omring is wat vir jou lief is.

Die blydskap van die hart is egter nie altyd lekker of gemaklik nie. Dit is om in jou lewe tuis te voel en te weet jou bestaan hier op aarde het betekenis. Om blydskap van die hart te leer ken, moet jy leer om die pyn van die wêreld sowel as die vreugde in jou hart toe te laat.

Daar is vier wenke hoe jy hierdie blydskap van die hart kan raaksien en kan oefen.

Raak soms stil.

Wees dankbaar, selfs in moeilike tye.

Leef eenvoudig en leer omgee vir iets meer as net jouself.

Die pyn van die wêreld is groot, swaar en diep. Dis oral. ʼn Mens hoor dit op verskeie platforms, sien dit op straathoeke en by verkeersligte, voel dit aan jou eie bas en word daarmee gekonfronteer in alle aspekte van die lewe.

Dit voel soms soos ʼn donker wolk wat op ʼn koue dag voor die son inskuif en ʼn reuse-skaduwee oor die bietjie vreugde in jou hart gooi.

Die teengif vir hierdie las van swaarkry is dankbaarheid van die hart. Jou oë moet soek na die mooi en jou hart moet kies om ʼn groot bohaai te maak van die klein dingetjies wat reg loop.

ʼn Mens kan honderd boeke lees oor dankbaarheid en duisend seminare bywoon oor positiewe denke, maar niks raak ʼn mens se hart soos liefde in aksie nie.

Die volgende oggend toe die seuntjie se ma hom aflaai het hy ʼn sakkie in sy hand met hondekos, net ingeval sy vriend weer opdaag.

Hierdie seuntjie het kennis gemaak met dankbaarheid van die hart. Die gevoel wanneer jy iets gee vir iemand wat niks vir jou kan terug doen nie. Die gevoel dat jy nodig is, dat jou lewe betekenis het en dat jy ʼn verskil maak.

Mag ons elke dag iewers herinner word dat daar meer is in die lewe as net die dankbaarheid van die maag.

Mag ons gereeld stilstaan, dankbaar wees vir Oktobermaande se blou lug en katjiepierings en die pragtige stories wat rondom ons afspeel.

Mag ons ʼn groot bohaai maak van die klein dingetjies in die lewe wat reg verloop en mag ons weer leer liefhê soos kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie Gildenhuys ·

Meesleurende prosa, Rosa! Jy is ‘n baie talentvolle skrywer en vir seker ‘n groot aanwins vir die Onderwysberoep! Hou aan om so ‘n groot bydrae te lewer en jou menswees te deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.