Die kinders op die bus

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

My hande hou die stuurwiel styf vas, ek haal diep asem en dwing myself om rustig te raak. Pretoria-verkeer is nie vir sissies nie.

Deesdae probeer ek dié gedwonge tyd in die kar goed bestee: ek dink aan mense met wie dit nie so goed gaan nie, stuur dan vir dié ʼn boodskap per SMS en daarna sommer ook ʼn dankie-gebed dat ék nie in die situasie is nie; vriende met aaklige soorte werk, pa’s met kanker, jong getroudes wat deur ʼn egskeiding gaan, ouers wat kinders moet begrawe – die lys is lank.

My gemoed raak swaar en die slakkepas van die karre kom tot ʼn stilstand. Ek maak my ruit oop en haal weer diep asem. As ek fyn luister, kan ek voëls hoor kwetter.

Ek is amper by die verkeerslig en ek weet, sodra ek verby Ou Johannesburgweg is, kan ek weer gas gee. Nog net vyf karre voor my.

Ek sien ʼn bus in die oorkantste baan al nader beweeg, en soos wat die bus stadig maar seker die karre verbysteek, is daar ʼn groep kinders in die bus, sommer so ʼn mengsel van hulle, wat met alle mag vir passasiers in die karre langsaan waai. Die kinders waai en steek tong uit, maar kry geen reaksie nie. ʼn Tannie met ʼn groot donkerbril staar voor haar in die niks, en sien nie die konsert langs haar afspeel nie. Die passasier in die kar agter haar is so besig op sy foon, hy sien of hoor ook niks nie. Ek kyk rond om te sien of iemand in my baan die kinders sien, maar niemand wys emosie nie.

Dit tref my soos ʼn vuishou in die maag. Nóú is my kans. Nóú kan ek iets doen. Met my lys van sukkelende vriende nog swaar op my gedagtes, steek ek my arms uit my ruit en waai vir die eerste span. Ek swaai en waai totdat die kinders my sien – hulle reaksie is dadelik, en só bevredigend. Dit is asof hulle nie hulle geluk kan glo nie, want hulle waai ook asof geen mens nog ooit vir hulle gewaai het nie. Kyk, as daar ʼn Olimpiese sport vir waai was, het ons die medalje huis toe gebring.

Ons het laf gelyk, ek is seker, maar soos ek verder ry, het my gemoed al ligter geraak en ek kon my dag begin. Dit is snaaks hoe klein dingetjies mens se hart kan raak.

Ek is seker daar is die een of ander les wat mens kan leer uit dié verhaal – dalk iets oor hoe mens die reis moet geniet, en jou nie net moet bekommer oor die eindbestemming nie. Of dat mens nog jonk van hart en gees moet wees, ek weet nie.

Dalk is dit net ʼn verhaal oor kinders op ʼn bus …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Nico K ·

Goeie stuk Adele. Ons moet meer die plesier rondom ons raak sien. Om oor al die probleme te tob gaan nie help om dit op te los nie.

A ·

Net bitter jammer dat jy op jou selfoon is terwyl jy bestuur. Dit is wat die helfte van die verkeersprobleme veroorsaak. Die ander helfte is dat mense geen respek meer vir mekaar het nie.

Sakkie ·

Die stukkie sit nou ‘n glimlag op my gesig. Almal om my wonder hoekom ou grombeer skielik so glimlag.

Yolanda ·

Dis so waar…… dis die klein en simpel dingetjies in die lewe wat tel en n glimlaggie op jou gesig kan sit….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.