Die pantoffel-mense

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ek staan vanoggend by ʼn betaalpunt om my parkeerkaartjie te betaal toe ʼn dame verby my stap op pad na die hysbak. Sy dra ʼn blou oorpakbroek met silwer reflektiewe bande wat aan die kante vasgewerk is, ʼn ligte T-hemp en pastelpienk insteekpantoffels.

Ek het vir ʼn oomblik verbyster na haar uitrusting gestaar en onwillekeurig gewonder of haar ma haar dan nie die verskil tussen “dagklere” en nagklere geleer het nie.

Ek onthou toe skielik ʼn kennisgewing of drie wat ek ook al in winkels en restaurante opgemerk het. Daar word duidelik gestel dat geen persone met japonne en/ of pantoffels op die perseel toegelaat sal word nie.

Ek vind dit eintlik ewe belaglik dat jy ʼn kennisgewing moet plaas omdat iemand nie self kan besef dat ʼn winkelsentrum nie die plek is vir klere wat, volgens my, eintlik uitsluitlik vir die huis bedoel is nie.

Selfs my kinders het al hierdie fenomeen opgemerk en is ewe verbyster en het sommer hardop gevra waarom mense só sal aantrek as hulle die huis verlaat. Ek kon nie antwoord nie. In my huishouding gaan ons nie met ons japonne en pantoffels uit vir ete of winkel toe nie.

Persoonlik hou ek daarvan om mooi aan te trek wanneer ek gaan uiteet of werk toe gaan. Ek verkies meer formele korporatiewe drag vir die kantoor en meer ontspanne, maar steeds stylvolle uitrustings vir ʼn kuier of selfs wanneer ek inkopies doen. Tog is ek ook mal oor my uitgewaste T-hemp en kaalvoete… tuis. By die huis verkies ek om geen grimering te dra nie en is my hare deurmekaar. Maar, sodra ek by die voordeur uitgaan, lyk ek skaflik, selfs al is dit net om vinnig ʼn brood te gaan koop.

“Skaflik” beteken werklik maar net ʼn bietjie poeier op die gesig, maar dit beteken nie klere waarin ek “in die tuin werk” (ek werk nie in die tuin nie) of die huis regpak nie; dit beteken skoon en netjies.

Ek voel dit het te doen met respek; respek vir jouself en respek vir ander. Hoe jy lyk, dus hoe jy aantrek en jouself versorg, is net so belangrik soos hoe jy jouself gedra, maak nie saak wat ons vir onsself oor die onderwerp wil wysmaak nie. Jy skep voortdurend ʼn beeld van jouself aan ander, of jy nou wil of nie. Alles is bitter organies sonder dat jy probeer en sonder dat mense doelbewus op jou en jou uitrusting fokus.

Ek glo ook jou kleredrag wys vir mense hoe jy oor hulle voel en die vlak van respek wat jy vir hulle het. Jy sal tog nie in jou tuinpakkie by jou beste vriendin se troue of in jou strandklere by ʼn werksonderhoud opdaag nie.

Die hele dra-jou-pantoffels-en-japon-winkel-toe-beweging verstom my. Ek voel eintlik skaam en baie ongemaklik wanneer ek in so ʼn persoon se onmiddellike omgewing is. Dit is nou nie op dieselfde vlak as onderklere nie, maar ek voel dadelik of ek daardie persoon se privaatheid binnedring en ek weet doodeerlik nie regtig waar ek moet kyk nie. Dít is slaapkamerdinge; ʼn mate van intimiteit wat binne die huis en by die gesin behoort waar ʼn dieper vlak van gemaklikheid (en aanvaarding) aan die orde van die dag is. Jou binnekamer, wil ek amper sê, is ʼn plek waar ek nie hoort nie.

Dit is eintlik so maklik meetbaar: as ek nie saam met jou woon nie, wil ek dit nie sien nie en ek sal dit waardeer as jy my liefs nie daaraan blootstel nie. Ek glo hierdie basiese beginsel is iets wat almal maar in ag kan neem. Niemand wil op hierdie ongewensde intieme vlak met ʼn wildvreemdeling onder dwang verkeer nie.

Moet ons dit miskien toeskryf aan kulturele verskille of persepsie? Ons het tog nie almal dieselfde blik op dieselfde dinge nie. In my huis is die reël byvoorbeeld dat dames in nagklere ʼn japon sal dra wanneer hulle buite die privaatheid van hul slaapkamers in die huis rondbeweeg, terwyl nie alle huishoudings só ʼn reël het nie.

Of miskien is dit tog ʼn respek-ding… waar ons begin kyk na gemaklikheid of ongemak wat sekere optrede en klere veroorsaak. Of gaan dit dalk oor vryheid van uitdrukking? Ons kan seker ook vra oor die talle “daguitrustings” wat betreklik meer as ʼn japon wys!

Ek het nie die antwoorde nie, en ek weet ook nie of ʼn japon en pantoffels noodwendig die onderwerp van swaar filosofieë moet wees nie. Alle afdelingswinkels of spesialiteitswinkels het dit ieder geval reeds lankal vir ons uitgeklaar: nagklere hang nie by dagklere nie. Daar is nie grense wat dit oorskry en identifikasies wat dit binne die konteks van die publiek aanvaarbaar maak nie. Ek berus my daarby.

Die winkel en die restaurant is doodeenvoudig nie die plek nie. Dra eerder plakkies en ʼn kortbroek of ʼn rok. As jy koud kry, trek ʼn baadjie aan, maar los asseblief die pantoffels en die japonne by die huis!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie keer sukkel mense met jig of seer voete na ‘n operasie. Pantoffels is dan gemaklik. Siek mense moet soms opstaan en winkel toe gaan.

Theresa ·

Toe ek swanger was het my voete so geswel, pantoffels is al wat ek kon dra, so ek het. Werk toe, winkels toe, mense kan maar staar, maar seer voete is nie n grap nie

Daleen ·

Ek dink almal weet van wie die skrywer praat. Dis daardie mense wat se pantoffels so swaar is dat hulle hulle voete MOET sleep…. Ek stem 100 % saam haar mens kan duidelik sien of iemand net slonsig is en te lui om ordentlik aan te trek.

George ·

Ek het al meer disrespek ontvang van mense in suits en two tone as iemand in pantoffels. Om respek te koppel met kleredrag is wel belaglik.

George ·

“mind your own business” kom gou gou by my op as mense so begine kla.

annie ·

Meerwaardigheid is ‘n lelike persoonlikheidstrek. Wat maak dit tog saak as die persoon darem nie halfpad nakend is nie. Pantoffels met opkrultone was in antieke tye deur hoogwaardigheidsbekleërs in Persië gedra. Toe was dit hoogmode. Ontspan. Môre het jy self ‘n seer en geswelde groottoon. Loop dan maar kaalvoet. Iemand sal sekerlik ook haar neus vir jou optrek.

Janine ·

Ag nee……die kommentaar! Is julle ernstig? NIKS regverdig dat jy in SLAAPKLERE winkel toe gaan nie. Genade!

madels ·

Ek is jammer, maar gaan kyk hoe gaan dit al in die VSA juis omdat dit toegelaat word dat almal kan aantrek wat hulle wil. Nagklere en pantoffels hoort in jou slaapkamer. Hoe meer die mens hul selfrespek verloor, hoe erger word dit. As jy seer voete het, kry vir jou sagte gemaklike skoene. Oral kan ‘n mens goedkoop skoene koop. Sagte tekkies, sagte vals leer skoene ens. Pantoffels in publieke areas is regtig swak smaak.

Susan ·

Ek stem saam met die artikel, jy sal my nooit by n winkel sonder grimering of parfuum kry nie

Pieterbusa ·

Ek stem saam. Dit gaan oor self respek. En ja Daleen….. Daai voete wat so sleeeeeeppp… Nee genade.

Ronél ·

By ENGEN garage in BOSHOEK, Noordwes Provinsie, is ‘n kennisgewing aangebring dat geen persoon wat nagklere dra, in die 24/7-winkel toegelaat sal word nie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.