Droogte is ’n verskriklike, hartverskeurende ding

(Foto: Beginet se Facebook-blad.)

Deur ds. Deon van der Berg

“Die droogte is ’n helse ding” was die woorde van Piet Rosekrans wat boer op Gaan Kyk in die Van Wyksvlei-omgewing. Ja, dis inderdaad ’n helse, hartverskeurende ding.

Jou trane raak op van te veel huil saam met en oor die boere in die droogtegeteisterde Karoo en veral Boesmanland. ’n Agt jaar droogte het almal aan die einde gebring van planne maak, die einde van ’n finansiële surplus en ’n geduldige oor van die bankbestuurder of die plaaslike Korporasie. Baie veeprodusente is aan die einde van enige hoop. Die ergste droogte in 118 jaar wurg elke greintjie hoop uit almal. Boorgate het opgedroog, ontsettend baie vee het gevrek. Sommige boere kan niks meer verkoop om hul werkers te betaal of om bietjie voer aan te koop nie. Ja, daar is boere wat tot al hul huismeubels verkoop het om die werkers te betaal.

Agt jaar lank stry boere, hul gesinne, hul werkers en die plattelandse dorpies deur hierdie droogte. Niemand kon begroot vir so ’n droogte nie. Dis hartseer om te sien dat die breekpunt en einde vir sommige al gekom het, maak nie saak hoe baie dit nou reën nie. Baie veeprodusente se skaapkudde is deur die droogte so uitgedun dat hulle nie langer kommersieel kan boer nie al is die damme vol water en die veld vol weiding.

Baie voel dat hulle as veeprodusente, wat met inspanning, sweet en trane sorg dat daar ’n lekker sappige skaaptjoppie op sommige mense se borde is om te geniet, vergeet is. Hulle is vergeet deur ons regering wat hulle nie steur aan aansoeke om droogtehulp nie. Hulle is vergeet deur baie families en vriende wat lank gelede hul drempels deurgetrap het en elke keer met ’n slagding van die plaas af weggery het toe dit goed gegaan het. Hulle voel selfs dat God hulle al vergeet het en nie meer na hul gebede wil luister nie.

Tog sien ek oral steeds mense wat ontsettend naby aan die Here leef, want dit is wie hulle is. Hul identiteit is in Christus gevestig en hulle leef elke dag in absolute afhanklikheid van God. Maar hulle het seer, bitter seer. ’n Tannie sê vir my: “In die Boesmanland kan jy nie oorleef sonder om elke dag in absolute afhanklikheid van die Here te leef nie.”

En dan word sommige van die veeprodusente nog lelik ingeloop juis omdat hulle desperaat is om hul kuddes te behou. Die mees onwerklike, verstommendste verhaal hoor ek in Van Wyksvlei van twee jong boere wat 1 250 ooie – waarvan sommige dragtig was – na ’n sogenaamde “Christen-boer” in Wesselsbron skuif, want hy het gras op die veld en is bereid om hulle te help. Hulle het as verpletterde jongmanne vol bitterheid, woede en haat ’n paar maande later net 212 ooie terug afgelaai op hul droë plaas in Van Wyksvlei.

Verder hoor jy hoe slegs veeprodusente wat nog die geld het om aan ’n landbouorganisasie te behoort, kwalifiseer vir droogtehulpskenkings wat deur sekere kanale kom. Dit alleen veroorsaak onenigheid in ’n gemeenskap, want almal trek swaar en almal se diere is honger.

Ons sit inderdaad met ’n kolossale krisis. Hierdie droogteramp kan nie met ’n paar millimeter of self ’n paar honderd millimeter reën opgelos word nie. Die krisis het nie oornag gekom nie en kan vir seker nie oornag verdwyn nie. Ons is saam met boere ontsettend dankbaar vir reën wat aan die einde van 2020 en die begin van 2021 mildelik in sekere gebiede begin val het. Plaasdamme en boorgate het weer water. Maar soos ek al baie gehoor het, “Dit reën nie gras nie en nog minder kontant.”

En as jy die boeregemeenskappe besoek ná die reën begin val het, is jy bly saam met dié wat bly is oor goeie reën, gras en dubbeltjies op hul veld. Maar jy huil jou hart uit saam met hulle wat nog net ’n paar millimeter reën gekry het, wat nog moet voer om die ooie deur te trek. Jy het nie eenvoudige antwoorde as hulle begin vra waarom God hulle oorgeslaan het nie. Maar een ding weet ek: Ons Almagtige Here kan gras met 4 millimeter reën laat groei asof daar 40 millimeter op die grond geval het.

Maar al reën dit nou hoe baie en staan die boesmangras vol in die saad en is die wêreld geel van die dubbeltjieblomme, kan ’n pa steeds nie meer sy drie kinders se skoolgeld betaal nie. Hulle is uitgehaal en moet nou tuisonderrig kry. Hy moet ook sy pa wat versorging nodig het uit die Douglas-aftreeoord haal, want hy het nie meer geld of enige toegang tot krediet om daar te betaal nie. ’n Derdejaaronderwysstudent wat al haar vakke met lof slaag, moet haar studies staak, want “Pa kan nie meer nie, my kind”.

Hulle is nie die uitsondering nie. Dis die pyn van honderde ouers wat graag vir hul kinders die beste onderrig wil gee, maar wat dit met die grootste liefde en beste wil in die wêreld nie kán doen nie.

Ek besef dat ’n paar bale voer en ’n honderd en twintig sakkies kuilvoer net tydelik help. Maar soos ek baie gehoor het: “Hierdie voer gee ons hoop. Dit wys vir ons dat iemand ons raaksien.”

En soos Oom Pieter Stadler van Soutrivier in die Boesmanland vir sy vrou sê: “Ma, die Here se hulp kom deesdae padlangs.” En as sy hom vermaan, dan sê hy: “Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ons bid en vertrou die Here vir hulp. Hy stuur lorries padlangs met voer om vir ons te help.”

Ds. Deon van der Berg van Beginet. (Foto: Beginet se Facebook-blad.)

Dis vir die Beginet-span wat hierby betrokke is, ’n voorreg om die posbode te wees wat daardie voer padlangs gaan aflewer. Maar een ding besef ek terdeë… Ons kon nog nie genoeg afgelewer het nie. Daar is ontsettend baie aflewerwerk om te doen en dit is nie net voer nie. Dit is heel eerste liefde, hulp, geestelike en emosionele ondersteuning vir die families op die plase wat ook hul werkers insluit. Daar sal baie skool- en koshuisgeld afgelewer moet word by die skole sodat die kinders hul skoolopleiding kan voltooi. Universiteitsgeld? Ek is te bang om daaraan te dink, maar ons moet saam met die Here vertrou dat ons ook daar posbode kan wees. Om nie eens te praat van die uitdaging om veeprodusente te help om hul skaapkuddes aan te vul sodat hulle weer kommersieel kan boer.

Die boere se planne om te sorg is op! Klaar! Die meeste leef van dag tot dag. Daar is genoeg by die regering gepleit om hulp. Al wat hulle oor het, is die Here en ons.

  • Lesers wat Beginet se uitreike na boere wil ondersteun, kan ds. Deon van der Berg skakel by 083 448 3791 of besoek Beginet se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elmarie ·

As jy het, moet jy gee… Komaan laat ons almal probeer help. Elke ding tel. Ek hoop baie mense lees hierdie

Cheryl ·

Donasie gedoen. Help asb mense. Kom ons wys wat gedoen kan word as ons saamstaan. ELKE bydrae maak ‘n verskil.

Karel Kobus Kruger ·

Aan alle boere, die volgende:
Oorweeg dit om oornag verblyf op jou plaas te begin. Dit hoef nie luukse verblyf te wees nie. Ek praat nou namens myself, maar ek bly maklik in n opgeknapte werkershuisie sonder elektrisiteit. Om die waarheid te sê, elektrisiteit bederf net die atmosfeer. Selfs n kampplek sonder lopende water pas my ook perfek. Net n gelyk kaal kol in die veld met n sirkel klippe op die grond vir vuurmaak. Ek is seker daarvan daar is ander mense wat ook soos ek dink. Jy kan natuurlik ontbyt ook aanbied, of selfs hout en vleis ook verkoop. Dit spaar my die moeite om eers in die naaste dorp te stop vir proviand. En om n sak hout agterop n motorfiets vas te maak lol maar. O ja, en die belangrikste is om dit te adverteer.

Vrijburger ·

Nou is nie die tyd vir raadgee nie, nou is die tyd vir hulp gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.