Kieries is storievertellers

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Kieries kan uiteraard nie vertel nie, maar ʼn kierie kan iemand die storie laat vertel. Eintlik laat kieries die eienaar die vertelwerk doen en dit verskaf genot aan die verteller en die luisteraar. Kieries maak stories in ʼn mens se binneste wakker. Ek praat nie van winkelkieries, wat hoe mooi hulle ook al mag wees, nie eintlik stories laat vertel nie.

As kind kan ek nie onthou dat my nabymense kieries gehad het nie. My ouma wel, maar ek was nog te klein om ʼn kierie na waarde te skat. Dis eers jare later en vandag nog, dat ek agterkom dat kieries stories vertel. Wie se kierie dit is of was. Waar die kierie vandaan kom en hoe die kierie gemaak is.

As kind het ek in die Laeveld op Kaapmuiden met amaSwati om ons grootgeword. ʼn Tradisionele umSwati was onafskeidbaar van ʼn veelkleurige lendedoek, knopkierie en sy versierde dikwielfiets. Ek het altyd ʼn kierie begeer maar ʼn umSwati se kierie was nie ʼn weggeeding nie.

Elke kierie was ʼn meesterstuk wat uit hardehout gekap en gekerf is. Daar was nie draaibanke en skuurmasjiene nie. Die fyn afwerking is met die snykante van gebreekte glasbottels gedoen en verder was dit byltjie en mes. Hulle het twee soorte knopkieries gemaak wat eintlik ʼn soort handwapen was. Vir selfverdediging, maar wel ook om ʼn hou in te kry as daar baklei of geveg is.

Die rondekopkierie, inDughu, se knop was gewoonlik gemiddeld tennisbalgrootte, maar dit was die gevaarlike gevegkierie, die umZacha wat my verbeelding aangegryp het. Die knop was deel van die dikker stam en die res van die kierie die uitgroeiende tak. Die kop is só gekerf dat drie skerp riwwe rondom die kop gevorm is met die middelste een ʼn goeie 20 mm hoog. Waar daardie kierie getref het, het die bloed geloop.

Hulle het ook ʼn kort rondekop kierie vir jagdoeleindes gemaak. Dit was ʼn gooikierie wat op vernuftige wyse gegooi is en die einde van ʼn haas, dassie of selfs ʼn tarentaal of patrys beteken het. Daarna was dit reguit pot toe.

Wat hierdie kieries destyds vir my so besonders gemaak het, was die stories wat die kieries vertel het want elke kierie was ʼn stukkie van ʼn eeueoue kultuurskat van die amaSwati en die kieries het eintlik die stories van mense vertel. As seuntjie was dit ʼn lekkerte waarna ek kon luister.

As ek in ʼn huis instap en ek sien ʼn versameling kieries, wonder ek altyd watse stories die kieries vertel en ek is altyd daarop ingestel om ʼn kierie uit te lig en dan te vra of dié besondere kierie ʼn storie het om te vertel. Die versamelaar vertel dan die kierie se storie: Waar hy die kierie gekry het, wie die kierie gemaak het en hoe dit gebeur het dat hy die kierie sy eie kon maak. Hou die eienaar dop. Hy gryp nie een nie. Nee, hy haal hom versigtig uit. Kyk hoe kyk hy na die kierie en hoe hy hom liefderyk streel. Hy bulder nie die storie uit nie. Hy vertel rustig, met stil tussenposes wat boekdele spreek. Ja en soms kan dit ook ’n vrolike vertelling wees.

Of dit vir almal so is weet ek nie, maar vir my is dit ʼn besonderse ervaring om na iemand se kierieversameling te kyk. Net so is dit ook met ʼn man se sweep- en karwatsversameling. Ja, met ʼn man se pype ook. Ek staan hulle só en kyk en elkeen van hulle is ʼn storie. Hulle vertel net woordeloos en wag vir iemand wat aan hulle woorde klank kan heg. En as iemand dan die storie begin vertel, is dit met nostalgie-deurdrenkte woorde. Dis mos of ʼn stuk mens aan sy of haar kierie met die jare afvryf en daardie mensgeur bly kleef aan die kierie.

So ʼn veertig jaar terug was daar ʼn dierbare ou oom en tante in my plaaswyk. Ek het hulle eers maandeliks besoek en later, namate die oom sieker en swakker geword het, meer dikwels. Sy skielike dood was te wagte en toe ons sy liewe vrou gaan troos het, was woorde min. “Die Here het ons 63 jaar vir mekaar gegee en nou’s hy weg, maar my ou man wag vir my.” Toe ons wou ry, het sy gesê ek moet net ʼn bietjie wag, Sy’s die huis in en kom toe terug met ʼn besonderse kierie wat ek so baie keer bewonder het. “My ou man het, net voordat hy weg is, vir my gesê ek moet onthou om dié kierie vir jou te gee.” Ek luister vandag nog as daardie kierie begin praat en ek weer begin onthou.

Ek en ʼn vriend sit eendag en raak aan die gesels oor kieries, toe hy opstaan en met ʼn kierie terugkeer wat hy vir my in die hande gee. Dit was ʼn kierie met ʼn haak aan die vatkant, op die oog af nie ʼn watwonderse kierie nie maar die vriend se oë het gevonkel terwyl ek strelend die kierie bekyk het. Ek het opgemerk dat die kierie so glad en fluweelsag afgewerk was. “Ja,” seg hy, “dit was eers my oupa en toe my pa se kierie. Met daai haak is duisende skaap uitgevang. Die glans en die gladheid is die merinowololie wat oor dekades heen op daai kierie afgevryf het. Vir ʼn wyle was gesproke woorde oorbodig.

En nou op ligter noot en ampertjies tot my skande: Laat een van my besonderse kieries nou deur my sy storie vertel. My swaer het my in Engeland na ʼn klipkerk wat al amper ʼn duisend jaar staan, waar die oudste Yewboom in Engeland steeds groei, geneem. Op ʼn bord langs die boom staan dit geskryf dat die boom na beraming 2 000 jaar oud is. Groot dele van die 3 meter dikke hoofstam is al dood en verweer, maar nuwe groei wat oral deurbars, sorg vir ʼn lowerryke blarekroon. Té mooi vir woorde!

Uit een van die stamme het daar ʼn sytak gegroei wat ʼn kieriesnyer se droom was. “Jy kan my maar kry. Maak ʼn plan,” het hy vir my gesê en toe maak ek ʼn plan – onwettig, onverantwoordelik en waaghalsig het ek die tak gaan uithaal: Per ongeluk gestruikel, toe die tak beetgekry om my val te keer en gelukkig het die tak halfpad afgeskeur. Ek en my swaer het die tak uit sy ellende verlos en ons is huis toe met my kosbare vonds.

By die huis het ek die kierie op lengte gesaag en toe sommer so nat-nat rowwerig afgewerk, want ʼn paar dae later moes die kierie saam met my terug Suid-Afrika toe. ʼn Glad afgewerkte kierie sou maklik op die lughawe deurgewerk word, maar hierdie een was eintlik nog net ʼn ruwe stuk hout. My plan was egter fyn uitgewerk.

Op pad na die inweegtoonbank het ek deurgaans swaar op die kierie geleun, veral toe ek die sware tasse op die weegskaal moes kry. Toe ek beteuterd my kierie na die vriendelike dametjie uithou, het sy voordat ek nog ʼn verduideliking kon opdis, die eerste knoop deurgehaak: “You may keep your stick. I suppose you can’t get along without it.” Ek het haar begrip waardeer en my kop saamstemmend geknik.

Verder op pad na die vertreksaal, het ek ewe flink sonder die kierie se hulp oor die weg gekom tot naby die laaste handbagasietonnels waar ek betyds weer swaar op die kierie begin leun het. Tot my stomme verbasing het die kierie by al wat ʼn sensor of kamera was, verbygeglip.

Die laaste hekkie het nog voorgelê. Dis nou daar waar jy jou paspoort en opklimkaart vir oulaas moet toon. Dis toe nou net daar waar die hele ou spulletjie ʼn wending geneem het. Terwyl ek in die lang tou sukkelende vorentoe beweeg het, was daar skielik ʼn vriendelike juffer met ʼn rolstoel langs my! “Would you like me to get you through?” wou sy weet. “Oh, so kind of you!” het ek merkbaar verlig gesê.

In ʼn ommesientjie was ek in die rolstoel! Handbagasie in ʼn mandjie en kierie kiertsregop tussen my knieë. In ʼn japtrap is ons paspoorte en opklimkaarte nagegaan. Man en toe’s dit ʼn lekkerte! Ek op die rolstoel en my ou Saamryertjie kort op ons hakke tot by die vliegtuig se groot oop deure.

Soos altyd was daar ʼn gulle verwelkoming by die vliegtuig en die lugwaardin het my handbagasie oorgeneem en ons tot by ons sitplekke geneem. Daar het sy die kierie geneem en gesê dat sy dit vir my sou bêre tot ons weer moes afklim.

Toe ons in Kaapstad land, was die vriendelike lugwaardin vir my nog mooier en vriendeliker omdat sy die mankoliekige ou oom so mooi gehelp het en sy kierie vir hom terugbesorg het.

Vandag is die kierie vir my kosbaar, want dis ʼn onthoukierie. Dis ʼn kierie wat ʼn storie vertel. Oorle lewende Ma, as sy daarvan te hore sou kom, sou my ernstig vermaan het dat my sonde my sou inhaal.

Nou wonder ek of sy nie dalk reg was nie. As die ou heupe, knieë en rug my deesdae ál meer opkeil, wonder ek of oorle lewende Pa nie dalk reg was toe hy ons gewaarsku het dat ons versigtig moes wees om nie later met die blinde sambok bygekom te word nie.

Sê jy nou vir my dat kieries nie stories kan vertel nie! Daar is hope kieriestories te vertelle en as hy nie self nie die storie kan vertel nie, is daar altyd iemand om uit te help om die storie te vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christina ·

My oorlede man het ook ‘n groot liefde vir kieries gehad. Ook een aand as ouderling iemand besoek en die sny kieries en draai dan daarin telefoondrade van verskillende kleir onder om. So vra hy sal die oom nie vir hom een maak nie hy sal hom betaal, nee die oom doen dit met liefde, sê net watter kleure. My man sê net nie die ANC se swart, geel en groen nie. Twee weke later bel die oom hy kan dit kom kry. Daar gekom is die kierie pragtig gemaak in swart, geel en groen, net soos jy gevra het. Maar dankie gesê en so het daardie kierie deel geword van sy versameling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.