ʼn Tyd soos nóú

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ek en my man gaan vanmôre saam dokter toe. Ek is eintlik tuis met studieverlof, maar beide van ons blaf tans meer as al die honde saam.

Gelukkig het ons in hierdie situasie, waar albei van ons redelik verlep voel, ʼn voordeel: net een van ons is ʼn man, dus is daar darem een van ons wat ten spyte van die olikheid steeds redelik oukei kan aangaan en nie albei wat jammerlik in die bed opkrul terwyl ons op die noodlot wag nie.

My man het sy oë gerol en gesê: “Ja-ja”. Al is hy ʼn selferkende lyer aan die fenomeen man-griep, wou hy egter nie lag vir my grappie nie.

Dit is eintlik darem aaklig om so goor te voel. ʼn Mens wil so graag vol energie wees en dinge kan doen: kan oefen, kan stap, kan werk en lekker met die kinders en jou lewensmaat gesels aan die einde van die dag. Maar dan voel dit of een of ander donderwolk bo jou kop hang en besig is om die lewe uit jou uit te suig – of dalk oordryf ek? Die feit is, dit bly ʼn bitter onaangename ervaring om siek te wees.

Dankie tog vir medikasie, dokters en aptekers… Dié gedagte neem my terug na die opening van ʼn vergadering waarby ek sowat twee weke gelede was. Ek glo die spreker, Hannes Noëth, sal my vergewe dat ek hom nie direk aanhaal nie, maar breedweg verduidelik.

Die tema wat ek daar weggeneem het, of wat werklik by my inslag gevind het, was dat ek en jy gemaak is vir ʼn tyd soos nou: die omstandighede, politieke klimaat, uitdagings en selfs tegnologiese vooruitgang en veranderinge. Ons is gebou vir nou.

Kan jy jou indink op ʼn ossewa? Ek wonder of ek een winter sou oorleef het… hierdie bors van my wat eintlik jare laas toegetrek het, sou sonder my chroniese medikasie dalk nie te lank gehou het nie, en ook nie ʼn dagreis te perd kon aandurf vir die nodige (beperkte) mediese sorg nie.

Ek is dankbaar ek leef in nóú. Behalwe vir toeganklike en gerieflike mediese sorg, is daar soveel ander dinge van hierdie tyd waarvan ek hou. Ek hou daarvan om ʼn plakboek van my lewe op ʼn platform te kan saamstel en dit met my geliefdes te kan deel, en om deur sosiale media verbind te wees aan soveel mense vir wie ek omgee maar wat ek nie gereeld kan sien nie.

Dit is lekker om na my kind se hokkiewedstryd op YouTube te kan kyk omdat ek dit daardie spesifieke dag nie noodwendig persoonlik kan bywoon nie. Ek is dankbaar vir kampvakansies met elektrisiteit en vrieskaste en koerante wat ek sommer op my slimfoon kan lees.

Maar hierdie geriewe en goed is nie al wat hierdie tyd vir ons meebring nie. Elke tyd het sy uitdagings en verantwoordelikheid. Dit laat my baie dink aan my roeping – die rede waarom God my geskape het en juis in hierdie tyd geplaas het.

Ek voel ons het elkeen ʼn lewenstaak wat aan ons opgelê is en waarvoor God ons toegerus het en ons dus doelbewus in ons omgewing en tyd geplaas het. Elke stukkie deel van my en jou is so noukeurig saamgestel om enige uitdaging te kan oorkom. En dis so eenvoudig: “Hier is ek, Here, gebruik my”.

Ek voel vandag heel filosofies – dit voel of ek ʼn tree terugstaan en ʼn meer globale blik op my lewe en die lewe rondom my kan kry. Ek kan die legkaartstukkies so mooi in mekaar sien pas… so duidelik in mekaar sien inval.

ʼn Mens kan die geskiedenis maklik verromantiseer, of strydlustig of patrioties of selfs liries raak oor veldslae en gebeure. Maar dit was regtig nie my tyd nie. ʼn Nat ossewa en kinders wat aan masels beswyk, of ʼn konsentrasiekamp vol honger en siek mense en jou man en seuns so ver weg…

Vandag veg en bou ons op ʼn ander manier, in ʼn pionierstyd van baie nuwe dinge en oorbeginne. Elkeen doen dit met hul eie vaardighede om die uitdagings van die tyd te kan takel en oorkom: sommiges hou skool, ander maak ons gesond, daar is diegene wat ons veilig hou of wat ons omgewings in stand hou en weer mooi en leefbaar maak.

Dis iets om ons aan te verwonder – dié plan, dié tyd, dié mense.

Vir nou gaan ek (ons) op gesond word fokus, en dan sal ons weer ons plek volstaan en die stene lê op die plekke waar ons aangewys word. Hierdie leeftyd het elkeen van ons nodig; ons is immers geskape vir nóú!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.