Ons Franse kasteel: ’n Heildronk op die lewe, die liefde en die lente!

Deur Sunita McDonald

Lentedag. Dit was altyd ’n hoogtepunt van die skooljaar wanneer ons almal op dié spesiale dag gewone klere kon skool toe dra. Die kleurvolle bondels kinders was ’n teken van die ontwaking van ’n nuwe seisoen. In die Noordelike Halfrond vier ons nie lentedag nie, maar met my wortels nog diep in Afrika se grond vasgeanker, sê ek wel dankie vir nuwe lewe op 1 September.

Die aanbreek van die nuwe seisoen is hierdie jaar vir my simbolies van die restourasie van ons kasteel. Ons betree wel die kouer maande aan hierdie kant van die ewenaar, maar soos met die seisoene het Château de Capelle ’n tyd van verandering beleef. Die afgelope ses maande was ’n tyd van ontwaking en groei – in die natuur en in ons tuiste.

Ook in ons tuin! Die grasperk kan daarvan getuig. Ons het vir weke verbete geveg teen die gras se groeikrag. Die tuin is te groot om al die gras op een slag met ons grassnoeier te sny en die stuk-stuk sny elke paar dae maak nie hond haaraf nie.

Die gras groei eenvoudig te vinnig en is steeds lank genoeg op plekke om daardie einste haarafhond te kan versteek. Ons het ’n ander plan nodig gehad totdat ons ’n “ride-on”-grassnyer kan koop.

Ons ontmoet toe vir Gilbert, ’n jolige Fransman wat saam met ’n vriendin by ons kom koffie drink het. Gilbert het trekkers en boonop ’n oplossing vir elke probleem. Een oggend vroeg maak hy toe sy opwagting op ’n oranje trekker en skeer paadjies deur die lang gras. Die trekker verander ons tuin toe in ’n japtrap en net betyds om die laaste paar someraande buite te kan geniet.

Die gedreun van die trekker het my gedagtes na ’n ander kontinent gevoer en ’n tikkie heimwee het my bekruip toe die reuk van vars omgedolwe grond die lug vul. Ek het aan ou fotoalbums met foto’s van my boeties op my oupa se trekker gedink. Ek het ook onthou hoe my seuns tydens ons laaste kuier in Suid-Afrika die groot trekkers by Laeveld Trekkers aangegaap het.

Dit was my ma se verjaarsdag verlede week en die verlange was erg. Tyd saam met familie is darem ’n teëgif vir daardie verlange en ons was bevoorreg om my nefie-hulle vir ’n kuier by die kasteel te kon ontvang. Ek het inderhaas ’n kamer in die hoofdeel van die kasteel voorberei.

Dit was raap en skraap vir meubelstukke, maar hul kamer was gereed toe hulle twee dae later opdaag. My neef het ’n verrassing vir my gehad: hy het mieliepap al die pad van Duitsland af saamgebring en ons het twee agtereenvolgende aande lekker aan pap, sheba en wors gesmul.

Ek glo daaraan om die plattelandse gasvryheid waarmee ek grootgeword het, ook hier te beoefen. Ek bied dus gereeld smulhappies en koffie aan vir werkers wat by Château de Capelle kom help. My gasvryheid strek egter nie tot fisiese kontak nie en ’n agtpotige besoeker het hierdie sosiale reël oortree. Ek het een oggend met ’n skinkbord vol koffie en koekies by die voorportaal ingeloop toe ek die grynsende araignée op my boarm gewaar.

Dit was ’n flinkdink-oomblik: gooi ek die warm koffie, koppies en koekies dat dit daar trek? Of sit ek dit versigtig op die grond neer en neem die risiko dat die spinnekop gravitasie beveg en verder teen my arm ophol? Ek het besluit om die drie-varkies-benadering te probeer. As ’n wolf ’n huis kan omblaas, kan ek sekerlik ’n aragniede-spesie wegblaas! ’n Diep, half paniekerige asemteug later en die agtpoot trek deur die lug. Dankie tog die kasteel se steenmure is nie van strooi gebou nie, anders was dié ook weg!

Die elektrisiën het my swetsende riel natuurlik baie amusant gevind, maar gou gespring om sy koppie koffie te red. Hy sê toe dat ek lig sal nodig hê om daardie spinnekop op die vloer te vind en met ’n “voilà!” skakel hy die ligte vir die eerste keer aan! Daar is die spinnekop skoon vergete. Ons het uiteindelik lig in die kasteel en dit lyk wonderlik. Thomas Edison sou trots gewees het op die transformasie wat ’n paar van sy uitvindsels teweeg kan bring. Ek het ’n paar swaar ysterkandelare aangeskaf om die eenvoudige gloeilampe te vervang en beplan om dit in die komende week te hang. Ek glo dat dit meer swier aan die kasteel sal verleen.

So red ons die ou gebou stuk vir stuk en soms kom ons ook tot die redding van sy huidige inwoners. Die rondloperkat het vir ’n paar weke verdwyn en weer verskyn… met ’n bultende magie en dit is bevestig: sy was weer dragtig. Verlede week het ek toevallig besluit om werk in die soldervertrek te gaan inspekteer, toe ek ’n droewige gemiaau hoor.

Ek kon nie uitmaak waar dit vandaan kom nie en ten einde laaste het ek ons vriend Mark gevra om vir my die vloerplanke te kom oplig. Ons ontdek toe ’n “skag” (moontlik waar daar in die verlede ’n skoorsteen was) met die arme twee klein katjies vasgevang aan die onderkant van die holte.

Ek het visioene gehad dat ek in die nou opening sou moet afseil om die katjies te red. Ná ’n paar opmetings het ons egter besef die skag strek tussen die tweede en die derde vloer. ’n Paar verdere afmetings en ons was oortuig dat ons presies weet waar hulle vassit. Ons het toe met ’n hamer ’n gat in die muur op die tweede verdieping geslaan en die twee verwese bondeltjies bevry.

Ten spyte daarvan dat hulle meer as drie meter geval het, was hulle genadiglik ongedeerd. Ons is aangesê om ’n ogie oor hulle te hou en ek het vir ’n paar uur soos Moeder Hen om hulle gekloek. Daarna het ons hulle weer aan hul ma terugbesorg. Sodra die katjies reg is om gespeen te word, moet mammakat gesteriliseer word. Sy is wild en letterlik nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie, maar dit moet gedoen word. Een dramatiese reddingspoging was genoeg.

Ek het ook verlede week ’n stuk materiaal wat vir die ashoop bestem was, gered. Dit is ’n massiewe stuk lap wat aanvanklik ’n gordyn was vir ’n ou hemelbed. Ons het dit verwyder toe ons die kamer se muurpapier gestroop het. Ek het geen idee hoe oud dit is nie, maar die kasteel was vir 30 jaar onbewoon, dus reken ek die materiaal kan ’n paar stories vertel. Ek het dit met moeite skoon gekry en gaan dit êrens in die kasteel gebruik. Ons het reeds ’n paar wonderlike idees van die lede op ons Facebook-groep gekry om dié pragtige stuk lap ’n nuwe lewe te gee.

Terwyl kleurontploffings van verskeie bloeisels die lente in Suid-Afrika aankondig, maak ons aan hierdie kant reg vir skouspelagtige herfskleure. Die boek van Prediker sê: “Elke ding het sy vaste tyd”. Die seisoene verander op die regte tyd en ons waardeer dat julle saam met ons deur die seisoene stap wanneer daar ’n tyd is om te bou, ’n tyd om ’n lewe te red, ’n tyd om aan te skaf…

Die swaeltjies is reeds op pad terug, suid, na warmer lande en ek stuur goeie wense met hulle saam uit ’n vreemde land: sur la vie! – Op die lewe, op die liefde en op die lente! Op ’n tyd om te lag, ’n tyd om te omhels, ’n tyd om van blydskap te dans en al die ander goeie tye wat Prediker besing.

À la prochaine!

Lees alle vorige rubrieke hier. 

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif rooirose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.