Oom Herrie se kerrie: Donkiehakskene

Argieffoto (Foto: Kathy2408, Pixabay)

Al het die Duitsers toe nooit kom inval nie, kom daar ’n stroom stories uit die Tweede Wêreldoorlog uit die Noordweste uit. Dié stories het vermoedelik hul herkoms van ’n verdwaalde SAP-LP in ’n andersins NAT-wêreld, wat vir sy kiesafdeling gaan verduidelik het hoekom ’n dam wat hy beloof het, nooit gebou is nie. (Die dam is tot vandag nie gebou nie).

“Daai dam was so goed soos gebou, toe die oorlog begin. En sê nou daai dam was vol en die Duitsers kom bombardeer dit? Dan versuie al die goeie mense tot by Hônneklikbaai tot in die see.” Hy het ’n staande ovasie gekry.

Maar sy byt het die oorlog sy byt ingekry. Petrol was gerantsoeneer, en onderdele kon net bestel word as dit vir die dokter se kar benodig is.

En so ry dokter Ben Vermeulen na ’n siekte op ’n plaas. Met die skaarste aan petrol en afwesigheid van onderdele, is die pad nog stiller as gewoonlik. Die pad is egter ook nie onderhou soos dit moes nie, en dit het min of meer praktyk geword om aan die beste kant van die pad te ry, en nie noodwendig links te hou nie.

Maar nie alle voertuie loop op petrol nie, en dis toe die dokter aan die regterkant oor ’n bultjie gaan, dat hy die groot teenspoed kry. Hy ry reg van voor in ’n donkiekar vas. Die donkies is op slag daarmee heen, en die disselboom breek die kar se verkoeler se pypies morsaf.

Die ontydige oorlye van die donkies is nie net vreeslik ongerieflik, hier so tussen Platbakkies en Gamoepie, nie. Dis ook ’n vreeslike hartseer want die eienaar, Petrus Dragoender, was vreeslik erg oor Violet en P*epol. Die dokter is ook half onplesierig oor hy nou gestrand sit, en nog vieser vir homself om regs oor ’n blinde hoogte te loop ry het.

Dr. Ben vergoed Petrus ruim vir die donkies, en sommer vir ander ongerief ook. En toe kry hy ’n idee. Met die skalpel skil hy Violet se voorpoot-hakskeenvelle versigtig af, sodat hy twee pypies het. Hiermee las hy die verkoeler se gebreekte pypies, en sy kar loop weer soos ’n droom. Hy haak Petrus se donkiekar aan sy karavaanhak, en ry met Petrus en sy waentjie na die plaas waar die sieke wag.

Die tante wat olik is, se seun is ’n voorslag en net baie hulpvaardig. Hy doen ’n paar verstellings aan die dokter se enjin, en gaan haal die dooie donkies om begraaf te word. Twee half wilde donkies word aan Petrus geskenk, en word terstond Vadoek en Servet gedoop.

Terug op die dorp ry die dokter reguit na Klaas Vermeulen se herstelwinkel. Klaas kyk die storie so, kou sy pruim ’n ruk ingedagte voor hy die straaltjie laat loop, en sê: “Daai donkiehakskene werk oulik en sal maar die ding eers moet doen. Omdat dokter ’n dokter is sal ek solank die pypies bestel, maar ek verwag nie ons sal dit gou kry nie.”

’n Paar weke later kry die dokter die oproep sy pypies het gekom. Toe die donkiehakskene afgehaal word, is dit twee klipharde pypies. Die regte pypies is skaars ingesit, toe sleep ’n trekker die boer se bakkie daar in. Die boer, Basie van Wyk, klim van die trekker af, en beduie. “Julle sal nooit glo nie, maar ek ry hier anderkant oor ’n bultjie toe ’n donkiekar my reg van voor tref…”

Klaas betrag die skade. “Basie, pypies kan ek nou nie vir jou laat kry nie, maar hierdie donkiehakskene sal mooi pas tot na die oorlog.”

’n Ruk later ry Basie daar uit met sy bakkie met die donkiehakskene, hoog in sy skik…

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johnny_walker ·

verbasend hoe eenvoudige planne mense al uit diep moeilikheid gekry het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.