Oom Herrie se kerrie: Predikante en hul dinge (vervolg)

Argieffoto (Foto: pixel2013, Pixabay)

Wie onthou nog die Kanaries van die Lugmag – dis nou die ou lugmag mét vliegtuie wat kon vlieg en vlieëniers om dit te vlieg en mense om dit te onderhou? Die Kanaries was ’n gewilde koor wat landswyd opgetree het.

En so gebeur dit dat die Kanaries die slag in ’n Oos-Vrystaatse dorp optree, en die optrede vind in die plaaslike kerkgebou plaas. Die plaaslike kinderhuis se kinders sit soos sardientjies in die voorste gestoeltes ingepak.

Dis mos ’n half ongemaklike soort byeenk

oms – dis in ’n kerk met ’n predikant op die preekstoel, maar dis ook ’n konsert. Moet mens nou gewyd wees, of voluit hande klap?

Maar daar is iets wat dit skynbaar nié is nie.

Die dominee is besig om die Kanaries voor te stel toe een van die kinderhuis se knapies daar heel voor in die kerk ’n ongelukkie kry. Dit knal behoorlik deur die kerk.

Daar is ʼn oomblik stilte, en die predikant wou net aangaan asof niks gebeur het nie, toe die knaap langs die ongelukkige knapie opvlieg. Kliphard betig hy die knapie: “Hoe durf jy p**p in die allerheiligste van die Heer?!”

Daar is ʼn rukkie stilte, en toe is daar van gewydheid geen sprake nie soos die teenwoordiges lag dat die dak wil lig. Ook die Kanaries lag lustig – geen sprake dat hulle gou sou kon sing nie.

Maar uiteindelik het die verrigtinge darem seepglad afgeloop.

’n Besoekende moruti tree as gasprediker by ’n gemeente in die berge in Qwaqwa op. Die kerkie is stampvol.

Die moruti is half senuweeagtig, maar hy préék. Sy tema is laagtepunte en hoogtepunte van die geloof. Wanneer hy oor hoogtepunte preek, spring hy van agter die kateder die lug in, en as dit by laagtepunte kom, sak hy agter die kateder weg. Sy senuagtigheid verdwyn algaande, en hy spring behoorlik soos ’n kaartmannetjie agter die preekstoel rond, net om dan weer vir ’n rukkie agter die kateder te verdwyn.

Maar… dis al of die moruti al skuinser die lug begin inspring, en ook nie meer so veerkragtig is nie. En dit raak al erger, tot die moruti met groot moeite weer ’n sprong probeer maak, maar te skuins gelanseer word. Hy slaan soos ’n os neer, en bly toe ook sommer lê.

Dis toe van die diakens naderstaan om te help, dat hulle die probleem ontdek. Die moruti het ʼn botteltjie skokiaan agter die kateder weggesteek, en elke keer as hy ’n laagtepunt bereik, gou ’n sluk loop vat.

By geleentheid moet die kerkraad haas van die konsistorie af die kerk binnestap, maar die predikant is weg. Iewers is ook fout met die telefoonlyne, want daar kan glad nie na die pastorie deurgekom word nie. Die plaaslike sendeling, wat gewoonlik vir die dominee moet instaan as daar fout is, preek ook die Sondag op ’n buitepos, en is al vroegmôre vort.

Dis toe dat die dominee se oudste uitasem aangehardloop kom, met die nuus dat sy pa erg siek, en sonder stem is. En jammer, die telefoon is buite werking.

Nou is die vraag: “Wie gaan preek?”

Die prokureur is lekker glad met die bek, maar daar is te veel teenstand in die kerkraad. Die plaaslike afslaer word afgevaardig vir die preek. Hy protesteer, maar dit kan nou nie anders nie.

’n Jong diaken sien die afslaer se benoudheid, en hy gaan haal gou ʼn bottel witblits uit sy kar, en smokkel dit die preekstoel uit. Hy dokter die glas water op die preekstoel goed, en glip weer af.

Die toe die afslaer op die preekstoel kom, en ʼn slukkie vat, dat die diaken sien die man se oë rek, maar hy hou van wat hy proe.

Hy begin stotterend met die diens, maar sommer gou sak die glas, en die prekery vlot al beter. Later swaai die afslaer woes met sy arms in die lug, en hy bulder belangrike dele behoorlik uit. Die gemeente sit vasgenael – so ’n preek, met soveel passie, het hulle nog nooit gehoor nie.

Uitasem amen die afslaer naderhand sy laaste woord, en die gemeente gee hom spontaan ’n staande ovasie – glo die eerste keer in die anale van die NG Kerk.

Die hele gemeente koek om die afslaer saam om hom met sy uitstekende preek geluk te wens. Eenkant sit ’n waardige omie sy beurt geduldig en afwag, en toe almal ander klaargemaak het, staan hy ook nader: “Boet, jy het goed gepreek, maar daar is twee dinge wat jy moet in gedagte hou. Dis die tien gebooie, nie twaalf gebooie nie, en dis die twaalf stamme van Israel, nie die tien nie. En Moses het die Egiptenaar doodgeslaan, nie doodged*nder nie.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae