Sekularisme ploeg met gesteelde kalwers

Deur DC Coetsee

‘n Illustrasie van Johannes Gutenberg (1400-1468) wat die eerste vel van die Bybel druk. (Foto: Leemage via AFP)

In my vorige artikel is aangedui hoedat sekularisme oorspronklik beteken het die era van ontgoddeliking van die natuur. Die vorige nie-Bybelse “godsdiens” wat gewentel het om natuurkragte en menslike konstrukte, is deur die ware evangelie ontmasker. Dié ontmaskering het mense bevry van “natuurgodsdiens” deurdat hulle alleen die ware God dien, sy skepping met sy wetmatighede en elemente onbevrees kon ondersoek en aanwend deur “wetenskap” (Genesis 1:26-28).

Waar ʼn kultuur hierdeur gevorm en ontwikkel is (byvoorbeeld in Wes-Europa), het dit gelei tot ontdekkings en uitvindings wat die wêreld ten goede verander het. Die goeie proses van sekularisering het egter gelei tot die ideologie van Sekularisme waardeur die hoogmoedige mens selfs die ware God “ontgoddelik” het: “Die wetenskaplike mens het nie meer ʼn god nodig nie!”

So het Sekularisme gelei tot Naturalisme: “Die enigste werklikheid wat bestaan en werd is om ondersoek en vasgestel te word, is dit wat deur die wette en metodes van die natuurwetenskap bereikbaar is”. Dus het net nie-denkende, onwetenskaplikes en geïndoktrineerdes nog “godsdiens” beoefen.

So het Sekularisme self sy ontstaan te danke aan die Christendom – en in sy stryd teen die waardes en prestasies van die Christelik-Westerse kultuur ploeg dit verder met die kalwers daarvan. Die belangrikste strategieë is die moderne kommunikasiewese en kansellasiekultuur, woke-isme, kritiese teorieë (veral kritiese rasseteorie) en LGBTQ+-kultuur.

Moderne kommunikasiewese

Jesus se opdrag aan Christene om oor die wêreld die evangelie te verkondig, mense Sy dissipels te maak en hulle te “leer”, was ʼn geweldige stimulus vir goeie kommunikasie. Die ontstaan van moderne boekdrukkuns kan teruggevoer word na Gutenberg, waar die eerste grootskaalse meganiesgedrukte Bybels geproduseer is (1455) omdat dit nodig was vir evangelisering. Dit het gelei tot die ontploffing in kommunikasie deur middel van gedrukte media.

In gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag het sendelinge tot in die uithoeke van die wêreld mense leer lees. Die klassieke universiteite in die Westerse wêreld is deur kerke gestig waar studente aanvanklik toegerus is as teoloë, maar naderhand uitgebrei is na algemene “geesteswetenskappe” en na “natuurwetenskappe”.

Mettertyd het die paradigma van Sekularisme wat aan universiteite doseer is ook die dosente in dié skole en universiteite oorgeneem en is Sekularisme aan studente voorgehou as die enigste intellektueel-verantwoordbare paradigma. So is die kommunikasiewese, onderwys en ander velde van geesteswetenskappe, elektroniese kommunikasiemiddele en elke ander wetenskaplike dissipline oorgeneem deur mense geskool in Sekularisme, wat (net soos die evangeliseringsopdrag) “ekspansionisties” is: dit wil “alle nasies” tot “dissipels” maak.

ʼn Uitvloeisel hiervan ten opsigte van die kommunikasiewese is die ideologie van kansellasiekultuur: alle kommunikasie wat Sekularisme bedreig of bevraagteken word uit die sekulêre media “gekanselleer”. Die sekulêre massamedia bied daardeur geen platform aan verkondigers en verdedigers van die egte evangeliseringsboodskap nie, want dit is gevaarlik vir die aansprake van Sekularisme. Wat wel deur sommige media toegelaat word, is negatiewe berigte oor konflik in en tussen kerke en Christene, sondes van kerklik-prominente figure en instansies en “mak” en afgewaterde “godsdienstige” bydraes wat geen bedreiging vir Sekularisme inhou nie.

Daarteenoor voer media met ʼn substansiële Bybelse inhoud ʼn sukkelbestaan.

Kommunikasie en kommunikasiemiddele wat geweldig gestimuleer is deur die evangelieboodskap word tans deur sekulêre media oorheers, wat daarop gemik is om die Christelik-Westerse kultuur met sy eie geskepte sekulêre alternatief te vervang.

In die nastrewing van hierdie doel ploeg Sekularisme uiters vaardig met gesteelde kalwers.

  • DC Coetsee is ʼn boorling van die Kalahari. Hy het vir 40 jaar lank as sendeling gewerk en is deesdae besig met Bybelse berading en opleiding. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JJ ·

So sê DC Coetsee wie se verlosser die naam van ‘n Griekse songod het????????.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.