Wat doen ek as daar iets fout is met my kind?

Deur Johanni Meiring

hands-105455_1280.jpg

Argieffoto (Foto: Blanka, Pixabay)

Om deur die moontlikheid van diagnose van enige langtermyn toestand vir jou kinders te gaan, is onwerklik en moeilik om te verwerk. Johanni en Gideon Meiring moes hierdie realiteit, soos baie ander gesinne, in 2009 beleef. Johanni deel hulle ervaring gedurende die tyd van diagnose van hul dogter (toe 21 maande oud).

Ek kan hierdie spesifieke middag so duidelik onthou. Dit was oor ʼn naweek en ons het ʼn klein, laatmiddag-byeenkoms by my skoonsuster se huis gehad. Ons jongste seun was toe amper drie maande oud en ons was nog in die “pronk met ons baba”-seisoen vir diegene wat hom nog nie gesien het nie.

Dit was ʼn moeilike middag vir my dogter (toe 21 maande oud). Al was ons nie lank daar nie, kon sy net nie rustig raak nie. Sy kon op hierdie ouderdom ook nog nie regtig praat of alleen loop nie.

Die ervaring was nie vir my en Gideon vreemd om die meeste van die tyd na haar om te sien nie. Ons het gewoond geraak daaraan dat sy nie saam met enige ander mense behalwe ons wou sit nie, en dat sy maar die meeste van die tyd sukkel om rustig te raak. En, natuurlik dat sy net ʼn bietjie laat is met haar mylpale…

Dit was duidelik dat familielede begin agterkom het dat haar gedrag nie verbeter nie. Ons het net soveel aan die gang gehad dat die enigste opsie oorlewing was. Ons het net deur die dae probeer kom, maar geglo dat sy sou beter word.

Wie sou immers dink dat daar iets fout is met jou kind, as sy ʼn moeilike kleuter is wat pas ʼn bababoetie gekry het?

Johanni Meiring (Foto: Verskaf)

In ʼn stadium tydens ʼn besoek het my skoonpa se vrou, en hartsvriendin vir ons almal, spesifiek gevra hoe dit met ons dogter gaan. Toe, met al die moed wat sy kon bymekaarskraap, het sy gesê dat hulle al ʼn rukkie bekommerd is oor haar. Sy het ook gevra of ons dit nie sou oorweeg om haar vir ʼn evaluering by ʼn terapeut te neem nie.

Die vraag het my asem weggeslaan.

Al was ek baie geskok oor wat dit impliseer, onthou ek dat ek terselfdertyd gedink het: “Miskien is dit alles nie net ons skuld nie. Hierdie is die chaotiese sin van die werklikheid.” Ons was al vir baie lank baie moeg en het nie regtig die idee beveg nie.

Ons het begin rond bel en uitgevind waar om ons dogter te laat evalueer. Dit is nou vir my so ʼn algemene frase, maar in daardie stadium het net die woord “evalueer” soveel emosies in my binneste ontlok: “Is daar iets fout? Wat kan verkeerd wees? Wat sal hulle sê? Sy is net ʼn baba. Het ek iets verkeerd gedoen? Wat doen ek as daar iets fout is?”

Alhoewel ek al hierdie gedagtes gehad het, het ek nooit ʼn idee gehad wat die uitkoms sou wees nie. Al wat ek kon dink was: “Ek het ʼn pragtige dogtertjie, sy is net ongelukkig. Sy is net ongelukkig. Dit sal wonderlik wees as ons ʼn oplossing vir haar ongelukkigheid kan kry.”

Ons het haar eerste evaluasie-afsprake met spraak-, arbeids- en fisioterapeute gemaak. Al die evaluasies is baie deeglik en sensitief gedoen. Ek het die meeste van die terugvoer nie verstaan nie, maar ek besef dat wat hulle sê nié goed is nie. Ek het besef dat daar is iets fout is met ons dogter se ontwikkeling. Die aanvanklike gevoel nadat ek hierdie nuus ontvang het, was gevoelloos en skokkend, maar die woorde in my gedagtes was: “Hardloop met die fakkel, red jou kind. Vind uit wat verkeerd is en maak dit reg.”

Ná hierdie afspraak het dit ongelukkig nog ʼn paar traumatiese doktersafsprake gekos om ons dogter se finale diagnose te kry.

Ek sal daardie dag net nadat ons die diagnose ontvang het nooit vergeet nie. Ek en my man is na ʼn restaurant naby die dokter se kamers. Ons het saam gesit, maar het nie regtig geweet wat om te sê nie. Dit was asof iemand jou met die vuis in jou ingewande geslaan het. Sy het op een van die speelplek se karretjies gesit wat net in die rondte gery het. Dit haar baie gelukkig gemaak.

Ek sal nie vergeet hoe ek dieselfde middag, toe ʼn vriendin kom inloer het om te hoor of ons oukei is, magteloos gehuil het oor die diagnose nie. Dit het soos ʼn besoek gevoel wat jy by mense aflê wanneer iemand dood is. Die moeilikste was om te probeer verduidelik wat die dokter gesê het. Om die tipiese prognose vir outistiese kinders te probeer oorvertel het my magteloos en verlore laat voel.

Vandag vertel ek hierdie verhaal amper 14 jaar later. Ek het ʼn pragtige tienerdogter wat die lewe op haar eie manier leef en ons geweldig baie leer. Die afgelope jare was definitief uitdagend. Al kan ek steeds die pyn van die diagnose voel asof dit gister was, sal ek geen dag saam met haar verruil of verander nie.

Ondersteuningsgroep

Ouers van kinders met spesiale behoeftes voel dikwels alleen en geïsoleer in hul ouerskapstryd. Daarom bied Solidariteit Helpende Hand in samewerking met Parent Reality op 9 September 2023 ʼn verrykingsoggend aan om ouers van kinders met spesiale behoeftes bymekaar te bring, en die geleentheid te skep waar daar vir hulle ʼn ondersteuningsgroep gestig kan word.

Die onderwerpe wat bespreek gaan word is:

  • Verhoudings in ʼn spesiale gesin.
  • Inligting oor gestremdheidsbelasting.
  • Selfsorg in ʼn gesin met spesiale behoeftes.
  • Ontdek jou hulpbronne en ondersteuning.

Vir meer inligting en besprekings, stuur ʼn e-pos aan [email protected].

  • Johanni Meiring is ʼn lewensafrigter, spesialebehoefte-ouer en medestigter van Parent Reality.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jixy ·

Ons kan relate. Ons dogter het nie outisme nie, maar al die evaluasies, dokters ondersoeke en self hospitalisering vir toetse raak soms oorweldigend. Ek is baie dankbaar vir die wondelike terapeut wat sy nou het. Sy doen soveel moeite. Ek wens daar was meer sulke mense in ons lewe

Amelia ·

Outisme is die pandemie wat nie aangespreek word nie. Iets wat voorheen skaars was, raak nou algemeen, en nie omdat dit net meer raakgesien en gediagnoseer word nie, maar omdat ons omgewings al hoe meer toksies begin word het. In Amerika het 1 uit 36 kinders dit. Statistieke vir SA is nie bekend nie maar dis minstens 2 uit ‘n honderd.
NS. My kind is ook outisties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.