Finansiële waghond waarsku teen ‘bedrieglike maatskappy’

(Foto: Carlos Muza/Unsplash)

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het die publiek teen die finansiëledienstemaatskappy Tradehedges Ltd. gewaarsku.

Die onderneming, wat voorgee dat hy by die FSCA geregistreer is, gebruik ʼn vals finansiëlediensnommer en lisensie, het die owerheid gesê.

Die FSCA sê hy het op 10 Junie inligting van die publiek ontvang dat die onderneming ook ʼn sertifikaat vertoon wat beweer dat dit op 5 Julie 2017 deur die FSCA uitgereik is, toe dié nog as die Finansiëlediensteraad bekend gestaan het.

“Dit is vals omdat Tradehedges Ltd. volgens die FSCA nie ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer of regsverteenwoordiger is nie. ʼn Rekord vir ʼn aansoek daarvoor bestaan ook nie,” het die owerheid gesê.

ʼn Soektog van die FSCA se webwerf lewer geen rekord vir Tradehedges óf die beweerde registrasienommer van die onderneming op nie.

Slegs ʼn Facebook-blad met die naam “TradeHedges forex company” kon met ʼn internetsoektog opgespoor word. Dié blad beloof om geld wat belê word binne sewe dae te verdubbel. Die onderneming is volgens die bladsy in Kaapstad geleë.

Die owerheid sê die onderneming lewer ongemagtigde finansiële dienste en het mense gevra om seker te maak ʼn instelling of individu is by die FSCA geregistreer. “Daar is voorvalle waar mense geregistreer is om ʼn basiese adviesdiens vir ʼn laerisikoproduk te lewer en dan dienste aanbied wat veel meer ingewikkeld is en ʼn hoër risiko het.”

ʼn Individu of instelling se registrasie kan by www.fsca.co.za of by die tolvrye nommer 0800 110 443 nagegaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.