PepsiCo maak aanbod vir SA kosgroep

pepsico-aanbod-op-pioneer

Tertius Carstens, uitvoerende hoof van Pioneer Foods, en Eugene Willemsen, uitvoerende hoof, PepsiCo in die Afrika-streek suid van die Sahara. Foto: Pioneerfoods.co.za

Die koeldrankreus PepsiCo het Vrydag bekendgemaak dat dié maatskappy Suid-Afrika se Pioneer Foods vir ongeveer R23 miljard wil uitkoop.

Pioneer Foods besit van Suid-Afrika se bekendste kos- en koeldrankprodukte wat Marmite, Bovril, ProNutro, Weetbix, Sasko, Moir’s, Lipton, Peck’s Anchovette, Futurelife, Heinz en Mama’s insluit.

Dit sal die bekende plaaslike produkte in die VSA se hande plaas en tot die denotering van Pioneer Foods op die plaaslike aandelemark lei.

Die twee maatskappye het in ʼn gesamentlike verklaring gesê die transaksie is een van PepsiCo se grootste verkrygings buite die Verenigde State. PepsiCo het bygevoeg dit is ʼn demonstrasie van sy geloof in Suid-Afrika se potensiaal en die maatskappy se langtermynverbintenis tot die land.

PepsiCo se aanbod is vir R110 kontant per aandeel. Volgens Pioneer verteenwoordig die aanbod ʼn premie van 56,5% op die 30 dae lange volumegeweegde aandeelprys van R70,31 soos wat dit op 12 Julie gemeet is.

Pioneer het vroeër die week die markte aan die gons gehad met ʼn aankondiging dat onderhandelinge aan die gang is wat sy aandeleprys kan beïnvloed. Die maatskappy se aandeelprys het sedert dié aankondiging begin klim.

Pioneer het ʼn onafhanklike raad van drie mense uit sy groter direksie geskep om die PepsiCo-aanbod te oorweeg. Dié direksie het die transaksie eenparig aan aandeelhouers aanbeveel.

“PepsiCo glo Afrika is ʼn belangrike mark vir toekomstige groei. ʼn Betekenisvolle deel van PepsiCo se bestaande portefeulje is in ontwikkelende en ontluikende markte waar verdere uitbreiding ʼn hoë prioriteit vir die mark is.”

Die twee maatskappye het verder gesê PepsiCo glo Pioneer Foods is uniek en verteenwoordig ʼn aantreklike beleggingsgeleentheid wat in ooreenstemming is met PepsiCo se strategiese planne op lang termyn.

Verder het die maatskappye ook gesê die direkte buitelandse belegging, wat uit die transaksie sal spruit, sal betekenisvol bydra tot die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die transaksie kan ook help om verdere direkte buitelandse belegging te lok en help om Suid-Afrika as ʼn aantreklike bestemming vir multinasionale maatskappye te posisioneer,” het die gesamentlike verklaring gesê.

Buiten Pepsi besit PepsiCo ook koeldranke soos 7 Up en Mountain Dew en gewilde skyfieshandelsmerke soos Simba, Nik Naks en Lay’s. Die maatskappye het bedrywighede in meer as 200 lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

M ·

Amerika het net twee uitvoer produkte, kos en oorlog. As jy nie van hulle kos hou nie kan jy n oorlog verwag.

Karlahari ·

Pepsico het met Pepsi nie n baie goeie geskiedenis in SA nie. Hoeveel keer het hulle ten gronde gegaan voor hulle Namibie toe geskuif het?
Hoeveel werks geleenthede gaan nou weer verlore gaan soos met MassMart?
Ek hoop die publiek en regering stop die uit verkoop.

Globale miljarders ·

Glo my, die globale elite gee nie om oor werk en pryse nie, ons plaaslike mense gaan maar net beheer, werk verloor en hoer pryse betaal. Die globale elite begin ons almal almeer besit.

Johan Swart ·

….en so word die groepie wat die wêreld se voedsel produkte beheer en besit al hoe kleiner.

Poltic ·

As die EFF oor iets wil veg hier is iets om voort te veg alles gaan uit ons hande .As hulle nou sanksies instel is ons kos ook daarmee heen

aj ·

Die ‘peoples’ haat Witmense soveel dat die Pioneer aandeelhouers nie vinnig genoeg kan ontslae raak van hulle aandele nie … om landuit te kan vlug.

Pepsi koop ‘n gifpil!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.