Repokoers bly onveranderd, kommer oor toekomstige stygings

Argieffoto.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het verlede Donderdag op sy monetêre beleidsvergadering vir Maart 2019, besluit om die repokoers onveranderd teen 6,75% te laat. Maroela Media het vroeër hieroor berig.

Die repokoers is ’n sleutelrentekoers in Suid-Afrika wat, byvoorbeeld, die prima-uitleenkoers en die prys van krediet in geheel, beïnvloed. Eenvoudig gestel, dit beïnvloed die koste waarteen ons geld kan leen in Suid-Afrika.

Die volgende grafiek gee ’n historiese uiteensetting van die repokoers sedert die 1960’s. ’n Gemiddeld van die jaarlikse repokoerse vir sekere historiese tydperke word ook aangedui.

Grafika: Verskaf.

Heelwat verbruikers het sekerlik ’n sug van verligting geslaak oor die monetêre beleidskomitee se besluit om die koers onveranderd te laat. ’n Hoër repokoers sou beteken dat verbruikers en sakelui wat aan skuld (soos huis-, motor- en besigheidskuld) blootgestel is, meer aan rente sou moes betaal.

Maar wat hou die toekoms in? Die Reserwebank se kwartaallikse vooruitskatting voorsien tans dat een repokoersverhoging van 0,25% teen die einde van 2019 sal plaasvind. Dit sal die repokoers tot by 7% neem. (Tog is hierdie soort vooruitskattings nooit seker nie.)

Dit is wel opmerklik, gemeet aan die tydperk vanaf die 1980’s tot en met 2008, hoe laag dié rentekoers tans eintlik is – ’n feit wat soms vergeet word.

Wat ook uitstaan, is dat die repokoers oor relatief kort tydperke – gemeet aan die tendense van die verlede – hewige verhogings kan sien. Kyk byvoorbeeld na opswaaie in die vroeë 1980’s en die laat 1990’s in die grafiek hierbo, waartydens die koers gemaklik die 20%-vlak verbygesteek het. Hierdie skielike opswaaie het met politieke en ekonomiese onstuimigheid gepaardgegaan.

Gegewe huidige ekonomiese onstuimigheid kan onverwagse rentekoers-skokke uiteraard nie uitgeskakel word nie. ’n Skielike terugkeer bloot na die gemiddelde repokoers van die 80’s en 90’s sal reeds heelwat verbruikers onverhoeds betrap – om van skokke soos in die vroeë 80’s of laat 90’s nie eens te praat nie.

Die goeie ou raad om maar eerder te spaar en oordeelkundig met skuld om te gaan, staan steeds vas. Dit is nou ook ’n goeie tyd om oor die moontlike impak van rentekoersverhogings op huishoudings en ondernemings te besin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae