Só beïnvloed jou persoonlikheid jou geldsake

geld-klein-geld-finansies

Argieffoto (Foto: Pexels.com/Pixabay)

Jou persoonlikheid beïnvloed jou inkopiegewoontes, die manier hoe jy oor geld dink en dit bestuur, sê Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder van die persoonlike finansieswebwerf JustMoney.

“Jou vrese, onsekerhede, hanteringsmeganisme en fantasieë word alles weerspieël in die manier hoe jy jou persoonlike finansies bestuur. Daar is mense wat spaarsamig met hulle geld werk, ander is spandabelrig en gee dan geld uit sonder om mooi daaroor te dink,” sê Anthony.

Deur jouself beter te verstaan kan jy fokus op dit wat vir jou belangrik is. Dit kan ook help om jou eie gedrag te bestuur en persoonlike finansiële doelwitte te bereik.

“Hoe gouer jy begin om na jou finansiële welstand om te sien, hoe beter is jou kanse om die lewenstyl te bou wat jy hoop om te bereik.”

Anthony identifiseer ses persoonlikheidstipes. Elkeen verskil in die manier hoe daar met geld gewerk word. Herken jy jou inkopiegedrag in een van die beskrywings hieronder?

Spandeerder

Jy geniet dit om jouself en jou geliefdes te bederf, asook die jongste uitvindsels en modieuse klere te koop; jy het voor die Covid-19-pandemie gereeld gereis en jy knap elke nou en dan gerieflikheidshalwe jou huis op. Familie en vriende ken jou waarskynlik vir jou innemende persoonlikheid, styl en vrygewigheid.

Dit is egter belangrik om ook langtermynbeplanning te doen en die toekoms in gedagte te hou. Is groot items soos jou huisinhoud, eiendom en motor verseker? Het jy ongeskiktheidsdekking vir wanneer jy weens siekte of besering nie kan werk om ʼn inkomste te verdien nie? Watter plan het jy vir jou aftrede?

Opgaarder

Jy is bekommerd oor geld en is teësinnig om dit te spandeer. Selfs wanneer jy ʼn aansienlike bedrag gespaar het, is jy bang dat dit nooit genoeg sal wees nie, of dat jy enige oomblik alles kan verloor. Miskien het jy in omstandighede grootgeword waar die sente altyd omgedraai moes word.

Hoewel jy genoeg geld weggesit het om jou deur ʼn noodgeval te dra, beperk jou natuurlike versigtigheid en gedrag die groeipotensiaal van jou geld. Oorweeg dit om objektiewe raad by ʼn betroubare finansiële raadgewer te kry wat jou met ʼn behoeftebepaling sal help. Die raadgewer sal dan voorstelle maak en jou help om die bes moontlike beleggings te maak.

Lener

Jy sukkel om rekeninge te betaal, kan nie tred hou met jou skuldeisers nie, en dalk is daar ʼn skuldinvorderaar op jou spoor. Jy moet waarskynlik betalingsvoorwaardes met krediteure onderhandel, of meer drastiese maatreëls tref. Dit is geensins voordelig om jou in so ʼn situasie te bevind nie, maar gelukkig is daar hulp beskikbaar. Doen deur finansiële instellings of skuldberadingsmaatskappye aansoek om skuldberading of -konsolidasie.

Dobbelaar

Jy raak in ekstase oor aanlyn casino’s, sportweddenskappe en wedrenne. Die gedagte daaraan om ʼn risiko ter wille van vinnige, groot oorwinnings te neem, maak jou geweldig opgewonde. Terwyl sommige mense hulle dobbelgewoontes in toom hou, vermy ander moontlik angs, verveling en depressie. Dobbelary kan ʼn verslawing word, wat groot skuld en vervreemding van jou geliefdes tot gevolg het.

Koper

Jy hou daarvan om winskopies te soek, jy skakel in by lojaliteitsprogramme en trek voordeel uit verkope en spesiale aanbiedinge. Hoewel dit dalk goed is vir jou huishoudelike begroting, is jy dalk ʼn angstige en skuldige inkopieslaaf wat kompulsief koop en kredietkaartrekeninge wegsteek.

Belegger

ʼn Goeie belegger het duidelike doelwitte, geduld, dissipline en kennis. Iemand wat pas begin het, sal waarskynlik by kitsrykwordskemas betrokke raak. Hierdie skemas is soos advertensies wat beloof om jou in ʼn naweek ʼn suksesvolle handelaar te maak. Vermy sulke skemas, spaar eerder daardie geld en belê dit by ʼn vertroude finansiële handelsmerk.

Anthony sê ten slotte dat hoewel jy nie jou geldpersoonlikheid oornag kan verander nie, stel selfkennis jou in staat om op jou sterkpunte voort te bou en jou blindekolle aan te pak. “Jy sal beter gerat wees om jou lewens- en finansiële doelwitte te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.