300 km te voet om huweliksherdenking te vier

Riaan op pad na Agulhas se vuurtoring – die 300 km-roete is nou feitlik voltooi. (Foto: Verskaf)

ʼn Staptog van 300 km oor 16 dae om hul 30ste huweliksherdenking te vier – 10 km vir elke jaar. Dit was die keuse van ʼn egpaar van Malmesbury in die Wes-Kaap. Die voorbereidings van hierdie pelgrimstog was allermins ʼn kwessie van ‘kry jou skoene en val in die pad’, berig Sarie Marais-Nell.

Niemand van hul trougaste sou kon voorspel dat Riaan en Marilizé Crafford presies 30 jaar na hul troudag weer voor hul troukerk, die Presbiteriaanse kerkie in Stellenbosch, sou staan nie – gestewel en gespoor om die 300 km tussen Stellenbosch en Agulhas te voet aan te pak.

Riaan en Marilizé op hul troudag voor Stellenbosch se Presbiteriaanse kerkie (links) en die paartjie 30 jaar later, kort voor hulle vertrek op hul staptog na Agulhas. (Foto: Verskaf)

Op 29 September was daar slegs die noodsaaklikste items in hul rugsakke – twee stelle klere, poncho’s teen die reën, eetgoed vir die dag, water en basiese noodhulpmiddels. Plus twee klippies in Marilizé se rugsak en ʼn klippie in Riaan s’n, elk met ʼn naam daarop: die name van spesiale mense in hulle lewe wat hulle in hul harte en rugsakke wou saamdra. Riaan se klippie was vir ʼn vriend wat sedert graad 2 die pad saam met hom stap. Marilizé het twee ekstra gewiggies saamgedra ter wille van twee spesiale mense wat groot uitdagings ondervind om te stap en sonder pyn te beweeg. Die klippies moes haar herinner aan die groot voorreg wat sy het om gesond genoeg te wees om te kan stap.

Op dag 1 het Riaan en Marilizé eers deur hul studentedorp se gunstelingstrate gestap en vinnig by die laaste groot winkel ingehop voor hulle oor die pragtige ou Helshoogtepas stap.

Hierna het hulle eintlike avontuur begin: Die aanpak van hoofsaaklik stiller roetes sodat hulle die natuur kon geniet; die aandoen van kultuurryke plekke waar motoriste selde stop en die ontmoet van doodgewone, gasvrye Wes-Kapenaars wat kan vertel van die geskiedenis tot hier. “Dit het ons kans gegee om ʼn klompie dae lank te reis tussen tradisie, natuur en kultuur; en tussendeur ook stil te raak met ons eie gedagtes.”

Hulle het die roete gevolg soos aanbeveel deur Stellenbosch Communitas se boekie Pelgrimstog van Hoop, ʼn uitgetoetste handleiding vir pelgrimstappers.

“Ons het ongeveer 20 km per dag gestap. Dit het ons kans gegee om namiddae te stort, ʼn bietjie te rus en laatmiddag weer ʼn entjie te stap om stywe spiere te kalmeer.”

Die natuur het met sy mooiste lenteprentjies gespog terwyl hulle gestap het deur Pniël, Franschhoek, langs Theewaterskloofdam, Villiersdorp, Genadendal, Hemel-en-Aarde, Hermanus, Wortelgat, Gansbaai, Baardskeerdersbos, Elim en Springfield –  plekke waarvan baie Suid-Afrikaners bloot lees.

“Ons het dierbare mense ontmoet wanneer ons vertoef het vir tee of etes of oorslaap; ons kon kuslangs walvisse en sandsteenformasies sien, ons het naby Hermanus geëet in ʼn restaurant wat in ʼn grot teen die see gebou is, ons kon in blomtyd deur reservate stap en het – geluk bo geluk – net op die laaste dag swaar reën gekry.

“Op 10 Oktober, ons huweliksherdenkingsdag, terwyl ons naby Gansbaai kuslangs stap, kry ons ʼn wonderlike geskenk van Bo toe ʼn walviskoei en -kalf vir ons ʼn vertoning gee. Hulle was so naby, ons kon hulle hoor blaas.

“Op ons laaste stapdag langs ʼn verlate stuk strand, het ons druipnat gereën. Ons gaan soek toe ʼn afdak by ʼn klein huisie; dit was ons enigste moontlike skuiling. Toe ons aan die deur klop, maak ʼn vroutjie oop. Sy het eers vreeslik geskrik vir hierdie onbekende gesigte, maar ons ingenooi en koffie gemaak.”

Hierdie vrou uit Zimbabwe en haar man was kort tevore teikens van vreemdelingehaat, vandaar haar verskriktheid. “Sy het koffiewater op haar primusstofie gekook – dié lekkerste Ricoffy wat ons nog ooit gedrink het. Sy was regtig ʼn engel op ons pad. Ek en sy gesels deesdae per WhatsApp,” vertel Marilizé.

Toe die paartjie 300 km later hul doel – Agulhas, die suidpunt van Afrika – bereik, laat weet hulle hul vriende wat per WhatsAppgroep ‘saamtoer’: “Ons sit nou met ons voete omhoog in vriende se gastehuis in Agulhas. Ons het gemengde gevoelens: Enersyds verlig en dankbaar dat ons dit gemaak het sonder enige probleme met voete of knieë. Maar ook hartseer dat hierdie groot en heerlike avontuur verby is.”

Anderkant Grottostrand, net voor hulle tussen fynbos deur stap na Wortelgat, staan hierdie kruis met die Pelgrimstogbordjie daarop. (Foto: Verskaf)

Was alles dan net voorspoedig? “Daar was moeiliker dae, veral as opdraandes nooit wou ophou nie. En: Wat ʼn berg mens leer, is dat jy nooit bo is wanneer jy dink jy is bo nie.

“Daar was toegegroeide, steil voetpaadjies en harde lesse op sandduine. Maar daar was ook stilte, jangroentjies, die oorgang van vrugteboorde na kanola op die golwende Overberg-heuwels, ʼn kwarteltjie wat uit die lang gras skrik, bloukraanvoëls wat hoog in die lug vlieg en ʼn bruinjakkalsvoël in vlug.

“Danksy maandelange voorbereiding kon ons blase op ons voete, vroeëre kniebeserings en ʼn gekoes teen muggie-plae voorkom,” verduidelik hulle.

“Dit het wel gehelp om – wanneer die spiere en bene op ʼn kwaai stapdag begin pla – te weet ons het vooraf bespreek by plekke waar ons warm kan stort, aandete kry en in ʼn sagte bed slaap,” vertel Marilizé.

Wanneer hulle terugkyk op 300 km van Wes-Kaapse mooi; waar hulle nooit onveilig gevoel het nie en hartlike gasvryheid geniet het, onthou Riaan: “Ek was so beïndruk met die eenvoudigheid en slegs basiese middele waarmee ʼn mens kan leef. ”

“In Pniël het ons by Oom Solly ongelooflike verhale uit sy kinderjare gehoor; hy sou die volgende dag 80 word. Die oorslaap op plase en vriendelike Elim en ons aand op Springfield, waar Dalene Matthee se laaste boek afgespeel het, was ook baie spesiaal.”

Marilizé beskryf dit as ʼn ondervinding buite die gemaksone; iets lekkers om saam met Riaan te kon aanpak. “Toe ons twee kinders ons by Agulhas inwag, was die oorweldigende besef net ‘Sjoe, ons het dit gedoen!’.

“Ons het geleer daar is groot waarde om jou oop te stel vir ander mense en te deel in hul stories. Ons wil graag voortgaan om dit te doen, in ons dorp, maar ook oral waar ons met vreemdes te doen kry.”

Op ʼn geestelike vlak het Riaan besef die reis en die eindbestemming is ewe belangrik. Die eindbestemming gee jou ʼn doel en betekenis aan die reis. Die reis gee jou die belewenis en die uitdagings, oorwinnings en vreugdes om jou doel te bereik.

*ʼn Pelgrimstog is ʼn unieke geestelike dissipline wat uit antieke tye kom. Hierdie togte is ʼn eeue-oue gewoonte van Christene uit verskillende tradisies. Vandag is daar wêreldwyd weer ʼn toename in gewildheid van pelgrimstogte – Bron: Pelgrimstog van Hoop.

Besoek www.pelgrimstogvanhoop.com of pelgrimstog op Facebook vir meer inligting oor dié Communitas-handleiding.

Riaan en Marilizé. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.