Akademia vier prestasies van inperkingstudente

Akademia het op 20 Mei die uitnemende akademiese prestasies van verlede jaar tydens ʼn spoggeleentheid by die Atterbury Teater in Pretoria erken. (Foto: Verskaf)

Akademia het Donderdag die uitnemende akademiese prestasies van verlede jaar tydens ʼn spoggeleentheid by die Atterbury-teater in Pretoria erken.

Weens Covid-19-regulasies is kwalifikasies vroeër vanjaar in absentia oorhandig, maar die hoëronderwysinstelling het besluit om steeds ʼn deftige geleentheid op ʼn kleiner skaal te hou om dié groot mylpaal in die afgestudeerde studente se lewe te vier. Altesaam 96 prestasies is tydens die geleentheid erken.

Liana Venter, registrateur by Akademia, meen dat die afgestudeerde studente van 2020 se prestasies nie ongesiens verbygegaan het nie. “Ons weet dat daar baie deursettingsvermoë, harde werk en ure in studies geploeg is – veral gegewe die onsekere tye waarin ons onsself bevind. Daarom is dit belangrik dat ons vir ʼn oomblik stilstaan om hierdie kwalifikasies, en veral topprestasies, te vier.”

Die instelling se laaste groep Elitebeursstudente, wat die Elitebeursprogram aan die einde van 2019 voltooi het, het ook welverdiende erkenning tydens die geleentheid ontvang vir die sukses wat hulle met die program behaal het. Dié groep studente het oor drie jaar verskeie vereistes gehad waaraan hulle moes voldoen, en het alle verwagtinge oortref en die program op ʼn hoë noot afgesluit.

Akademia se bestuur en direksielede tydens die erkenningsgeleentheid. (Foto: Verskaf)

“Al is vandag se glansgeleentheid nie ʼn formele kwalifikasieplegtigheid nie, en kon slegs ʼn beperkte aantal mense dit bywoon, is dit steeds ʼn reusevoorreg om te midde van Covid-19-protokol met togas oor die verhoog te stap om op ʼn simboliese wyse groei en ʼn blink toekoms te vier,” sê Venter.

Sy noem dat Akademia sowaar trots is op elkeen wat kwalifikasies in 2020 voltooi het. “Ons wens vir hierdie afgestudeerde studente is om nooit ʼn uitdaging as te groot te beskou nie, want as jy so ʼn prestasie kon bereik in hierdie tye is jy beslis tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee.”

Akademia, as Afrikaanse private hoëronderwysinstelling, lê klem daarop om studente vakkundig te onderrig asook holisties te vorm.

“Daarom glo ons dat ons nuwe alumni-lede ten volle toegerus is om met hierdie opleiding en opvoeding rentmeesters te wees in die gemeenskappe waar hulle geplant is. Ons sien daarna uit om binnekort van suksesvolle loopbaanstories te hoor waar hulle ʼn wesenlike verskil maak,” sluit Venter af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.