Beplan jou langnaweke só in 2022

(Foto: Camille Brodard/Unsplash)

Suid-Afrikaners kan met ʼn paar slim verlofskuiwe vanjaar ʼn hele paar geleenthede vir blaaskanse oor ʼn langnaweek skep.

Die eerste langnaweek is sommer reeds om die draai met Menseregte dag wat op Maandag 21 Maart val. Hier kan jy jou vere reg skud vir ʼn ware driedagnaweek.

ʼn Bietjie minder as ʼn maand later breek Paasnaweek aan met Goeie Vrydag op Vrydag 15 April en Gesinsdag op 18 April. Talle Suid-Afrikaners gebruik die naweek as ʼn tyd om weg te breek saam met geliefdes, so beplan sommer nou al die tyd wat jy op die pad gaan deurbring.

Daarna kan jy sommer gou weer uitsien na nog ʼn amptelike langnaweek met Werkersdag wat op Sondag 1 Mei plaasvind. Volgens die Wet op Openbare Vakansiedae word vakansiedae wat op Sondae val oorgedra word na die daaropvolgende Maandag. Daarom kan jy uitsien na ʼn veel rustiger Maandag om Meimaand mee af te skop.

Jeugdag (16 Junie) val vanjaar op ʼn Donderdag en sou jy die Vrydag verlof neem kan dit jou ʼn heerlike naweek van vier dae besorg.

In die tweede helfte van die jaar kan jy dieselfde doen met Nasionale Vrouedag (Dinsdag 9 Augustus) as jy verlof sou neem op Maandag 8 Augustus.

Versoeningsdag val op Vrydag 16 Desember en dit beteken die feesseisoen begin met ʼn heerlike langnaweek waarna die mense met min verlof kan uitsien. Nog ʼn langnaweek lê voor met Welwillendheidsdag wat op Maandag 26 Desember val. Nuwejaarsdag val op Sondag 1 Januarie 2023, wat beteken dat Maandag 2 Januarie 2023 ook ʼn openbare vakansiedag sal wees.

Vir ʼn volledige lys van openbare vakansiedae, lees hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.